Gaan na inhoud

Windhoek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Windhoek • Windhuk
OtjomuiseǀAi-ǁGams

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Namibië Namibië
 Streek Khomas
 Koördinate 22°34′S 17°5′O / 22.567°S 17.083°O / -22.567; 17.083
 Stigting (deur Jonker Afrikaner) 1840
 Herstig op (deur Curt von François) 18 Oktober 1890
 Stadsregte 18 Oktober 1965
 Oppervlakte:  
 - Totaal 5 133 km²
 Hoogte bo seevlak 1 655 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2023) 486 169[1]
 - Bevolkingsdigtheid 95/km²
 Tydsone SAST (UTC+2)
 Klimaat  
 - Tipe Halfdroë klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 19,1 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 23,3 / 13,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 367,4 mm
 Burgemeester Queen Kamati (SWAPO)
 Amptelike webwerf Windhoek

Windhoek (Duits: Windhuk, ; Engels: Windhoek, [wɪndhʊk]; Herero: Otjomuise, letterlik: "plek van stoom"; Nama: ǀAi-ǁGams) is die sentraalgeleë hoofstad van Namibië en lê in die Khomashoogland. Die stad is ongeveer 1 655 m bo seespieël en volgens die 2023-sensus het dit 'n bevolking van 486 169 gehad.

Windhoek se stadsentrum met die Christuskerk gesien vanaf die Onafhanklikheidsmuseum

Die stad het ontstaan by die plek van 'n permanente warmwaterbron wat bekend was aan die plaaslike herderstamme. Dit het spoedig ontwikkel nadat Jonker Afrikaner, kaptein van die Oorlam, hom daar gevestig en 'n steenkerk vir sy gemeenskap opgerig het. In die daaropvolgende dekades het talle oorloë en gewapende vyandelikhede gelei tot die verwaarlosing en vernietiging van die nuwe nedersetting. In 1890 is Windhoek herstig deur die Keiserlike Duitse leër-majoor Curt von François, toe die gebied deur die Duitse Keiserryk gekoloniseer is en dit die hoofstad van Duits-Suidwes-Afrika geword het. Tussen 1920 en 1990 was die stad die administratiewe sentrum van Suidwes-Afrika in die Unie van Suid-Afrika en is sedert die onafhanklikheidwording van Namibië op 21 Maart 1990 die hoofstad.

Windhoek is die sosiale, ekonomiese, politieke en kulturele sentrum van die land. Byna elke Namibiese nasionale onderneming, regeringsliggaam, opvoedkundige en kulturele instelling het sy hoofkwartier in die stad.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die Afrikaanse naam "Windhoek" is afgelei van winderige hoek; die Khoekhoegowab-naam ǀAe-ǁGams beteken "warmbron" en verwys na die voormalige warmwaterbronne in die streek. Die Otjiherero-naam van die stad Otjomuise beteken "plek van rook". Ander voormalige stadsname is Queen Adelaide’s Bath (deur James Edward Alexander), Barmen (deur Carl Hugo Hahn van die Rynse Sendinggenootskap), Concordiaville (volgens Joseph Tindall van Metodisme) en Wind Hoock (deur Jan Jonker Afrikaner).[2] Volgens 'n teorie het kaptein Jonker Afrikaner Windhoek genoem na die Groot-Winterhoekberge by Tulbagh in Suid-Afrika, waar sy voorsate gebly het. Die eerste bekende verwysing na die naam Windhoek was in 'n brief deur Jonker Afrikaner aan Joseph Tindall wat dateer op 12 August 1844.[3]

Aan die begin van die Duitse koloniale bewind is die skryfwyses Windhuk en Windhoek ewe gebruik. Deur Theodor Leutwein se regeringsbevel wat op 14 Mei 1903 in werking getree het, het Windhuk die enigste amptelike naam geword. Ná die Suid-Afrikaanse verowering is in 1918 die amptelike naam in Windhoek verander, terwyl Duits een van die ampstale gebly het. In die Duitse taalgebruik buite Namibië word steeds die skryfwyse Windhuk gebruik. Dit word ook amptelik deur die Duitse Buitelandse Kantoor gebruik.[4]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë nedersetting

[wysig | wysig bron]
Windhoek aan die einde van die 19de eeu
Windhoek tydens die Duitse koloniale tyd, voor 1908
Seëls vir die Duits-Suidwes-Afrika geposmerk Windhuk
Die Christuskerk en Ruiterstandbeeld in Windhoek dateer uit die Duitse koloniale tydperk, maar die gedenkteken is einde 2013 verwyder[5]

