Mondopeningseremonie
Die Mondopeningseremonie was ’n Antieke Egiptiese ritueel wat beskryf is in begrafnistekste soos die Piramidetekste.
Towerkrag
[wysig | wysig bron]Die seremonie het behels dat die mond van ’n standbeeld of mummie met towerkrag oopgemaak word sodat dit kon asemhaal en praat. Daar is bewyse van dié ritueel uit die Ou Ryk tot die Romeinse Tydperk. Spesiale gereedskap en gelukbringers is gebruik om die seremonie uit te voer.
Die Egiptenare het geglo ’n mens moet kos en water in die hiernamaals hê sodat sy siel kon oorleef. Die Mondopeningseremonie moes dus verseker dat die persoon in die hiernamaals kon eet en drink.
Die seremonies het uit 75 "episodes" bestaan, en die volledigste vorm het die volgende ingesluit:[1]
- Episodes 1–9 Voorbereidingsrituele
- Episodes 10–22 Besieling van die standbeeld
- Episodes 23–42 Vleisoffers wat verband hou met Bo-Egipte
- Episodes 43–46 Vleisoffers wat verband hou met Benede-Egipte
- Episodes 47–71 Begrafnismaal
- Episodes 72–75 Sluitingsrites
Die Boek van die Dooies bevat ook ’n towerspreuk vir die proses wat die afgestorwene self kon gebruik:[2]
- My mond word geopen deur Ptah,
- My mond se gebondenheid word verlos deur my stadsgod.
- Thoth het gekom ten volle voorberei met towerspreuke,
- Hy maak my mond vry van die gebondenheid van Set.
- Atoem het vir my my hande gegee,
- Hulle word as bewakers geplaas.
- My mond word vir my gegee,
- My mond word geopen deur Ptah,
- Met daardie beitel van metaal
- waarmee hy die mond van die gode geopen het.
- Ek is Sechmet-Wadjet, wat die weste van die hemel bewandel,
- Ek is Sahit onder die siele van On.
Verbintenis met Psalm 51
[wysig | wysig bron]Ooreenkomste tussen die Mondopeningseremonie en Psalm 51 is waargeneem.[3] Die ooreenkomste sluit in:
- Rituele reiniging met spesiale kruie (Psalm 51:4, 9).
- Herstel van gebreekte bene (Psalm 51:10).
- "Here, open my lippe" (Psalm 51:17).
- Offers (Psalm 51:18, 19, 21).
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "The Opening of the mouth ritual". University College London
- ↑ Lichtheim, Miriam (1976). Ancient Egyptian Literature, vol 2. London, England: University of California Press. ISBN 0-520-02965-8.
- ↑ Benjamin Urrutia, "Psalm 51 and the 'Opening of the Mouth' Ceremony." Scripta Hierosolymitana: Publications of the Hebrew University of Jerusalem, volume 28, ble. 222–223 (1982).
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Mondopeningseremonie.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia