Gaan na inhoud

Stellenbosch

Koördinate: 33°55′12″S 18°51′36″O / 33.92000°S 18.86000°O / -33.92000; 18.86000
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Stellenbosch
'n Uitsig oor Pleinstraat na Bothmaskop in die ooste
'n Uitsig oor Pleinstraat na Bothmaskop in die ooste
Stellenbosch is in Wes-Kaap
Stellenbosch
Stellenbosch
 Stellenbosch se ligging in Wes-Kaap
Koördinate: 33°55′12″S 18°51′36″O / 33.92000°S 18.86000°O / -33.92000; 18.86000
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieWes-Kaap
DistrikKaapse Wynland
MunisipaliteitStellenbosch
Stigting1679[1]
Regering
 • BurgemeesterGesie van Deventer[2] (Demokratiese Alliansie)
Oppervlak
 • Totaal8,24 km2 (3,18 vk. myl)
Bevolking
 (2011)
 • Totaal19 068
 • Digtheid2 314/km2 (5 990/vk. myl)
Rasverdeling (2011)
 • Wit mense65,6%
 • Indiërs/Asiërs0,9%
 • Bruin mense16,3%
 • Swart mense15,6%
 • Ander5,0%
Taal (2011)
 • Afrikaans 71,0%
 • Engels 20,6%
 • Xhosa 2,0%
 • Suid-Sotho 1,3%
 • Ander 5,0%
Poskode (strate)
7600
Poskode (posbusse)
7599
Skakelkode021

Stellenbosch, ewegoed bekend as die Eikestad, is die naasoudste Europese nedersetting in Suid-AfrikaKaapstad, oorspronklik gevestig as 'n landboukolonie. Dit is geleë in die Wes-Kaapprovinsie.

Lugbeeld van Stellenbosch
Landskap naby Stellenbosch

Dit is sowat 50 kilometer van Kaapstad, en in die sensus van 2011 is 77 476 inwoners in die stedelike gebied van Stellenbosch getel, studente uitgesluit. Hierdie skatting is gegrond op formeel-behuisde inwoners, en is dus heel moontlik onderskat, omdat die Stellenbosch-omgewing ook 'n aantal informele nedersettings het. Stellenbosch is besig om vinnig saam te smelt met aanliggende nedersettings.

Voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]
Paleolitiese handbyl van Stellenbosch

Die gebied rondom Stellenbosch is al sedert die vroeë steentydperk bewoon. In 1899 het Louis Péringuey, latere hoof van die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad, 'n aantal klipwerktuie in 'n steengroef naby die huidige Adam Tas-brug oor die Eersterivier ontdek. Hierdie, en ander vondse in die Stellenbosse omgewing, was die eerste aanduidings dat oermense ook al 'n geruime tyd in Suider-Afrika gewoon het, en destydse argeoloë het aanvanklik skepties teenoor die ontwikkeling gestaan. Die klipwerktuigkultuur is aanvanklik die Stellenbosch Kultuur gedoop, maar die benaming is later verander na die internasionale term Acheuliese kultuur na aanleiding van Saint-Acheul, 'n dorpie in Frankryk waar soortgelyke werktuie eerste gevind is.[3][4]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
'n Skildery van Stellenbosch uit 1779
Tipiese Kaaps-Hollandse Stylhuis in Stellenbosch
Die Kruithuis in Stellenbosch is tussen 1776 en 1777 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) opgerig. Die VOC se monogram en datum is sigbaar op die gebou se gewel. In 1963 is dit as historiese monument gelys
Dorpsmuseum in Stellenbosch

Minder as drie weke nadat Simon van der Stel in 1679 as kommandeur van die nedersetting in die Kaap aangekom het, het hy en enkele amptenare 'n tog na Hottentots-Holland (vandag Somerset-Wes en omgewing) onderneem.

Enkele Vryburgers het daar geboer. Op 8 November het hulle in 'n landstreek aangekom wat in die Dagregister beskryf is as 'n vlacke valeij, in sicht begrijpende attelijcke duysent morgen schoon weijlant, mede seer beguam tot den ackerbouw, versien van een seer treffelijcke afwaterende verse rivier, ter wedersijde met schoone hooge boomen versiert, beguam tot tuijnen en brandhout.