In 1840 het Jonker Afrikaner 'n Oorlam-nedersetting by Windhoek gestig.[6] Sy en sy volgelinge het naby een van die hoofwarmwaterbronne gebly, geleë in die huidige voorstad Klein Windhoek.[7] Hy het 'n steenkerk opgerig met plek vir sowat 500 mense; dit is ook as 'n skool gebruik. Twee Rynse sendelinge, Carl Hugo Hahn en Franz Heinrich Kleinschmidt, het laat in 1842 daar begin werk. Twee jaar later is hulle verdryf deur twee Metodistiese, Richard Haddy en Joseph Tindall.[8][9] Tuine is aangelê en Windhoek het vir 'n rukkie floreer. 'n Reeks oorloë tussen die Namas en Herero's het uiteindelik die nedersetting verwoes. Na 'n lang afwesigheid het Hahn in 1873 Windhoek weer besoek en hy was ontsteld van die feit dat niks van die stad se voormalige welvaart oorgebly het nie. In Junie 1885 het 'n Switserse plantkundige slegs jakkalse en verhongerde tarentale tussen verwaarloosde vrugtebome gevind.[10]

Koloniale tydperk

[wysig | wysig bron]

'n Versoek deur handelaars uit Lüderitzbaai het gelei tot die 1884-verklaring, waarin 'n Duitse protektoraat oor die latere Duits-Suidwes-Afrika (Deutsch-Südwestafrika) gestig is, die huidige Namibië. In 1890 is die Duitse kolonie se grense bepaal en die Duitse Keiserryk het 'n beskermkorps, die Schutztruppe onder majoor Curt von François ontplooi om orde te handhaaf.[11] Von François het sy garnisoen gestasioneer in Windhoek wat strategies geleë was in 'n buffer tussen die strydende Namas en Herero's.[12] Die twaalf sterk fonteine het water voorsien vir die verbouing van produkte en graan.

Die koloniale Windhoek is gestig op 18 Oktober 1890, toe Von François die fondamentsteen aan die fort aangebring het, nou bekend as die Alte Feste (Ou Fort).[13][14] Ná 1907 het die ontwikkeling versnel nadat inheemse mense van die platteland hulle in die groeiende stad gevestig het op soek na werk. Meer en meer Europese setlaars het uit Duitsland en Suid-Afrika aangekom. Besighede is opgerig langs die Kaiserstraße (nou die Onafhanklikheidslaan) en langs die dominante bergrug oor die stad. Teen hierdie tyd is ook Windhoek se drie kastele, Heinitzburg, Sanderburg en Schwerinsburg, deur Wilhelm Sander gebou. Die Duitse koloniale owerheid het baie geld aan die ontwikkeling van die stad bestee en vandag nog huisves dit pragtige geboue uit die Duitse koloniale tydperk soos die Christuskerk en die Tintenpalast (letterlik "Inkpaleis"). Die Duitse atmosfeer, vermeng met talle ander kulturele elemente, leef tot vandag toe voort en dit is vandag die tuiste van die enigste Duitse dagblad in Afrika, die Allgemeine Zeitung en 'n groot Duitse privaatskool, die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS).

Suid-Afrikaanse administrasie ná die Eerste Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]

Ná die Eerste Wêreldoorlog in 1918 het die Duitse koloniale bewind in Duits-Suidwes-Afrika tot 'n einde gekom, nadat dit saam met Windhoek tydens die Suidwes-Afrika-veldtog reeds in 1915 deur die Unie van Suid-Afrika verower is.[15] Tot en met die einde van die oorlog is die stad geadministreer deur 'n Suid-Afrikaanse militêre regering, waarvolgens geen verdere ontwikkeling plaasgevind het nie.[16] In 1920 is die gebied luidens die Verdrag van Versailles as 'n Volkebondmandaat onder Suid-Afrikaanse beheer geplaas.[17]

Ná die Tweede Wêreldoorlog was meer kapital beskikbaar om die gebied se ekonomie te verbeter. Ná 1955 is groot openbare projekte aangepak soos die oprigting van nuwe skole en hospitale, die teer van die stad se paaie ('n projek wat in 1928 met die Kaiserstraße begin is) en die bou van damme en pyplyne om die watertoevoer te stabiliseer.[10] In 1958 het die stad die wêreld se eerste drinkwaterbehandelingsaanleg in gebruik geneem, wat rioolwater herwin en dit direk in die stad se watervoorsiening gelei het.[18] Op 1 Oktober 1966 het die destydse administrateur van Suidwes-Afrika aan Windhoek die gebruik van 'n wapen toegestaan, wat op 2 Oktober 1970 by die Buro vir Heraldiek geregistreer is. Oorspronklik was 'n gestileerde aalwyn die hoofembleem, maar dit is op 15 September 1972 in 'n natuurlike aalwyn verander (Mopanie-aalwyn). Dit word beskryf as "'n Windhoekse aalwyn met 'n tros van drie blomme op 'n eiland. Helmteken: 'n Muurkroon in heraldiese goud. Leuse: SUUM CUIQUE ("Ieder sy eie")".[19]

Op 18 Oktober 1965, ter geleentheid van Windhoek se 75ste herstigtingsdag deur Von François, is amptelik stadsregte toegeken.[20] Een jaar later het die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog tussen SWAPO en Suid-Afrika uitgebreek nadat die Verenigde Nasies die Suid-Afrikaanse regering van sy mandaat ontneem het.[21] In 1971 het die Namibiese algemene kontrakwerkersstaking in Windhoek begin ten einde om die kontrakarbeidstelsel te beëindig, apartheid teen te staan en Namibiese onafhanklikheid te bevorder.[22]

Sedert Namibiese onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Met Namibiese onafhanklikwording in 1990 het Windhoek die hoofstad asook die provinsiale setel van die sentrale Khomasstreek gebly. Sedert onafhanklikheid en die einde van oorlogvoering het die stad 'n spoedige groei en ontwikkeling ervaar. Vandag is Windhoek die opvoedkundige, administratiewe, handels-, nywerheids- en kommunikasiesentrum van die land. Die hoofstraat, Kaiserstrasse, is na onafhanklikheid herdoop na Onafhanklikheidslaan, so ook talle ander strate na vryheidsvegters en Afrikaleiers. Die huidige geskatte bevolking beloop 316 000 (volgens World Gazetteer).

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Lugfoto van sentrale Windhoek, die ekonomiese sentrum van Namibië

Die stad is die administratiewe, kommersiële en industriele sentrum van Namibië. Volgens 'n 1992/93-studie verskaf Windhoek meer as die helfte van die Namibiese nielandbou-werksgeleenthede, sy nasionale aandeel aan indiensneming in nutsdienste is 96%, in vervoer en kommunikasie 94%, finansies en besigheidsdienste 82%.[23] Weens die stad se relatiewe grootte[24] is Windhoek in alle opsigte die sosiale, ekonomiese en kulturele sentrum van die land. Feitlik elke nasionale onderneming se hoofkantoor, die Universiteit van Namibië, asook die land se enigste teater en alle groot media en finansiële liggame is hier gesetel.[25] Die Stad Windhoek se begroting is naastenby gelyk aan al die ander Namibiese plaaslike owerhede saam.[26] Ondanks die klein aandeel van die Duitstalige bevolking is 'n groot aantal maatskappye in besit van die nasate van Duitse immigrante. Weens die noue ekonomiese bande met Suid-Afrika speel ondernemings uit die RSA 'n baie groot rol in die land. Die hoofkantoor van Air Namibia is in die TransNamib-gebou in Windhoek geleë.[27] Verskeie winkelsentrums is in die post-onafhanklikheidsera gebou, waaronder Maerua en Wernhillpark. Van die 3 300 VS$-miljoenêrs in Namibië leef 1 400 in Windhoek.[28]

Vervoer

[wysig | wysig bron]
Onafhanklikheidslaan

In 1928 was Kaiserstraße, nou Onafhanklikheidslaan die eerste geplaveide straat in Windhoek. Tien jaar later is die volgende een, Gobabisweg (nou Sam Nujoma-rylaan), ook geplavei. Vandag is ongeveer 5 000 km van sowat 40 000 km se paaie in Namibië geseël.

Windhoek se drie hooftoegangsroetes van Rehoboth, Gobabis en Okahandja is geteer en is ontwerp om die grootste moontlike vloede wat in 50 jaar verwag word, te kan weerstaan. Geseëlde paaie kan verkeer dra wat teen snelhede van 120 km/h beweeg en behoort vir 20 jaar te hou.

In 2014 het die Padowerheid beplan om die Windhoek-Okahandja-pad na 'n dubbelbaansnelweg op te gradeer. Dit sou sowat N$1 miljard kos en teen 2021 voltooi wees. Later het hulle ook beplan om die Windhoek-Hosea-Kutako-lughawe-pad na 'n dubbelbaansnelweg op te gradeer. Dit sou teen 2022 voltooi wees.

Huurmotors is geredelik beskikbaar en word maklik uitgeken in die stad met tekens wat bestaan uit een letter en soveel as drie syfers (byvoorbeeld T681, T68, T1). Soos oral in Namibië is openbare vervoer skaars en maak die vervoer in die stad staat op taxi's; daar was in 2013 6 492 geregistreerde taxi's in Windhoek.[29]

Lugvervoer

[wysig | wysig bron]

Windhoek word bedien deur twee lughawens. Die naaste is Eros 7 km suid van die middestad vir kleiner vliegtuie, en Hosea Kutako Internasionale Lughawe 42 km ten ooste van die stad. 'n Aantal buitelandse lugrederye vlieg na en van Windhoek. Huurvlugte en helikopters is ook beskikbaar.

Windhoek Internasionale Lughawe (WDH)

[wysig | wysig bron]
Lugbeeld van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe

Hosea Kutako Internasionale Lughawe, 42 km oos van Windhoek hanteer sowat 800 000 passasiers per jaar. Dit het een aanloopbaan sonder kapasiteitsbeperkings. Ander internasionale lughawens is in Lüderitz, Ondangwa en Walvisbaai. Daagliks vlugte vertrek na Frankfurt in Duitsland en Johannesburg, die spil waarom Suider-Afrika se lugverkeer draai, is twee uur per vliegtuig daarvandaan, vanwaar daar na meer as 50 stede gevlieg kan word. Tot hul bankrotskap het die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Air Namibia daaglikse vlugte na WDH gevlieg, met TAAG Angola Airlines wat steeds twee-weekliks na en van Luanda vlieg.

Eros-lughawe

[wysig | wysig bron]

Eros-lughawe is die besigste lughawe in Namibië in terme van vliegtuie wat opstyg en land.[30] Hierdie lughawe hanteer ongeveer 150 tot 200 bewegings per dag wat op sowat 50 000 individuele vlugte per jaar beloop. 2004 het die lughawe 141 605 passasiers bedien, waarvan die meeste ligte vliegtuie is. Beperkings soos die lengte van die aanloopbaan, geraas en lugruimopeenhoping het Eros daarvan weerhou om in 'n groter lughawe te ontwikkel. Die meeste van Namibië se huuroperateurs is by Eros gebaseer.

Spoor

[wysig | wysig bron]
Windhoekstasie

Windhoek is per spoor verbind met:

Geografie

[wysig | wysig bron]
Nasa-satellietbeeld van Windhoek

Die stad is die hoofkommersiële en finansiële sentrum van Namibië. Dit is geleë op 'n hellende vlakte op die noordelike kant van die Khomashoogland op 'n hoogte van 1 655 meter.

Om die stadsgebied uit te brei is 'n uitdaging op finansiële vlak en weens die geografiese ligging van die stad. In die suidelike, oostelike en westelike rigting word Windhoek omring deur rotsagtige, bergagtige areas wat grondontwikkeling baie duur maak. Die suidelike kant is nie geskik vir industriële ontwikkeling nie omdat daar ondergrondse waterdraers teenwoordig is. Dit laat die uitgestrekte brakwaterarea noord van die stad as die enigste haalbare plek vir die uitbreiding van Windhoek.[31]

Die Windhoekse stadsaal beplan om die stad se grense drasties te vergroot sodat die stad 'n oppervlakte van 5 133,4 km² sal beslaan. Daarmee sal Windhoek ná Tianjin en Istanboel die wêreld se derde grootste stad word, alhoewel sy bevolkingsdigtheid slegs 95/km² is.[32]

Voorstede

[wysig | wysig bron]
Ligging van die 30 voorstede van Windhoek

Windhoek is in 30 verskeie voorstede verdeel:

C- Windhoek-sentraal (Windhoek Sentrale Sakekern)

  1. Academia
  2. Auasblick
  3. Avis
  4. Cimbebasia
  5. Dorado Park
  6. Eros
  7. Eros Park
  8. Goreangab
  9. Hakahana
  10. Hochland Park
  11. Lafrenz-nywerheidsgebied
  12. Katutura
  13. Khomasdal
  14. Klein Windhoek
  15. Kleine Kuppe
  1. Ludwigsdorf
  2. Luxushügel
  3. Windhoek-Noord
  4. Noordelike Industriegebied
  5. Okuryangava
  6. Olympia
  7. Otjomuise
  8. Pionierspark
  9. Prosperita
  10. Rocky Crest
  11. Suidelike Industriegebied
  12. Suiderhof
  13. Universiteit van Namibië
  14. Wanaheda
  15. Windhoek-Wes

In baie van Windhoek se townships woon inwoners in plakkershutte. In 2020 het die stad 'n totaal van 41 900 van hierdie informele behuisingstrukture getel wat byna 100 000 inwoners gehuisves het.[33]

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Klimaatdiagram van Windhoek
'n Deel van Windhoek
Reënseisoen in Windhoek

Windhoek is geleë in 'n halfwoestynagtige klimaatsgebied. Dae is meestal warm met baie warm dae gedurende die somermaande met aande wat oor die algemeen koel is. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 19,47 °C, wat hoog is vir 'n plek wat op so 'n hoë hoogte lê op die rand van die trope.[34] Dit is hoofsaaklik weens die voorkoms van 'n warm noordelike lugvloei en die berge ten suide wat die stad teen koue suiderwinde beskut. Die wintermaande van Junie, Julie en Augustus kry gewoonlik min tot geen reën nie. Minimumtemperature wissel tussen 5 °C en 18 °C. Aande is gewoonlik koel maar die temperatuur val selde tot onder 0°C en dit sneeu amper nooit nie. Dae is gewoonlik warm en wissel tussen maksimumtemperature van 20 °C en 31 °C in Januarie. Die gemiddelde jaarlikse reënval is ongeveer 360 mm, wat te laag is om gewasse te kweek of om tuine in stand te hou sonder om baie water te gebruik. Die natuurlike plantegroei is struike en steppe. Droogtes kom gereeld voor.

Windhoek het meer as 300 sonskyndae per jaar.[35] Volgens Köppen het die stad 'n warm halfdroë klimaat (BSh), aangesien die gemiddelde jaarlikse temperatuur bo 18 °C is. Die temperature regdeur die jaar is mild weens die hoogte-invloed. Die jaarlikse temperatuurverskil tussen die hoogste en koudste temperatuur is 13,4 °C. Julie is die koudste maand met 'n gemiddelde temperatuur van 13,1 °C, terwyl Desember die warmste maand is met 'n gemiddelde temperatuur van 23,5 °C. Weens sy ligging naby die Kalahariwoestyn ontvang die stad 3 605 sonskynure. Neerslag is volop in die somerseisoen en minimaal in die winterseisoen. Die gemiddelde jaarlikse neerslag is 367,4 mm met laagtepunte van 106,7 mm in die 2018/19-reënseisoen en 97 mm in 1929/30.[36]

Weergegewens vir Windhoek, Namibië
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 36,0 35,8 34,9 31,3 31,8 26,1 25,7 30,0 33,2 35,1 36,5 36,6 36,6
Gemiddelde maksimum (°C) 30,0 28,6 27,2 25,6 22,7 20,2 20,5 23,4 26,5 29,1 29,6 30,7 26,1
Gemiddelde temperatuur (°C) 23,3 22,1 21,0 18,9 15,8 13,2 13,1 15,8 19,3 21,7 22,5 23,5 19,1
Gemiddelde minimum (°C) 17,2 16,5 15,4 12,8 9,2 6,7 6,3 8,6 11,9 14,6 15,6 16,9 12,7
Laagste minimum (°C) 7,5 6,8 3,7 2,4 −1,6 −2,8 −2,6 −3,9 −1,1 1,6 0,4 3,3 −3,9
Neerslag (mm) 78,1 80,3 78,7 37,7 6,6 1,2 0,7 0,9 2,8 11,8 26,9 41,7 367,4
Sonskynure (u/d) 8,7 8,0 8,1 9,4 9,7 9,9 10,0 10,3 10,1 10,0 10,0 10,2 9,5
Reëndae (d) 11,1 10,7 10,5 5,5 1,9 0,7 0,5 0,3 0,9 2,8 5,3 7,5 57,7
Humiditeit (%) 42 56 51 44 37 32 27 19 17 22 30 34 34,1
Bron: Deutscher Wetterdienst,[37] Deense Meteorologiese Instituut (slegs son)[38]

Demografie

[wysig | wysig bron]

In 1971 was daar ongeveer 26 000 blankes in Windhoek teenoor 24 000 swartes. Ongeveer een derde van daardie blankes (9 000) was van 'n Duitse oorsprong.[39] Tans staan Windhoek se bevolking op 325 858 (65% swart, 17% blank, 17% kleurlinge, Basters en Asiate) en groei met ongeveer 4% jaarliks met die informele nedersettings wat teen ongeveer 10% per jaar groei.[31] In die openbare lewe word Afrikaans en in 'n minder mate Duits steeds as lingua francas gebruik, al gebruik die regering slegs Engels. Teen 2020 het Windhoek 'n bevolking van 431 000 gehad.[40]

Politiek

[wysig | wysig bron]

Plaaslike owerheidsverkiesings

[wysig | wysig bron]

Windhoek is die enigste selfregerende nedersetting in die Khomasstreek. Dit word regeer deur 'n veelparty munisipale raad met vyftien setels.[41] Die raad vergader maandeliks; sy besluite word eenparig geneem.

SWAPO het die plaaslike 2015-owerheidsverkiesing gewen en twaalf setels verwerf nadat hulle 37 533 stemme ontvang het. Drie opposisiepartye het een setel elk verower: Die Populêre Demokratiese Beweging (PDB), voorheen die DTA, met 4 171 stemme, die National Unity Democratic Organisation (NUDO) met 1 453 stemme en de Rally for Democracy and Progress (RDP) met 1 422 stemme.[42] SWAPO het ook die 2020-owerheidsverkiesing gewen, maar sy meerderheid in die stadsraad verloor. Hulle het 20 250 stemme ontvang en vyf setels verkry. Die Onafhanklike Patriotte vir Verandering (OPV), 'n opposisieparty wat in Augustus 2020 gestig is, het 14 028 stemme ontvang en vier setels verower. Twee setels elk het aan die plaaslike takke van die Affirmative Repositioning-beweging (8 501 stemme) en die Landless People's Movement (LPM, 'n nuwe party wat in 2018 geregistreer is, 7 365 stemme) gegaan. PDM (5 411 stemme) en NUDO (1 455 stemme) het een setel elk gewen.[43]

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Binnelands

[wysig | wysig bron]

Buitelands

[wysig | wysig bron]

Kultuur

[wysig | wysig bron]

Goethe-Institut

[wysig | wysig bron]
Die Goethe-Institut in Windhoek

Die Goethe-Institut is die enigste Duitse kultuursentrum in Namibië. Dit maak deel uit van 'n internasionale netwerk van altesaam 151 Goethe-sentra, Goethe-institute, kulturele verenigings en ander instellings wat deur die Federale Republiek Duitsland in 93 lande dwarsoor die wêreld onderhou word. In samewerking met die Namibies-Duitse Stigting bevorder die Windhoekse sentrum die kennis van die Duitse taal (taalkursusse word vir privaat persone en onderwysers aangebied) en interkulturele samewerking tussen Namibië en Duitsland. 'n Belangrike fokus is kulturele projekte wat huidige Namibiërs met die pynlike Duitse koloniale beleid van die verlede probeer versoen.

