Gaan na inhoud

Letland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Republiek Letland
Latvijas Republika (Lets)
Latvejas Republika (Letgallies)
Lețmō Vabāmō (Lyfs)
Vlag van Letland Wapen van Letland
Vlag Wapen
Volkslied: Dievs, svētī Latviju!
(Lets vir: "God seën Letland!")
Ligging van Letland
Hoofstad Riga

56°57′N 24°6′O / 56.950°N 24.100°O / 56.950; 24.100

Grootste stad Riga
Amptelike tale Letsa
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike republiek
Edgars Rinkēvičs
Evika Siliņa
Onafhanklikheid
• Verklaar
• Erken
• Grondwet goedgekeur
• Eerste Sowjet-besetting
Nazi-Duitse besetting
• Tweede Sowjet-besetting
• Onafhanklikheid verklaar
• Onafhanklikheid herstel
• Onafhanklikheid erken
• Huidige grondwet
van die Russiese Ryk
18 November 1918[1]
26 Januarie 1921
7 November 1922
5 Augustus 1940
10 Julie 1941
1944
4 Mei 1990
21 Augustus 1991[2]
6 September 1991
6 Julie 1993
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
64 589[3] km2  (124ste)
24 938 myl2
2,09 (2015)[4]
Bevolking
 - 2024-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
1 801 246[3] (153ste)
2 070 371[5]
27,9 / km2 (147ste)
72,2 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$78,421 miljard[6] (104de)
$41 730[6] (51ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$45,466 miljard[6] (96ste)
$24 194[6] (42ste)

MOI (2022) 0,879[7] (37ste)  –  baie hoog
Gini (2023) 34,0[8] –  medium
Geldeenheid Euro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
OET (UTC+2)
OEST (UTC+3)
Internet-TLD .lv, .eu
Skakelkode +371
a. Lets is die enigste amptelike taal.[9][10] Lyfs word erken as 'n inheemse taal en geniet wettige status.[11] Letgallies en die Letse gebaretaal geniet ook wettige status.[12]

Letland (Lets: Latvija, [ˈlatvija], ; Letgallies: Latveja; Lyfs: Lețmō), amptelik die Republiek Letland (Lets: Latvijas Republika; Letgallies: Latvejas Republika; Lyfs: Lețmō Vabāmō), is 'n republiek in Noordoos-Europa, een van die Baltiese lande aan die Oossee. Die land word verder begrens deur Estland in die noorde, Litaue en Belarus in die suide en Rusland in die ooste. Nes Estland en Litaue word Letland dikwels 'n Baltiese Tier genoem.

Nasa-Satellietbeeld van Letland
Kaart van Letland (CIA)

Die land is geografies, in oppervlakte en inwonertal die middelste van die Baltiese lande, en verenig elemente van beide buurlande: dit deel sy Baltiese taal, Lets, met Litaue, waar die verwante Litaus gepraat word, en dit deel sy oorwegend Lutherse geloof met Estland. Die geskiedenis van Letland vertoon groot ooreenkomste met dié van Estland, en veel minder met dié van Litaue. Letland het ná 'n langdurige Sowjet-besetting in 1991 sy onafhanklikheid herwin nadat dit reeds tussen 1918 en 1940 as onafhanklike republiek bestaan het. 'n Erfenis van die Sowjet-tydperk is die groot aantal Russiessprekende inwoners.

Die hoofstad van Letland is Riga en die grootste rivier die Daugava of Westelike Dwina, onderskeidelik die grootste stad en die grootste rivier in die Baltiese gebied. Letland kan verdeel word in vier historiese landskappe: Koerland (Kurzeme), Lyfland (Vidzeme), Semgale (Zemgale) en Letgallen (Latgale). Letland is sedert 1 Mei 2004 'n lidland van die Europese Unie en die Euro is op 1 Januarie 2014 as geldeenheid ingevoer. Op 1 Julie 2016 het Letland by die OESO aangesluit.[13]

'n Kenmerk van die huidige Letland is die groot teenstellings tussen die besige hoofstad, 'n voormalige lid van die magtige Hanseverbond waar Letland se ekonomiese opswaai merkbaar word, en die rustige idille – en soms ook armoede – van die landelike streke. Naas lae geboorte- en hoë sterftesyfers bly die grootskaalse emigrasie van Lette na Wes-Europa 'n groot uitdaging. Sedert 2004 het 'n vyfde van die Lettiese bevolking hulle in welvarende lande soos die Verenigde Koninkryk, die Republiek Ierland en Duitsland hervestig.[14]

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die naam Latvija is ontleen aan die antieke Letgalle, een van vier Indo-Europese Baltiese stamme (die ander is die Koere, Sele en Semgalle), wat saam met die Finse Litauers die Letlanders se etniese kern gevorm het.[15] Henry van Letland het die Latinisering van die naam bepaal, Lettigallia en Lethia, albei is ontleen aan die Letgalle. Van dié terme is die weergawes van die landsnaam in Romaanse tale van Letonia en verskeie Germaanse tale van Lettland afgelei, waaronder die Afrikaanse naam "Letland".[16]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Moeraslande in die Nasionale Kemeri-park
Kustoneel langs die Golf van Riga
'n Klein rivier naby die Mordangas-meer

Letland neem in geografiese opsig 'n middelposisie binne die Baltiese lande in. Met 'n oppervlakte van 64 589 km² is dit effens kleiner as die Republiek Ierland. Die land verskil met sy sterk beboste karakter merkbaar van Estland en Litaue – sowat 44 persent van die oppervlakte of 2,9 miljoen hektaar is bosgebiede wat deur besoekers reeds vanuit die vliegtuig op pad na Riga raakgesien kan word. Landskappe met bosse, moeraslande en mere is kenmerkend vir die heuwelagtige oostelike landsdele, terwyl die kusgebiede deur vlaktes oorheers word.

Net soos ander gebiede in Noord-Europa was Letland gedurende die laaste koueperiode sowat een miljoen jaar lank met 'n yslaag bedek wat 'n dikte van twee meter bereik het. Die landmassa het onder die swaar gewig geswig. Eers sowat 12 000 jaar gelede, toe die groot gletsers begin smelt het, is die huidige landskappe van Letland gevorm: tipiese morenelandskappe met lemige, sanderige of stenige afsettings wat as heuwellande of vlaktes voorkom en talle bosse, grasvelde en moeraslande behels.

In Wes- en Noord-Letland het die gletsers minder vrugbare sanderige of klipperige grond agtergelaat wat met die ryk landbougrond van binnelandse streke kontrasteer – soos die vlaktes van Zemgale (Semgale) suid van Riga. In Oos-Letland het die smeltende gletsers met hul wisselende yskante die hoogplato's van Vidzeme en Latgale (Letgallen) met hul talle mere gevorm. Letland se hoogste punt is die heuwelpiek Gaiziņkalns naby Madona (312 meter).

Daar is altesaam 12 000 riviere in Letland, waarvan egter slegs twaalf langer as 100 kilometer is. Die twee grootste riviere is die Daugava wat vanuit die suidooste tot by Riga vloei, met 'n lengte van 1 000 kilometer (waarvan 352 in Letland), en die Gauja wat net soos die Daugava in die Golf van Riga uitmond. Die grootste van Letland se 3 000 mere is Rāznas ezers met 'n oppervlakte van 57,6 km². By Kaap Kolka ontmoet die Golf van Riga en die Oossee. Net noord daarvan is die maritieme grens tot Estland geleë.

Die kuslyn langs die Oossee en die Golf van Riga, wat grotendeels deur dennebosse gesoom word, het 'n lengte van 497 kilometer. Dit behels eindelose sandstrande met aangrensende duinlandskappe, strandmere, naaldbosse, moeraslande en mere – 'n gevoelige ekostelsel wat deur die wisselwerking tussen land en see oorheers word. Aangesien die grootste deel van die kusgebiede tydens die Sowjet-besetting as militêre spergebied nie toeganklik was vir besoekers nie, kon die ekosisteme – behalwe vir enkele militêre terreine – hier onverstoord ontwikkel. Die soutwater-strandmere en vogtige grasvelde is gedurende die najaar 'n gewilde rusplek vir miljoene trekvoëls en – in die geval van die Pape-meer – ook tienduisende vlermuise.

Van Letland se totale oppervlakte word 8,5 persent as natuurreservate beskerm – daar is vier nasionale parke, vier natuurreservate, 28 natuurparke, nege landskapsreservate, een biosfeerreservaat, nege natuurmonumente en 'n aantal mikroreservate. Letland se vierde nasionale park, die Rāznas nacionālais parks met 'n oppervlakte van bykans 600 km², is eers in 2007 gestig.

Bosgebiede

[wysig | wysig bron]
Landskapstoneel in die Nasionale Gauja-park: die Gauja-riviervallei te midde van bosse

Naaldbome beslaan sowat 69 persent van Letland se bosgebiede, die res bestaan uit oorwegend gemengde loofbosse.[17] Die mees uitgestrekte bosgebiede word in die noorde van Kurzeme (Koerland) aangetref. Tipiese Letlandse boomsoorte sluit denne, sparbome en berke in, maar ook eike, linde- en beukebome kom hier endemies voor. Die laasgenoemde soorte het 'n belangrike rol in Letland se voor-Christelike godsdiens gespeel waar besondere kragte aan hulle toegeskryf is. Reeds in die 16de en 17de eeu is voorsiening gemaak vir die volhoubare gebruik van bosse.

Sowat die helfte van alle bosse groei op droë mineraalgrond, terwyl 'n kwart as vogtige bosse geklassifiseer word wat in die res van Europa selde aangetref word. Die grond in dennebosse is 'n geskikte habitat vir bos- en bloubessies asook heideplante, terwyl in sparboombosse veral mosse en in beukebosse hoofsaaklik rietgrasse aangetref word. 'n Oordaad sampioensoorte kom in alle Letlandse bosse voor. Die meeste Letlanders het – soos die bewoners van die aangrensende buurlande – 'n passie daarvoor om in herfstyd mandjies vol sampioene te versamel.

Gedurende die Sowjet-besetting van Letland is min waarde aan omgewingsbewaring geheg. Nog in die 1990's was ontbossing 'n groot probleem wat met die stigting van 'n staatsbeheerde bosbou-aandelemaatskappy in 1999 uiteindelik opgelos is. Tans is sowat die helfte van alle Letlandse bosse in staatsbesit, terwyl 'n konsep vir volhoubare bosbou deur Ugis Rotbergs, die plaaslike Wêreldnatuurlewefondsdirekteur, ontwikkel is. Die verhouding tussen houtontginning en herbebossing vergelyk nou gunstig met dié van ander lande.[18]

Moeraslande

[wysig | wysig bron]
'n Ryp dwergmoerbei

Moeraslande beslaan sowat tien persent van Letland se oppervlakte – 'n persentasie wat bo die gemiddeld in Europa is. 42 persent van die moeraslande is met mos en 49 persent met gras bedek – die res is oorgangsgebiede.[19] Die helfte van alle Letlandse moeraslande is ongerepte landskappe en 'n natuurlike habitat vir skaars diere en plante waar meer as twintig beskermde plantsoorte aangetref word, asook 'n rusplek vit trekvoëls soos krane en ganse.

Die moeraslande se vyftien tipiese voëlspesies sluit onder meer kraanvoëls, goudpleviere (Pluvialis apricaria), korhoens (Lyrurus tetrix), smellekens (Falco columbarius) en slegvalke (Falco peregrinus) in. 'n Verskeidenheid eetbare bessies, wat in oestyd talle versamelaars lok, aard in hierdie vogtige gebiede, soos mos-, blou-, bosbessies en skaars dwergmoerbeie (Rubus chamaemorus).

Daar is egter ook bedrywighede wat die moerashabitat agteruit laat gaan en uitdroging bedreig soos kommersiële turfontginning. Letlandse turf word veral na Wes-Europese bestemmings uitgevoer.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Donker wolke oor die Oossee

Letland is in die oorgangsgebied tussen die gematigde maritieme klimaat van noordelike Sentraal-Europa en die kontinentale klimaatsone van Oos-Europa geleë. Die land het dus net soos die ander twee Baltiese lande 'n koel-gematigde klimaat met lang en koue winters waartydens die kwik benede vriespunt daal (en wat in sommige jare van Oktober tot April kan duur), en gematigde somers met gemiddelde temperature van tussen 16 en 17 °C. Lente en herfs is korter as in Sentraal-Europa. In Letland word jaarliks tussen 1 800 en 1 900 sonskynure aangeteken. Die jaarlikse gemiddelde temperatuur beloop in Riga naastenby 6 °C, met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 600 mm.

Die Letlandse kusgebied word deur relatief gematigde temperature gekenmerk, terwyl die binnelandse geweste groter temperatuurskommelinge ondervind. In die afgelope dekades is die Oosseegebied sterker deur verwarming geraak as ander wêrelddele sodat veral tydens die winter en lente hoër temperature aangeteken word en die Oossee se oppervlak in wintermaande nie meer dikwels bevries raak nie. Die somerneerslae het gelyktydig afgeneem, terwyl gedurende die winters meer reënval aangeteken word. Die watertemperatuur styg in Augustus tot sowat 17 °C.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Baltiese stamme in die 12de eeu n.C. (Litause kaart)

Die eerste menslike nedersettings in die gebied van die huidige Letland het in die 9de millennium v.C. ontstaan. Baltiese stamme, die voorvaders van die Letlanders en Litauers, het hulle in die tweede helfte van die 2de millennium v.C. hier gevestig en die Fins-Oegriese volke verdring of geassimileer.

Teen die begin van ons tydrekening het Letland as kruispunt van belangrike handelsroetes bekend gestaan – die sogenaamde "Roete van die Wikings tot by die Grieke", waarna in ou kronieke verwys word, het vanuit Skandinawië deur die huidige Letland langs die Daugava-rivier na Rusland en na die Bisantynse Ryk geloop. Die Baltiese stamme was self by handelsaktiwiteite betrokke en het veral barnsteen uitgevoer wat tydens die antieke oudheid en die Middeleeue dikwels kosbaarder geag is as goud. Letlandse barnsteen was sowel in die antieke Griekse wêreld asook in die Romeinse Ryk gewild.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Die Livlandse Konfederasie
'n Ou kaart van Lyfland
Joannes Portantius, 1573

Vanaf die 10de eeu het die verskillende Baltiese stamme begin eerste administratiewe strukture skep, en 'n aantal Baltiese beskawings – Letgalle, Koere, Sele en Semgalle – het geleidelik uit hierdie stamme ontstaan. Die Letgalle het destyds as die grootste van hierdie stamme ook oor die mees gevorderde staatsstrukture met 'n soort stadstate soos Atzele, Jersika, Koknese en Tālava beskik, terwyl die Koere in die 12de en 13de eeu in hul buurlande rooftogte onderneem en oorloë gevoer het. Die bewoners langs die westelike Oosseekus het na hulle as die "Baltiese Wikings" verwys. Daarenteen het die Semgalle en Sele as vreedsame en welvarende boere bekend gestaan.

Die Balte en Live se nedersettingsgebied was in die vroeë Middeleeue in talle klein vorstedomme verdeel. Van 1202 af is die Letse klein vorstedomme verower deur die Orde van die Swaardbroeders, wat in 1237 deur die Duitse Orde oorgeneem is. Gelyktydig het die migrasie van Duitsers plaasgevind. Die Duitse hoërklas het oor eeue heen die stadburgers en die grondbesitters gestel. Tydens die Protestantse Hervorming het Letland Evangelies geword. Deur aangrensende magte se invloedname het die gebied van die Livlandse Konfederasie in die 16de eeu afhanklik geword van die Pools-Litause Gemenebes, waarvolgens dele van Letland Rooms-Katoliek geword het. Tot in die 18de eeu is die Baltikum tussen Rusland, Swede en Pole betwis. Deur die talle oorloë en epidemies het die bevolking erg gekrimp. Met die Derde Poolse Deling het Letland in 1795 'n deel van die Russiese Ryk geword. Terwyl die Baltiese Duitsers hul voorregte en kulturele invloed kon bewaar, het deur die assimilasie van die Lyfse volk 'n grootliks homogene Letse bevolking gevorm.

Eerste onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

In die 19de en veral aan die begin van die 20ste eeu het met die Jonglette en die Nuwe Stroming wense na onafhanklikwording onder die Lette toegeneem. Ná die Eerste Wêreldoorlog het Letland op 18 November 1918 sy onafhanklikheid verklaar en kon dit tydens die Letse Onafhanklikheidsoorloog verdedig. In die 1920's het Letland 'n ekonomiese en kulturele bloei ervaar. In 1922 is sowat 300 plaaslike Biblioteke geopen. Volgens aantal gepubliseerde boeke (volgens inwoners) was Letland – na Ysland – in Europa in die tweede plek. Van 1920 af het die Letse staat ambassades in talle Europese lande ingerig, maar ook in die Republiek China en die Verenigde State. Op 7 November 1922 is die Grondwet van die Republiek Letland, wat sedert 1990 weer van krag is, goedgekeur. Letland het ook by die Volkebond aangesluit. Die minderheisbeleid was vir die destydse tyd baie tolerant; die staat het skole in sewe minderheidstale onderhou. Ná die staatsgreep op 15 Mei 1934 het Kārlis Ulmanis die grondwet gedeeltelik afgeskaf. Hy het die staat diktatories regeer.

Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
Letland tussen 1920 en 1940

In Oktober 1939 moes Letland toelaat dat die Rooi Leër militêre basisse inrig en in Julie 1940 is Letland deur die Sowjetunie geannekseer. Die meeste Westelike state het Letland de jure nie as deel van die Sowjetunie erken nie, maar de facto.[20] Administratief is Letland by die Sowjetadministratiewe strukture aangepas, die burgerlike en militêre leierskap is afgedank, die nywerheid is genasionaliseer, en groot landgoedere en grootskaalse boerebesit is uitgedeel vir toekomstige koöperasies. Die diskriminerende regulasies uit die Tsaristiese era teen die Joodse minderheid, wat 5% van die bevolking uitgemaak het, is afgeskaf.

Van Mei en veral van Junie 1941 af het die Sowjetse regering vertraagde voorkomende maatreëls getref teen 'n moontlike Duitse militêre aggressie in die grensgebied tot die Duitse magsgebied, die "Baltiese Spesiale Militêre Distrik",[21] veral omdat Nazi-gesinde groepe reeds teen die Letse regering gevorm het in afwagting van só 'n moontlikheid, onder andere rondom die "Fanatiese Antisemit" Viktor Arajs.[22] Onder die maatreëls was die gedeeltelike uitsetting van die Baltiese bevolking, wat as vyandelike probleemgroepe bestempel is, na die Siberiese ooste van die Sowjetunie. In Letland is op 14 Junie 1941 sowat 19 000 Letlanders gedeporteer, waaronder 5 000 van die Joodse bevolkingsgroep,[23] maar "niemand het omgegee nie".[22]

Met die Wehrmacht se aanval op die Sowjetunie op 22 Junie 1941 het teen middel 1941 die Duitse besetting van Letland as deel van die Rykskommissariaat Oostland onder Rykskommissar Hinrich Lohse begin. Nou is ook in Letland tientalle massamisdade teen Jode, Roma, as "Kommuniste" geagte, lede van vyandelike "bendes", tronkgevangenes en "kranksinniges" gepleeg. Nadat 15 000 Jode voor die NS-bewind in die onbesette Sowjetunie kon vlug, was in Letland teen die tyd van die inval 70 000 Jode oor, waarvan tot einde 1941 meer as 90% vermoor is en slegs 3 000 die besetting oorleef het.[24] Bygekom het sowat 20 000 Jode, wat uit die Duitse Ryk en die besette gebiede na Letland gedeporteer is, waarvan sowat 1 000 oorleef het.[25] In 1935 was daar volgens die sensus byna 4 000 Roma in Letland, wat amper geheel en al vermoor is.[26]

Sowat 80 000 Letlanders was tydens die Tweede Wêreldoorlog lede van die Letse SS-legioen, 'n verdere 30 000 is by die Letse polisie ingespan. Albei groepe was in die tientalle massamisdade teen die mensdom betrokke.[27] 'n Hoofrol by die "Finale Oplossing van die Joodse Vraag" het die deur Viktor Arajs aangevoerde moordgroep met 400-lede gespeel, wat sowat 30 000 Joodse Letlanders vermoor het.

In herfs 1944 is Letland deur die Rooi Leër verower en opnuut by die Sowjetunie as Lettiese Sosialistiese Sowjetrepubliek ingelyf.[28]

Lettiese Sosialistiese Sowjetrepubliek

[wysig | wysig bron]

Gedurende die dekades wat Letland aan die Sowjetunie behoort het, is die Letse bydrae veral van die Partisane tot bevryding uitgelig, maar steeds die Rooi Leër se "beslissende rol" beklemtoon. In die skrifte van die na Westerse Lande gevlugte skrywers is die onderwerpe "regverdigings vir samewerking" en "Nazi-propagandamateriaal", asook oor beweerde "Joods-Kommunistiese misdade" teen die "Letlandse volk" uitgelig. Enkele uittreksels van hierdie Nazi-propaganda het weer verskyn ná die onafhanklikwording. Daarin is die Kommunisme as "politiek en etnies vreemd" geag deur die Letlandse amptelike geskiedenisskrywing, wat die afkeuring van die Letse partisaanweerstand teen die Nazi-besetting ingesluit het. Die anti-Nazi-Partisane is dikwels as "bandiete" bestempel.[29]

Herwonne onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Op 4 Mei 1990 het die Lettiese Sosialistiese Sowjetrepubliek se Hoogste Raad op die "herstel van onafhanklikheid" besluit. Dié parlementêre besluit kon egter eers met die Ontbinding van die Sowjetunie op 21 Augustus 1991 de facto van krag word. Op 2 April 2004 het Letland by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en op 1 Mei 2004 by die Europese Unie aangesluit.

Op 1 Januarie 2014 het Letland ná Estland die tweede Baltiese land geword wat die euro as geldeenheid ingevoer het. Voorheen was van 1922 tot 1940 en van 1993 tot 2013 die Letse lats die amptelike geldeenheid in Letland. Op 1 Julie 2016 het Letland by die OESO aangesluit.[13]

Demografie

[wysig | wysig bron]
Letland se bevolkingsgroei (in miljoene) tussen 1920 en 2014

Met die onafhanklikwording van Letland in 1991 het Lets die enigste taal in Letland geword wat ampstaalstatus geniet. Die aantal Letssprekendes beloop meer as twee miljoen wêreldwyd, waarvan sowat 1,4 miljoen moedertaalsprekers is. Lets maak deel uit van die Indo-Europese taalfamilie en vorm saam met Litaus die Baltiese taalgroep. Albei tale het in hul woordeskat en grammatika talle kenmerke van Proto-Indo-Europees bewaar sodat hulle sedert die 19de eeu die belangstelling van taalkundiges wek.

Standaardlets word as skryftaal dwarsoor die land gebruik, terwyl gesproke Lets dikwels nog effens deur plaaslike dialekte beïnvloed word. Daar is sowat 150 Letse dagblaaie asook 200 tydskrifte en joernale met 'n jaarlikse sirkulasie van 110 miljoen. Letlandse uitgewerye produseer jaarliks sowat 2 000 boektitels met 'n totale oplaag van twee miljoen.[30] Lets is die verpligte onderrigmedium in Letland, ook in Russiese skole.

Tans (2014) praat sowat 62 persent van Letland se bevolking Lets as moedertaal, terwyl die aandeel Russiessprekendes sowat 26 persent beloop. In die hoofstad Riga is sowat die helfte van die inwoners van Russiese afkoms sodat Russies hier naas Lets as algemene omgangstaal dien. In Daugavpils, die tweede grootste stedelike nedersetting, vorm Letssprekendes selfs 'n minderheid van sowat twintig persent. 'n Derde belangrike taal, wat dikwels ook as Letse dialek geklassifiseer word, is Letgallies.

Van die ander minderheidstale sluit in Esties, Koers, Lyfs en Belarussies.

Minderhede

[wysig | wysig bron]

Meer as dertig persent van Letland se inwoners het 'n ander moedertaal as Lets, veral Russies. Volgens amptelike statistieke het sowat 370 000 inwoners, wat tussen 1940 en 1991 uit verskillende Sowjetrepublieke na Letland gemigreer het, tans nog nie aansoek om inburgering gedoen nie. Hulle beskik gevolglik nog oor Letlandse nog oor enige ander burgerskap, maar het almal 'n permanente verblyf- en werkpermit en kom in aanmerking vir programme wat naturalisasie vergemaklik.

Die Duitse minderheid

[wysig | wysig bron]
Ruïnes van die Ikšķile-kerk
Die kasteel en landgoed van Ēdole (Duits Edwahlen) was tussen 1561 en 1920 in besit van die adellike Duitse Baehr-familie

Tans woon sowat 400 mense van Duits-Baltiese en sowat 3 000 sogenaamde Wolga-Duitsers in Letland. Die laasgenoemde groep het hulle eers in die 20ste eeu in die land gevestig.

Vyf eeue lank, van die 14de tot die 19de eeu, het die Duits-Baltiese minderheid 'n konstante aandeel van tussen vyf en sewe persent van die totale bevolking vertoon. Letlandse Duitsers het 'n oorheersende invloed op die ekonomie en kultuur uitgeoefen. So bly die houding van Lette teenoor die Duits-Baltiese verlede van hul land ambivalent: enersyds het Letland danksy die inval van die Duitse Orde in die 13de eeu 'n deel van die westerse Europa geword – en juis nie 'n deel van Rusland nie; andersyds was die Letlandse bevolking eeue lank in 'n ondergeskikte posisie teenoor hul adellike Duitse landshere.

In 1802 is 'n Duitse universiteit in Dorpat (tans Tartu in Estland) gestig wat 'n groot aantal geesteswetenskaplikes uit Duitsland na die Baltiese lande gelok het. Die geleerdes was meestal onwrikbaar gekant teen die plaaslike stelsel van lyfeienskap en het groot belang in die inheemse Estiese en Letlandse kultuur gestel. Die stelselmatige navorsing oor Letland, die Letse volk, sy taal, kultuur en oorspronklike godsdiens het groot invloed op die eerste nasionale Letlandse beweging, die sogenaamde Jonglette, uitgeoefen. Hulle het as studente en later ook dosente die raamwerk geskep waarin die Letlandse kultuur hom selfstandig kon ontwikkel.

Terwyl Letssprekende burgers in stedelike omgewings geleidelik oor sosiale grense gesteek het, het die situasie op die platteland onveranderd gebly. In 1905 het die Letssprekende bevolking vir die eerste keer in opstand teen die Duits-Baltiese landshere gekom, tog is hierdie rebellie bloedig neergeslaan. Eers in 1920 is die grondbesit van in Letland deur 'n landhervorming herverdeel en die grondbesit van landgoedeienaars beperk tot vyftig hektaar. Baie Baltiese Duitsers het geëmigreer of hulle in Letlandse stede gevestig waar hulle 'n nuwe heenkome gevind het. Danksy hul goeie opleiding het Baltiese Duitsers 'n waardevolle bydrae tot die opbou van die nuwe onafhanklike Republiek Letland gelewer.

Die ooreenkoms wat in 1939 tussen Hitler en Stalin aangegaan is, het geheime bykomende protokolle bevat waarvolgens die Duitse bevolking die Baltiese lande, wat by die Russiese invloedsfeer gereken is, sou ontruim. Die Letlandse president Ulmanis het op 30 Oktober 1939 'n bilaterale ooreenkoms met die Duitse Ryk onderteken waarvolgens die emigrasie van alle Letlandse Duitsers en die staking van alle aktiwiteite van Duitse organisasies in Letland besluit is. Toe die Tweede Wêreldoorlog met die Duitse inval in Pole begin het, was daar nog sowat 60 000 Duitssprekendes in Letland. Net 10 000 van hulle het tydens die oorlog nog in die land gebly, maar behalwe vir 'n klein minderheid van 500 uiteindelik ook geëmigreer nadat Letland deur die Rooi Leër beset is.

Die Russiese minderheid

[wysig | wysig bron]
Die Russiese teater in Riga is in 1883 gestig
'n Kerkgebou van Russiese Ougelowiges in Rēzekne

Tot die laat 17de eeu het slegs 'n klein aantal Russiese handelaars, ambagslui, vlotters en werkers hulle in Riga of langs die handelsroetes gevestig. Die eerste beduidende nedersettings met suiwer Russiese bevolkings is in die vroeë 18de eeu gestig toe Ougelowiges uit aangrensende Russiese gebiede (waaronder Pskof, Twer, Nowgorod en Smolensk), wat in hul tuisland aan religieuse vervolging blootgestel was, hier hul toevlug gevind het.

Daarnaas het ook plaaswerkers van Russiese landgoedere na Letland gevlug om uit onderdrukking deur die eienaars te ontsnap. Die meeste van hulle het afsonderlike dorpe in onbewoonde streke van Letgallen gestig. Toe hierdie gebied in 1772 by Rusland ingelyf is, het ook steeds meer Russies-Ortodokse immigrante hierheen gekom, veral in die tyd ná die afskaffing van lyfeienskap. Naas landelike gebiede was ook Riga, wat in die 19de eeu tot een van die grootste nywerheidstede in die tsaristiese Rusland gegroei het, 'n beduidende bestemming vir immigrerende Russe.

Die oorgrote meerderheid van Letland se huidige Russiese bevolking het nogtans eers gedurende die Sowjet-besetting na Letland geïmmigreer.

In religieuse opsig was daar voor die Tweede Wêreldoorlog twee oorheersende geloofsrigtings in die Russiessprekende gemeenskap – Russies-Ortodokse Christene (54 persent) en Ougelowiges (44 persent). Vanweë die grootskaalse Russiese immigrasie ná 1945 het die persentasie Russies-Ortodokse gelowiges tot sowat 80 persent gestyg, terwyl Ougelowiges nou 'n minderheid van sowat tien persent vorm. In die suidelike dele van die Ludza-distrik word ook Russiessprekende Rooms-Katolieke aangetref. Hulle is grotendeels gerussifiseerde Letlandse en Belarussiese Rooms-Katolieke wat ondanks die verlies van hul oorspronklike moedertaal en etniese identiteit aan hul geloof vasgehou het.

Russies is die beduidendste minderheidstaal in Letland en ook die mees gebruikte vreemde taal – vier uit vyf bewoners van Letland het 'n kennis van hierdie taal. Daarnaas is Russies die onderrigmedium in meer as 270 skole dwarsoor die land waar sowat 28 persent van Letland se leerlinge skoolgaan.

Tans word sowat vyftig plaaslike Russiese dagblaaie met 'n totale jaarlikse sirkulasie van tot 70 miljoen in Letland uitgegee. Die aantal boeke, wat jaarliks in Russies verskyn, beloop byna 200, met 'n sirkulasie van omstreeks 300 000. 'n Aantal televisiekanale en radiostasies saai in Russies uit.

Die meeste Russe in Letland is nie geassimileer nie en kan hul moedertaal vlot praat, lees en skryf. Net in landelike gebiede soos Kurzeme of Vidzeme is daar 'n groter aantal gemengde Russies-Letse gesinne waar Lets as huistaal dien.

Letlandse Russe verskil nogtans in terme van mentaliteit, sommige tradisies en taalgebruik van Russe in die Russiese Federasie – hulle is minder bereid om hul emosies openlik te deel, het 'n rustiger gedrag en beoefen soms 'n besonderse formele beleefdheid. Hier het Letlandse Russe sterk by die inheemse bevolking aangepas. Die Russiese omgangstaal in Letland word dikwels deur enkele Letse terme of frases verryk, maar in die algemeen is die plaaslike taalgebruik konserwatiewer as dié van Rusland.[31]

Politiek

[wysig | wysig bron]

Regering

[wysig | wysig bron]
Die parlementsgebou in Riga. Die Huis van die Lyflandse Ridderskap

Letland is 'n parlementêre demokratiese republiek. Die huidige president is Edgars Rinkēvičs wat in 2023 Egils Levits opgevolg het. Die president word deur die parlement vir 'n termyn van vier jaar verkies met een moontlike herverkiesing.

Die Letse parlement Saeima het een kamer met 100 setels. Die parlement se naam is afgelei van die Poolse Sejm. Dit word elke vier jaar verkies. Die huidige regering regeer sedert 2023 onder leiding van Evika Siliņa.

Administratiewe streke

[wysig | wysig bron]

In administratiewe opsig bestaan Letland uit sewe republiekstede (valstspilsētas) en 36 munisipaliteite (novadi). Daar is altesaam 43 plaaslike owerhede.

Republiekstede
Administratiewe streke in Letland sedert 2021
Republiekstad
Daugavpils
Jelgava
Jūrmala
Liepaja
Rēzekne
Riga
Ventspils

Buitelandse beleid

[wysig | wysig bron]
Letland se Ministerie van Buitelandse Sake in Riga

In Letland se politieke groeperings is daar konsensus oor die hoofoogmerke van die land se buitelandse beleid – soos verdere integrasie van Letland in die politieke en ekonomiese strukture van die Europese Unie en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie. Aangesien Rusland as 'n toenemende bedreiging beskou word, bly die handhawing van nouer betrekkinge met die Verenigde State en die samewerking met ander lande in die Oosseegebied hoofdoelwitte van die Letse regering se buitelandse beleid.[32]

Letland se politieke steun vir lande soos Georgië, Moldowa en Oekraïne en hul politieke en ekonomiese hervorming weerspieël sy eie ervaring. Betrekkinge met Rusland bly gespanne.

Daarteenoor onderhou Letland vriendskaplike betrekkinge met lande soos Duitsland, sy Baltiese buurlande en die Nordiese lande, veral Finland en Swede, wat almal historiese, ekonomiese en kulturele bande met Letland het.

Beleid in die Europese Unie

[wysig | wysig bron]
Letland het in 2004 by die Europese Unie aangesluit en in 2007 die Verdrag van Lissabon onderteken

Letland het saam met nege ander lande op 1 Mei 2004 by die Europese Unie (EU) aangesluit en hou nege setels in die Europese Parlement.

Die invoering van die Europese geldeenheid Euro het hoë prioriteit in Letland se finansiële en ekonomiese beleid geniet, en uiteindelik het die land het op 1 Januarie 2014 by die Eurosone aangesluit.

Veiligheidsbeleid

[wysig | wysig bron]

Letse soldate het tot in die lente van 2009 as veiligheidswagte diens in Irak en in Afghanistan verrig. Terwyl die Baltiese lande se lugruimte tans nog deur ander NAVO-lande beskerm word, is Estland, Letland en Litaue van plan om hierdie lugpatrollies vanaf die jaar 2018 gemeenskaplik te doen.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Ekonomiese ontwikkeling tussen die wêreldoorloë

[wysig | wysig bron]
Die hawe van Ventspils is die besigste in die Baltiese lande

Danksy die uitvoer van agrariese produkte soos botter en spek het Letland ná sy onafhanklikwording 'n oorskot op sy handelsrekening en met die Lat (wat met goudreserwes in die buiteland ondersteun is) vanaf 1922 ook 'n stabiele geldeenheid gehad. Die nywerheidsektor het hom op die verwerking van natuurlike hulpbronne soos hout en vlas toegespits, terwyl ook swaar nywerhede, boumateriale, kragopwekking, tabak, tekstiele, brouerye, assuransies en voedselverwerking tot beduidende ekonomiese sektore ontwikkel het. Die vervaardiging van landboumasjiene is uitgebrei en het ook in Estland se behoeftes voorsien.

Lae inflasiekoerse en die beperking van die buitelandse skuldlas het saam met 'n ekonomiese beleid van staatsinmenging tot in die 1930's gewaarborg dat Letland se welvaart verhoog is, alhoewel hierdie ontwikkeling met 'n sterk politisering van die ekonomiese lewe gepaard gegaan het.[33]

Ontwikkeling ná 1990

[wysig | wysig bron]
Letland se ekonomiese groei tussen 1996 en 2006

Veral in die hoofstad Riga en sy omgewing het hoogs ontwikkelde bedrywe vir die vervaardiging van elektriese en fyn meganiese goedere van hoë gehalte ontstaan. Hier word onder meer huishoudelike toestelle soos koel- en vrieskaste, maar ook motorfietse, klein busse en telekommunikasietoerusting vervaardig. Intussen word daar ook poging onderneem om ander nywerheidsektore soos die tekstiel-, hout- en boumateriaalbedryf verder uit te brei.

Die landbousektor speel steeds 'n beduidende rol. Letland is 'n beduidende graanprodusent en -uitvoerder, terwyl ook veeboerderye 'n groot bydrae tot die ekonomie in die platteland lewer. Die landboubedryf het ná die onafhanklikwording voordeel getrek uit die vinnige privatisering van boerderye. Net soos stedelike nedersettings het ook landelike gebiede begin om hul toeriste-infrastruktuur uit te bou en aan die behoeftes van besoekers uit Wes- en Noord-Europese lande aan te pas.

Sport

[wysig | wysig bron]
Kristaps Porziņģis
Die Arena Riga tydens die Yshokkiewêreldbeker 2006

Yshokkie word algemeen as die gewildste sportsoort in Letland beskou. Die land het al bekende yshokkiesterre opgelewer soos Helmuts Balderis, Artūrs Irbe, Kārlis Skrastiņš, Sandis Ozoliņš en mees onlangs Zemgus Girgensons, wat die Letse mense sterk ondersteun het internasionaal en by die NHL, wat uitgedruk is deur die NHL's All Star Voting te gebruik om aan Zemgus die eerste plek te besorg.[34] Dinamo Riga is die land se sterkste yshokkieklub en speel in die Latvian Hockey Higher League, die hoogste liga, wat in 1931 gestig is. Die Yshokkiewêreldbeker 2006 is in Riga beslis.

Die tweede mees gewilde sportsoort is basketbal. Letland het 'n lang basketbaltradisie, aangesien die Letlandse nasionale basketbalspan die eerste EuroBasket in 1935 beklink en in 1939 die silwermedalje ingepalm het, nadat hulle die eindstryd teen Litaue met een punt verloor het. Letland het al baie Europese basketbalsterre soos Jānis Krūmiņš, Maigonis Valdmanis, Valdis Muižnieks, Valdis Valters, Igors Miglinieks, asook die eerste Letse NBA-speler Gundars Vētra opgelewer. Andris Biedriņš is een van die bekendste Letse basketbalspelers, en hy het in die NBA vir die Golden State Warriors en die Utah Jazz gespeel. Huidige NBA-spelers sluit in Kristaps Porziņģis, wat vir die Washington Wizards speel, Dāvis Bertāns vir die Dallas Mavericks, en Rodions Kurucs, wat laas uitgedraf het vir die Milwaukee Bucks. Die voormalige Letse basketbalklub Rīgas ASK het die Euroleaguetoernooi drie keer agtereenvolgens voor sy ontbinding gewen. Vandag is VEF Rīga, wat aan die Eurobeker deelneem, die sterkste Letse basketbalklub. BK Ventspils, wat aan die EuroChallenge deelneem, is die naasbeste basketbalklub in Letland en het die Latvijas Basketbola līga al agt keer en die Baltic Basketball League in 2013 gewen. Letland was een van die medegashere van die EuroBasket 2015.

Van die ander gewilde sportsoorte sluit in sokker, vloerbal, tennis, vlugbal, fietsry, bobslee en skeleton. Die Letlandse nasionale sokkerspan se enigste deelname aan 'n FIFA-toernooi was tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2004.[35]

Letland is 'n suksesvolle deelnemer op beide Olimpiese Winter- en Somerspele. Die mees suksesvolle Olimpiese atleet sedert Letland se onafhanklikwording is Māris Štrombergs, wat 'n tweemalige Olimpiese BMX-kampioen in 2008 en 2012 geword het.[36]

In boks is Mairis Briedis die enigste Letlander wat 'n bokswêreldtitel ingepalm het, nadat hy die WBC-kruisergewigtitel van 2017 tot 2018 gewen het, die WBO-kruisergewigtitel in 2019 en die IBF / The Ring magazine-kruisergewigtitels in 2020.

In 2017 het die Letse tennisspeler Jeļena Ostapenko die Franse Ope gewen en sodoende die eerste ongeplaaste speler geword wat daarin geslaag het sedert Margaret Scriven in 1933.[37]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Ģērmanis, Uldis (2007). Ojārs Kalniņš (red.). The Latvian Saga (11th uitg.). Riga: Atēna. p. 268. ISBN 9789984342917. OCLC 213385330.
  2. (en) "History – The History of Diplomatic Relations between Finland and Latvia". Finse Ambassade in Riga. 9 Julie 2008. Besoek op 26 Januarie 2019. Latvia declared independence on 21 August 1991...The decision to restore diplomatic relations took effect on 29 August 1991
  3. 3,0 3,1 (en) "Latvia". Central Intelligence Agency. Besoek op 9 Augustus 2024.
  4. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 9 Augustus 2024.
  5. (en) "Population Census 2011 – Key Indicators". Sentral Statistiekkantoor van Letland. 2 April 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Junie 2018. Besoek op 27 Junie 2018.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 (en) "Latvia". Internasionale Monetêre Fonds. April 2024. Besoek op 9 Augustus 2024.
  7. (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 8 Mei 2024.
  8. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 9 Augustus 2024.
  9. (en) "The Constitution of the Republic of Latvia, Chapter 1 (Article 4)". Parlement van die Republiek Letland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Desember 2013. Besoek op 5 Desember 2013.
  10. (en) "Official Language Law, Section 3 (Article 1)". Parlement van die Republiek Letland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2014. Besoek op 4 Januarie 2014.
  11. (en) "Official Language Law, Sections 4, 5 and 18 (Article 4)". Likumi.lv. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Julie 2019. Besoek op 5 Julie 2019.
  12. (en) "Official Language Law, Section 3 (Articles 3 and 4)". Parlement van die Republiek Letland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2014. Besoek op 4 Januarie 2014.
  13. 13,0 13,1 (en) "Latvia's accession to the OECD". OESO. 1 Julie 2016. Besoek op 9 Augustus 2024.
  14. (de) Baltische Rundschau, 19 Februarie 2018: Lettland: Abwanderung sorgt für Probleme. Besoek op 6 Junie 2018
  15. (en) "Latvia in Brief" (PDF). Letse Instituut. 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 8 November 2012. Besoek op 12 Mei 2011.
  16. (en) "Baltic Online". The University of Texas at Austin. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2011. Besoek op 12 Mei 2011.
  17. (en) AS Latvijas valsts meži: Our forests Geargiveer 8 Julie 2010 op Wayback Machine
  18. (de) Jochen Könnecke: Lettland. Ostfildern: DuMont 2009, bl. 50
  19. (de) Könnecke (2009), bl. 50
  20. (en) Peter Van Elsuwege (2008). From Soviet Republics to EU Member States: A Legal and Political Assessment of the Baltic States’ Accession to the EU (1 uitg.). Leiden: Nijhoff. p. 34. ISBN 978-90-04-16945-6.
  21. (de) Alexander Werth, Dieter Kiehl (1967). Russland im Krieg 1941–1945 (1 uitg.). München: Droemer Knaur. p. 124.
  22. 22,0 22,1 (de) Martin Knop (1995). Viktor Arajs. Kollaboration beim Massenmord. p. 231–245. ISBN 3-88619-630-5. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  23. (de) Israel Gutman (1998). Enzyklopädie des Holocaust. Die Verfolgung und Ermordung der europäischen Juden (II uitg.). München, Zürich. p. 855. ISBN 978-3-492-22700-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  24. (de) Israel Gutman (1998). Enzyklopädie des Holocaust. Die Verfolgung und Ermordung der europäischen Juden (II uitg.). München, Zürich: Piper Verlag. p. 856. ISBN 978-3-492-22700-1.
  25. (de) "Für Verbrechen gibt es keine Rechtfertigung". Goethe Institut Lettland. Besoek op 9 Augustus 2024.
  26. (de) Martin Holler (2017). "Lettland". Voices of the victims, RomArchive. Besoek op 9 Augustus 2024.
  27. (de) Israel Gutman (1998). Enzyklopädie des Holocaust. Die Verfolgung und Ermordung der europäischen Juden (II uitg.). München, Zürich: Piper Verlag. p. 856. ISBN 978-3-492-22700-1.
  28. (en) Heinrihs Strods: Sovietization of Latvia 1944–1991. In: Valters Nollendorfs, Erwin Oberländer: The hidden and forbidden history of Latvija under Soviet and Nazi occupations, 1940–1991. Institute of the History of Latvia, Riga 2005, ISBN 9984-601-92-7, bl. 209–227.
  29. (de) Karin Liebhart: Divergierende Erinnerungskulturen und gedächtnispolitische Konflikte als Faktoren im europäischen Integrationsprozess. Das Beispiel der baltischen Staaten Estland und Lettland. In: Utta Isop, Viktorija Ratkovic, Werner Wintersteiner: Spielregeln der Gewalt. Kulturwissenschaftliche Beiträge zur Friedens- und Geschlechterforschung. Transkript, Bielefeld 2009, ISBN 978-3-8376-1175-5, bl. 119–140, hier bl. 126f.
  30. (en) Welcome to Latvia – Latvians and their language
  31. (en) Latvijas Institūts – Ethnic minorities in Latvia: The Russians
  32. (de) "Lettland: Politisches Porträt". Duitse Departement van Buitelandse Sake. 1 Maart 2024. Besoek op 9 Augustus 2024.
  33. (de) Ralph Tuchtenhagen: Geschichte der baltischen Länder. München: C.H. Beck 2009, bl. 87
  34. (en) "Sabres' Girgensons expands lead as top vote-getter in 2015 NHL All-Star Fan Vote presented by SiriusXM". NHL. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Desember 2014. Besoek op 12 Desember 2014.
  35. (en) "Latvia team profile". UEFA. 6 Januarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Februarie 2016. Besoek op 3 November 2015.
  36. (en) Brian Tunney (10 Augustus 2012). "Pajon, Strombergs win Olympic Gold". ESPN. Besoek op 20 Mei 2023.
  37. (en) "2017 results". CBSSports.com. Besoek op 28 Januarie 2019.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Algemeen

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Toerisme

Politiek

Media