Hulle het op 'n eiland in die rivier (later die Eersterivier genoem) oornag. Op die eiland was volop hoë bome en omdat geen ander kommandeur of goewerneur nog daar was nie, het Van der Stel volgens die Dagregister die eiland Stellenbosch genoem (letterlik "(Van der) Stel se Bos").

Die ligging van hierdie eiland kan nog bespeur word tussen die Meulstroom en die Eersterivier self. Nog net die boonste deel van die Meulstroom vloei in sy oorspronklike koers. Die Eersterivier is so genoem omdat dit die eerste rivier was wat 'n mens teëgekom het soos wat jy van die Kaap af gereis het.

Die plek was uiters geskik vir landbou. Van der Stel was van plan om deur private boerdery voedselverbouing sodanig te verhoog dat die Kaapse nedersetting selfversorgend kon word en selfs kos sou kon uitvoer. Ná sy terugkeer na die Kasteel, het hy aangekondig dat daar vir mense wat hulle aan die oewers van die Eersterivier wil vestig, grond in die vorm van plase beskikbaar is. Voornemende boere kon op verskeie gunstige voorwaardes daarheen trek. Die reaksie was goed en voordat die eerste winterreën in 1680 geval het, het agt mense hulle reeds daar gevestig.[5]

Die eerste inwoners het druiwe aangeplant in die vrugbare valleie rondom die dorp, wat die wortels vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf gevestig het.

Die dorp groei só vinnig dat dit 'n onafhanklike plaaslike owerheid in 1682 word, en word 'n magistraatsetel wat 25,000 km² beheer in 1685.

Om in die Kaapse kolonie se timmerhoutbehoeftes te voorsien, begin Simon van der Stel en sy seun Willem Adriaan duisende eike in onder meer Stellenbosch aan te plant. Die oudste eikebome in die stad is meer as 200 jaar oud en tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die dorp het in 1710 heeltemal afgebrand. In Desember 1803, het 'n soortgelyke brand weer gewoed en slegs 80 huise het staande gebly. Die eerste kerk is in 1722 gebou, kleiner as die eerste kerke in Roodezant en Paarl, maar nie minderwaardig in terme van argitektuur nie.[6] Teen 1819 het Stellenbosch ongeveer 1000 inwoners, insluitend slawe, gehad.[6]

Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is een wedstryd op Stellenbosch se Danie Craven-stadion beslis.

Wilgenhof was 'n Koshuis in Stellenbosch.

Wapens

[wysig | wysig bron]

Drostdy — Die Kaapse regering het in 1804 heraldiese seëls aan die plaaslike owerhede toegewys. Die Stellenbosch-drostdy het Simon van der Stel se familiewapen gekry : Gevierendeel, I in goud twee rooi torings langs mekaar; II in rooi 'n pronkende pou; III in rooi drie ronde silwer skywe geplaas 1 en 2; IV in goud 'n rooi toring; 'n blou binneskild belaai met ses silwer wassenaars geplaas 2, 2 en 2. 'n Anker is agter die wapenskild geplaas.[7][8] Die regering het egter in 1814 besluit dat drostdye voortaan eerder die Britse koningswapen moet gebruik.[9]

Munisipaliteit (1) — Alhoewel die munisipaliteit wat in 1840 gestig is nie die regsopvolger van die voormalige drostdy was nie, het dit die drostdy se wapen en seël aangeneem.[8] Met die verloop van tyd is verskeie veranderinge daartoe aangebring : kwartiere II en II is van rooi na blou verander, die pou is omgedraai om na regs te wys, die silwer skywe is met goue ringe vervang, en die binneskild is van blou na swart verander.[10]

Munisipaliteit (2) — 'n Nuwe wapen is in 1951 ontwerp en in 1952 deur die Engelse College of Arms aan die munisipaliteit verleen : In goud, 'n rooi dwarsbalk belaai met 'n pronkende pou van natuurlike kleur tussen twee goue ringe, vergesel van drie rooi torings. Die helmteken was 'n goue anker omwonde van 'n eiketak, en die wapenspreuk was "Fortis et superbus". Die wapen is in 1979 by die Buro vir Heraldiek geregistreer.[11]

Afdelingsraad (1) — Stellenbosch se afdelingsraad (d.w.s die plaaslike owerheid vir die landelike gebiede buite die dorpsgrense) het jare lank die basiese Van der Stel-wapen gebruik, nl In goud, drie rooi torings. Die helmteken was 'n soortgelyke toring.

Afdelingsraad (2) — Die afdelingsraad het die wapen in 1970 deur dr Cornelis Pama laat hersien en dit toe by die Buro geregistreer. Die hersiene wapen was: Gedeel van goud en rooi, in die skildhoof twee burgte [d.w.s. torings] van die een op die ander, in die skildvoet 'n burg van die een in die ander. Die helmteken was weereens 'n rooi burg.[11]

Kayamandi — Die Swart woongebied Kayamandi se dorpskomitee het in 1987 'n wapen by die Buro geregistreer: Deursnede blou en rooi, 'n silwer dwarsbalk aan die bokant pylpuntvormig geknobbel, aan die onderkant geknobbel en op die erepunt belaai met 'n swart blokkie; 'n goue skildhoof met drie uitkomende blou torings. Die helmteken was 'n rooi muurkroon, en die wapenspreuk was "Kaya mandi".[11]

Wingerde rondom Stellenbosch

Die valleie om Stellenbosch, Paarl en Franschhoek vorm die Kaapse Wynlande, die grootste van die twee hoof aanbougebiede van wyn in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse wynindustrie produseer sowat 10 miljoen hektoliter wyn jaarliks, en Stellenbosch is die sentrum vir navorsing in dié gebied.

Die Stellenbosch Wynroete, gestig in 1971, is wêreldbekend en 'n gewilde toeristebestemming.

Die area het 'n Middellandse Seeklimaat (of winterreënklimaat), en is geleë aan die begin van die Kaapse Plooiberge, wat uiters gepaste grond vir wynverbouing bied. Druiwe word dus ook primêr verbou vir wynproduksie, en nie as tafeldruiwe nie.

Plase

[wysig | wysig bron]

Historiese plase in en rondom die dorp is Blaauwklippen, Fleurbaix, Idasvallei, Langverwacht, Valle de Lutry en Vlottenburg. Aan 't Pad en Watergang is nou deel van die woonbuurt Cloetesville en Groenfontein is deel van van Klapmuts. Morgenster is nou 'n woonbuurt van Somerset-Wes.

Lys voorstede of buurte

[wysig | wysig bron]
Voorkant van die Gotiese styl NG moedergemeente aan die punt van Kerkstraat
  • Arbeidslus
  • Brandwacht
  • Cloetesville
  • Dalsig
  • De Zalze
  • Dennesig
  • Die Boord, voorheen Rhodes Fruit Farms
  • Die Rant
  • Idasvallei
  • Jamestown
  • Karindal
  • Krigeville
  • Kayamandi
  • Welbedaght
  • La Colline
  • Mostertsdrift
  • Onderpapegaaiberg, ook bekend as Voëltjiesdorp
  • Paradyskloof
  • Plankenberg
  • Rozendal
  • Simonswyk
  • Tegnopark
  • Tennantville
  • Middedorp
  • Uniepark
  • Universiteitsoord
  • Welgevonden

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Chronological order of town establishment in South Africa based on Floyd (1960:20-26)" (PDF) (in Engels). pp. xlv–lii. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 13 Julie 2019. Besoek op 13 Februarie 2019.
  2. "Executive Mayoral Committee". Stellenbosch Munisipaliteit (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Junie 2019. Besoek op 2 Julie 2017.
  3. Alan Mountain, The First People of the Cape: A Look at Their History and the Impact of Colonialism on the Cape's Indigenous People, New Africa Books, 2003
  4. Gilliomee en Mbenga (2007), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Tafelberg-Uitgewers, ISBN 0-624-04358-4
  5. Beeld 8/11/1991
  6. 6,0 6,1 Abraham Rees (1819) The cyclopaedia: or, universal dictionary of arts, sciences, and literature, Volume 34, Longman, Hurst, Rees, Orme, & Brown, Paternoster-Row.
  7. Pama, C. (1965). Lions and Virgins.
  8. 8,0 8,1 Smuts, F. (red) (1979). Stellenbosch – Drie eeue.
  9. Cape Town Gazette 418 (15 Januarie 1814).
  10. Die finale weergawe van die wapen kom voor op 'n tabakkaart wat in 1931 uitgereik is.
  11. 11,0 11,1 11,2 National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
'n Panorama van Stellenbosch, soos vanaf Papegaaiberg gesien.
'n Panorama van Stellenbosch, soos vanaf Papegaaiberg gesien.