Naas kulturele programme bied die sentrum inligting oor die kulturele, maatskaplike en politieke lewe in Duitsland aan en onderhou 'n biblioteek. Sedert 2013 bied die Goethe-sentrum naas Duitse en Engelse ook Afrikaanse en Oshiwambo-taalkursusse aan.[46]

Windhoek is bekend as die kunshoofstad van Namibië. Die Nasionale Kunsgalery, Nasionale Teater en die Nasionale Museum is almal hier geleë. Twee plekke is deel van die Nasionale Museum:[47] die Alte Feste (histories) vertoon 'n reeks koloniale items soos waens en huishoudelike items, terwyl die Owela-museum (wetenskaplik; genoem na Owela, 'n tradisionele speletjie wat met klippies gespeel word) uitstallings bevat van minerale, fossiele en meteoriete en 'n insig gee in die tradisionele stadslewe. Daar is ook die Onafhanklikheidsmuseum, die Nasionale Biblioteek van Namibië en die Windhoek Openbare Biblioteek, gebou in 1925 en by die Alte Feste geleë.[48]

Godsdiens

[wysig | wysig bron]
Christuskerk
Sint Mariakerk

Die vernaamste gebedshuise is veral Christelike kerke en tempels: van die Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië, Evangelies-Lutherse Kerk in die Republiek van Namibië, Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië (DELK) (al drie is lede van die Lutherse Wêreldfederasie), Baptistekonvensie van Namibië (Baptiste-Wêreldalliansie), Assemblies of God, Rooms-Katolieke Aartsbisdom van Windhoek (Rooms-Katolieke Kerk).[49] Daar is ook 'n aantal Islamitiese moskees in die stad, insluitende die Windhoek Islamitiese Sentrum.

Sport

[wysig | wysig bron]

Rugby is 'n gewilde sportsoort in Namibië. Die nasionale rugbyspan speel hul tuiswedstryde op die Hage Geingob Rugbystadion in Windhoek. Die Welwitschias, wat hul naam met die nasionale span deel, neem sedert 2021 aan die Suid-Afrikaanse plaaslike Rugby-uitdaagreeks deel en het voorheen in die Curriebeker en Vodacombeker meegeding.

Die Namibiese nasionale sokkerspan gebruik die Onafhanklikheidsstadion vir hul tuiswedstryde. Die stad beskik oor talle sokkerklubs insluitende African Stars FC, Black Africa FC, FC Civics Windhoek, Orlando Pirates FC, Ramblers FC, SK Windhoek, Tigers FC, Tura Magic FC en Citizens FC.

Baie boksers soos Paulus Moses, Paulus Ambunda en Abmerk Shindjuu is uit die stad.

Die Namibiese nasionale krieketspan, die Arende, speel die meeste van hul tuiswedstryde op die Wanderers-krieketveld.[50] Hulle gebruik ook ander krieketvelde in die stad soos United Ground en Trans Namib Ground.[51][52]

Mansbofbal is in 1950 by die Ramblers-sportklub in die stad in Namibië ingevoer.

Die "Tony Rust-renbaan" is in die weste van Windhoek op die Daan Viljoen-pad geleë en in 2007 heropen.[53] Farm Windhoek is 'n sportfasiliteit vir stap, hardloop en bergfietsry net buite die stad en in besit van die munisipaliteit.

Onderwys

[wysig | wysig bron]
Die hoofkampus van die Universiteit van Namibië

Tersiêre onderwys

[wysig | wysig bron]

Die algemene instellings vir hoër onderwys in Windhoek is:

Ander instellings

[wysig | wysig bron]

Ander vername hoëronderwysinstellings:

Besienswaardighede

[wysig | wysig bron]
Parlementêre Tuin
Tintenpalast in Windhoek
  • Christuskerk – 'n Lutherse kerk. Die konstruksie aan die kerk het onder pastoor Wilhelm Anz in April 1896 begin. Aan die einde van die Herero-oorloë tussen die Duitsers en die Herero's, Khoikhoi's en Ovambo's, is dit ingewy as die Kerk van Vrede in 1910. Die kerk, wat in die Gotiese herlewingstyl met Art Nouveau-elemente gebou is, staan in die historiese middelpunt van Windhoek. Die 24 m hoë toring is soos die res van die kerk van sandsteen gemaak. Die uitsondering is die ingangsportaal en die altaar, wat van marmer gemaak is. Die kleurvolle loodglasvensters in die kerk was 'n geskenk van kaiser Wilhelm II. Die kerk is langs die Parlementêre Tuin en die Tintenpalast geleë.
  • Die Staatshuis van Namibië – die amptelike woning en werkplek van die president van Namibië.
  • St. Mariakatedraal
  • Dieretuinpark – 'n openbare park aan Onafhanklikheidslaan die sentrum van Windhoek. Die huidige park is versorg en het 'n dam, speelarea vir kinders en 'n opelugteater.[54]
  • TintenpalastDuits vir Inkpaleis, is die setel van albei kamers van die Namibiese wetgewer, die Nasionale Raad en die Nasionale Vergadering. Dit is net noord van Robert Mugabe-laan en is ontwerp deur die argitek Gottlieb Redecker en gebou deur die maatskappy Sander & Kock tussen 1912 en 1913 uit materiale wat in ei streek ontgin is as 'n administratiewe gebou vir die Duitse regering wat in daardie stadium in beheer van Duits-Suidwes-Afrika was. Die gebou is omring deur die Parlementêre Tuin.
  • Alte Feste – Duits vir Ou Fort. Dit is in 1890 gebou en huisves tans die Nasionale Museum.
  • Hooggeregshof van Namibië.
  • Die drie kastele van Windhoek wat deur die argitek Wilhelm Sander gebou is: Heinitzburg, Sanderburg en Schwerinsburg
  • Nasionale Biblioteek van Namibië
  • Windhoek-spoorwegstasie
  • Holy Cross Kloosterskool
  • Daan Viljoen-wildtuin naby Windhoek
  • Windhoek Openbare Biblioteek – gebou in 1925 langs die Alte Feste

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "2023 Population & Housing Census Preliminary Report" (PDF). Statistiek Namibië. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 Maart 2024. Besoek op 24 Maart 2024.
  2. (de) Conny von Dewitz (2009). Windhoek – Der kleine Stadtführer. ISBN 978-3-941602-17-5.
  3. (en) Klaus Dierks. "The History of ǁKhauxaǃnas. Introduction". Besoek op 26 Augustus 2024.
  4. (de) (en) "Welcome to the German Embassy in Namibia!". Duitse Ambassade in Windhoek. Besoek op 26 Augustus 2024.
  5. (af) "Ruiter val op heiligste dag". Republikein. 27 Desember 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2014. Besoek op 1 Julie 2014.
  6. (en) "The Orlams Afrikaners – the Creole Africans of the Garieb". Cape Slavery Heritage. Besoek op 8 Julie 2010. [dooie skakel]
  7. (en) Victor L Tonchi; William A Lindeke; John J Grotpeter (2012). Historical Dictionary of Namibia. Historical Dictionaries of Africa, African historical dictionaries (2 uitg.). Scarecrow Press. ISBN 978-0-8108-7990-4. Besoek op 26 Augustus 2024.
  8. (de) Heinrich Vedder (1997). Das alte Südwestafrika. Südwestafrikas Geschichte bis zum Tode Mahareros 1890 (7 uitg.). Windhoek: Namibia Scientific Society. ISBN 0-949995-33-9.
  9. (en) Klaus Dierks. "Biographies of Namibian Personalities, A (entry for Jonker Afrikaner)". klausdiers.com. Besoek op 26 Augustus 2024.
  10. 10,0 10,1 (en) "The History of Windhoek". Windhoekse Stadsraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2010. Besoek op 21 Februarie 2010.
  11. (en) Roman Adrian Cybriwsky (2013). Capital Cities around the World: An Encyclopedia of Geography, History, and Culture. VSA: ABC-CLIO. p. 338.
  12. (en) Ester Mbathera, Tutaleni Pinehas (17 November 2021). "Verona, the last grandchild of Von François". The Namibian. p. 6. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 November 2021. Besoek op 17 November 2021.
  13. (en) Klaus Dierks. "Biographies of Namibian Personalities, V (entry for Curt von François)". klausdiers.com. Besoek op 26 Augustus 2024.
  14. (en) Farouk Chothia (23 November 2022). "Namibia pulls down German colonial officer's statue in Windhoek". BBC. Besoek op 26 Augustus 2024.
  15. (en) "Windhoek". Encyclopædia Britannica. Besoek op 26 Augustus 2024.
  16. (en) "The History of Windhoek". Windhoekse Stadsraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Oktober 2020. Besoek op 29 Oktober 2020.
  17. (en) Ieuan Griffiths (Oktober 1994). "Walvis Bay: exclave no more". Geography. p. 354. Besoek op 26 Augustus 2024.
  18. (en) Petrus Du Pisani. "Surviving in an arid land: Direct reclamation of potable water at Windhoek's Goreangab Reclamation Plant". Universiteit van Arizona. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2011. Besoek op 6 Junie 2011.
  19. (en) Bruce Berry (12 Februarie 2014). "Windhoek (Namibia)". Flags of the World. Besoek op 26 Augustus 2024.
  20. (de) "Windhoek erhielt heute Stadtrechte" (2015-herdruk uitg.). Allgemeine Zeitung. 18 Oktober 1965.
  21. (en) "Namibian War of Independence 1966–1988". Armed Conflict Events Database. Besoek op 26 Augustus 2024.
  22. (en) Barbara Rogers (1972). "Namibia's General Strike". Africa Today. 19 (2): 3–8. ISSN 0001-9887. JSTOR 4185227.
  23. (en) "The Windhoek Structure Plan" (PDF). City of Windhoek. 1996. p. 6. Besoek op 2 Julie 2013. [dooie skakel]
  24. Die tweede grootste stad in Namibië, Walvisbaai, het 'n bevolking van 43 700: "ELECTIONS 2010: Erongo regional profile". New Era. 16 November 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 September 2012. Besoek op 6 September 2012.
  25. (en) Alvine Kapitako (12 November 2010). "ELECTIONS 2010: Khomas Region profile". New Era. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Desember 2012. Besoek op 5 Desember 2012.
  26. (en) Desie Heita (11 Februarie 2010). "Owning a house … a dream deferred". New Era. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Julie 2011. Besoek op 16 Julie 2011.
  27. (en) Charlie de Jong (28 Maart 2023). "Air Namibia". Znaki. Besoek op 26 Augustus 2024.
  28. (en) Ndama Nakashole (24 April 2017). "Namibians 3rd wealthiest people in Africa". The Namibian. p. 13. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2017. Besoek op 18 Junie 2017.
  29. (en) Selma Shipanga (3 April 2013). "A glimpse into the taxi industry". The Namibian. pp. 6–7.
  30. (en) "Namibiese Lughawemaatskappy". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 September 2012. Besoek op 4 September 2012.
