Gaan na inhoud

Gebruiker:JMK/Taalgebruik

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

ĤOnderaan volg 'n aantal Afrikaanse spel- en taalriglyne wat dalk moeilike besluite vergemaklik of eenvormigheid kan meebring. Enige opmerkings word verwelkom – ek is reeds op verskillende punte terreggewys. Voorbeelde van hierdie foute duik algemeen op in Wikipedia en in my eie skrywes. Sommige inligting hier word blykbaar as verouderd beskou en wisselvorme word pleks daarvan aanvaar. Die dikwels onkundige en ongeërgde publiek[1] word hul sin gegee, en Van der Merwe se voorstelle van 1966 pas miskien by dié wat strenger korrek wil wees. Voorbehoud: Soos die verwysings aandui word verskillende bronne geraadpleeg wat soms teenstrydige advies gee, eerder as om enige kommissie as die wysheid in pag te aanvaar. Sover ek Wikipedia se standpunt verstaan is dit ook nie korrek om 'n eksterne owerheid oor ons aan te stel nie. Wat hierdie bladsy dan betref kan selfs skrywers aandui wat gangbare Afrikaans is aldan nie.

Algemene foute

[wysig | wysig bron]

Spelling

[wysig | wysig bron]

Meervoude

Een orgidee, twee orgideë
Een sikadee (plant), twee sikadeë
Een sikade (besie), twee sikades
Een ietermagô / ietermago / ietermagog, twee ietermagôs / ietermago's / ietermagogs / ietermagogge[2] of skubdiere, maar nié ietermagoë nie.
  • Met ë: "Gereël" (d.i. bepaal, afgespreek), "reëlmatig" en "bejeën" is korrek.
  • Sonder ë: "Gereëld" moet egter wees "gereeld" (d.i. dikwels, gedurig, periodiek) en "kopieër" moet wees "kopieer", maar wel "kopieë" of "afskrifte" (en nié "kopië"). "Wel en wee" (teenoor "vanweë"), "finansieel", "kommersieel" en "definieer" is ook sonder deeltekens, maar wel "finansiële" en "kommersiële" (en nié "finansieële").
  • Vgl. enkelvoud en meervoud: "prieel" vs. "priële", "dieet" vs. "diëte", "orgidee" vs. "orgideë" (en nié "orgidieë"). "Teorië" moet egter wees "teorieë", maar sommige ingeligte persone verkies wel om "bakterië" te skryf, eerder as "bakterieë", waar lg. die reël is.[3]
  • "Vermoeë" moet wees "vermoë", en "droeë" moet wees "droë".

ge+, be+

[wysig | wysig bron]
  • Die verledetyd van elke werkwoord wat met 'n "i" begin, kry 'n deelteken, bv. "geïmproviseer", "geïsoleer", ens. So ook "geëksamineer", "geëmplojeerde", "ongeëwenaard", "geëerd" en "geënt", maar wel "ge-eg" (getroud) en "ge-e-pos". "Geoktrooieer" ook sonder deelteken. "Toe-eien" het wel 'n koppelteken, maar "toegeëien", nie.
  • So ook "beïndruk", "beïnvloed" ensomeer, maar "geoes" het geen deelteken.

"ei" vs "y"

[wysig | wysig bron]
  • "Vermei" en "lei" (wanneer vermy of ly bedoel word), "toewei", "inweiding" en "oorskrei" is almal foutief, maar "uitreiking" en "uitwei" is korrek. L.W., jy "lei" 'n eentonige lewe, selfs wanneer dié 'n "lyding" is.[4]

1 of 2 (mede)klinkers

[wysig | wysig bron]
  • Die Nederlandse "meerendeel" en "meerendeels" word in Afrikaans "merendeel" (s.nw.) en "merendeels" (bywoord).
  • "Rondstander", "voor-", "om-", "buite-", "teenstander" (d.i. mense) bevat slegs een "a", teenoor "lamp-" of "hoedestaander" (d.i. objekte) wat twee benodig.[5]
  • "Heeltemal" bevat slegs een "a", teenoor "twee maal", "drie maal" en "partymaal" wat korrek is.
  • "Vanoggend", "vanmiddag", en daarom ook "vanaand" met telkens een "n", al klink dit nie na "van-aand" nie.
  • "Weeklag" en "weeklaag", soos ook "rouklag" en "rouklaag" is almal korrek binne die korrekte konteks, en afhangend van die betekenis.
  • "Kommersieel" en "kommentaar" het albei twee m'e, "onmiddellik" het twee l'e, maar "middele" en "onverbiddelik" elk net een.
  • "Emigrant" het een "m", maar "immigrant" twee.
  • Vgl. akkommodasie, komitee, kommissie, galery, millennium, Japannese, Irakkese (of Irakse)[6] en Soedannees.