  31. 31,0 31,1 (en) William J. Mbangula (8 November 2005). "Windhoek's battle for land". New Era. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Desember 2012. Besoek op 12 Desember 2012.
  32. (af) Christo Retief (2 Julie 2013). "Windhoek slaan Afrika-rekord". Die Republikein. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2016. Besoek op 24 Maart 2016.
  33. (en) Erastus Nghinomenwa (12 Augustus 2020). "Namibia's ghetto life: Half million live in shacks countrywide". The Namibian. p. 1. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2021. Besoek op 21 April 2021.
  34. Die gemiddeld vir 1957–1987 volgens die Goddard Instituut van Ruimtestudies se Wêreldklimaatdatabasis
  35. (en) "Climate and average monthly weather in Namibia". weather-and-climate.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 April 2017. Besoek op 3 April 2017.
  36. (en) Werner Menges, Yokany Oliveira (23 Mei 2019). "Khomas faces worst drought in 90 years". The Namibian. p. 1. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Mei 2019. Besoek op 25 Mei 2019.
  37. (de) "Klimatafel von Windhuk (Windhoek) / Namibia" (PDF). Deutscher Wetterdienst. Besoek op 26 Augustus 2024.
  38. (da) "Stationsnummer 68110" (PDF). Departement van Energie, Nutsdienste en Klimaat. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 16 Januarie 2013. Besoek op 16 Januarie 2013.
  39. (en) "Reading Eagle". Google News Archive Search. Besoek op 26 Augustus 2024.
  40. (en) Thomas Schoch (2003). "Visit Windhoek, People and languages". Visit Windhoek. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2013. Besoek op 22 Februarie 2013.
  41. (en) "Know Your Local Authority". Election Watch. No. 3. Institute for Public Policy Research. 2015. p. 4.
  42. (en) "Local elections results". Namibiese Verkiesingskommissie. 28 November 2015. p. 4. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Desember 2015. Besoek op 10 Desember 2015.
  43. (en) "2020 Local Authority Elections Results and Allocation of Seats" (PDF). Namibiese Verkiesingskommissie. 29 November 2020. p. 9. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 Januarie 2021. Besoek op 24 Januarie 2021.
  44. 44,00 44,01 44,02 44,03 44,04 44,05 44,06 44,07 44,08 44,09 44,10 44,11 44,12 44,13 44,14 44,15 44,16 44,17 44,18 44,19 44,20 44,21 44,22 44,23 (en) "International relations" (PDF). Windhoekse Stadsraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 16 Februarie 2012. Besoek op 16 Februarie 2012.
  45. 45,0 45,1 45,2 45,3 45,4 45,5 45,6 (en) "Mayoral Annual Report 2016" (PDF). Windhoekse Stadsraad. 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 21 Oktober 2020. Besoek op 21 Oktober 2020.
  46. (de) "Goethe-Institut Namibia". Goethe-Institut. Besoek op 26 Augustus 2024.
  47. (en) "National Museum of Namibia". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2019. Besoek op 11 Mei 2019.
  48. (en) Nangula Shejavali (19 Februarie 2009). "National News 19. Februarie 2009 Public library gets a facelift". The Namibian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2013. Besoek op 12 Januarie 2013.
  49. (en) J. Gordon Melton, Martin Baumann (2010). Religions of the World: A Comprehensive Encyclopedia of Beliefs and Practices. VSA: ABC-CLIO. pp. 2012–2013.
  50. (en) "Wanderers Cricket Ground, Windhoek". Cricket Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Desember 2017. Besoek op 15 Desember 2017.
  51. (en) "United Ground, Windhoek". Cricket Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Desember 2017. Besoek op 15 Desember 2017.
  52. (en) "Trans Namib Ground, Windhoek". Cricket Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Desember 2017. Besoek op 15 Desember 2017.
  53. (en) Darren Galpin. "Tony Rust Raceway, Windhoek". GEL Motorsport Information Page. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2017. Besoek op 10 Junie 2017.
  54. (en) "Windhoek Attractions, Namibia". Sa-venues.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2015. Besoek op 24 September 2015.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Levinson, Olga: The cultural life of Windhoek. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 17, nr. 2, Desember 1967
  • Mossolow, N.: Die veelbewoë geskiedenis van Windhoek. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 15, nr. 3, Maart 1966.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]