Ander

[wysig | wysig bron]
  • "s'n" (besitlike vnw.) i.p.v. "sin" (s.nw.): "Die foto is Piet s'n."[7]
  • "Platform" word met 'n "f" gespel, alhoewel die woord afstam van "plat-vorm".
  • "Dagvaarding", i.p.v. "dagvaardiging".
  • "Driedimensionale" is blykbaar te verkies bo "driedimensionele",[8] maar "terrestriale" moet wees "terrestriële".
  • "Ver" en "versover"/"vir sover" het nie kappies nie, miskien na aanleiding van Nederlands. Woorde soos "vêr-linkse", moet dan eintlik "ver-linkse" wees, nieteenstaande die uitspraak van "ver", 'n langer klinker het as dié in "veg", en wel identies aan die "ê" van "militêr", monetêr, rudimentêr, ens. "Insoverre" (ook los geskryf: "in soverre"), en "verreikend" (vgl. "verrykend") het ook geen kappies nie. Daar is wel 'n boek genaamd "Ons kom van vêr" deur Carstens & le Cordeur (2017) — dit blykbaar omdat die kappie in die 21ste eeu wel as wisselvorm aanvaar word.
  • "Verreweg" en "op verre na (nog nie ...)" is terloops albei korrek, maar "by ver", "by verre", "by verreweg" en "ver te veel" word almal by Engels geleen.[9]

Woordgebruik

[wysig | wysig bron]

Afrikaans of nie

[wysig | wysig bron]
"Burgermeesters" aan die werk![10]
  • "Huidiglik" is nié Afrikaans nie, moet wees "tans", of "hede". Vgl. "alternatiewelik" (d.i. so nie, anders; of).
  • "Nogals" moet wees "nogal". Kyk ook "foutlyn", ens.
  • Daar is wel 'n "burgersentrum" (sentrum vir die burgers) in Afrikaans, maar geen "burgermeester" nie (wel in Duits: Bürgermeister, d.i. burger/s + meester). Die "burgemeester" (met verbindings-"e") is die meester van die burg.[10]
  • Nié "kosmopolitaans" (Eng: cosmopolitan) nie, maar "kosmopolities" (kosmopoliet = wêreldburger). "Poliets" beteken terloops gevat/hoflik/slim/oulik, bv. "poliets met die mond".[11]
  • Daar bestaan nié "Australianers" nie, maar wel "Australiërs".[12] Wellig ook geen "Indianers" nie, maar tog "Abidjanners", "Dagestanners", "Dominikaners", "Japanners", "Hirosjimaers" en "Yunnanners". Jy kan wel praat van "Europeane" en "Afrikane", maar mense van Alaska is "Alaskiërs".[2]
  • "Venue" is blykbaar geldige Afrikaans vir 'n plek of lokaal, en ook nie 'n Anglisisme nie.[13] "Wel-af" klink na "well off", maar is blykbaar ook nie 'n Anglisisme nie.[9]

Woorde passend by onderwerp of situasie

[wysig | wysig bron]
  • "Aantal" is geskik vir 'n ongetelde, maar telbare hoeveelheid, bv. "'n Aantal diere het langs die pad geloop". "Getal" word gebruik wanneer getel word, selfs wanneer dit 'n raming is, bv. "Die getal sprekers/sprekertal is 150 000." Die skuinsstreep/solidus koppel die voorafgaande en volgende woord/getal terloops sonder spasies.[14]
  • "Aanspreek" word gereserveer vir hoorders en nie situasies nie. 'n Probleem word dus nié "aangespreek" nie, maar kan o.m. opgelos word, of 'n saak kan beredder, ondersoek, aangeroer, aangepak of in oënskou geneem word, ens.[15]
  • "Uitgesproke" word gereserveer vir uitsprake. 'n "Uitgesproke persoon" (eerder reguit/padlangse) of "uitgesproke kommunis" is dus sinnelose samestellings,[9] en moet wees: 'n openlike/openhartige/rondborstige kommunis.
  • M-studente skryf 'n "skripsie" of "verhandeling", en D-studente skryf 'n "proefskrif".[6]
  • 'n "Klant" bring vir jou "klandisie", d.w.s. hy of sy koop produkte. Maar die "kliënt" betaal vir 'n diens.[9]
  • "Onder andere" het betrekking op mense, instede van "onder meer" wat dui op enige ander objekte
  • So reeds genoem kan mens kan 'n "voor-", "om-" of "buitestander" wees, maar dooie objekte sal 'n "lamp-" of "hoedestaander" wees. Nietemin verwys al voorgenoemde na iets wat staan.[5]
  • "Treinwaens" (insluitend "eetwaens") vervoer mense, maar "treintrokke"/"goederewaens" (hetsy oop of toe) is komponente van goederetreine.[16] Die "platform" van 'n stasie is terloops 'n "perron", en vrag word "per spoor" vervoer, nié "per trein" nie.[17]
  • Geboue en dorpe kan "ontruim" word, maar mense word "verskuif".[6]
  • Jou belasting of skuld is "uitstaande", want dit moet nog betaal, ingebring, gehef of verreken word. 'n Mens is egter nie "uitstaande" nie (vgl. Eng: outstanding, albei betekenisse), maar wel voortreflik, uitsonderlik, knap, ens. Jy kan wel uitstaan uit die verkeer of proses, of uitsteek bo ander as jy lank is.[9] Kyk ook: uitstaan/veel/verdra; 'n kans staan/hê
  • Die syfer "9" is nie opsigself 'n "nommer" nie, maar kan vir numerering (nié "numering"[18]) gebruik word. Daar is terloops net 10 syfers: 0, 1, ..., 9. Getalle (vir hoeveelhede, somtotale) en nommers (vir identifikasie, rangorde) is samestellings van syfers.[19]
  • "Vure" veroorsaak gewoonlik nie skade nie, maar "brande" wel.[16] Albei word terloops geblus of doodgemaak, en nié "uitgesit" nie.[9] Jy kan wel "op hete kole (nié "naalde en spelde") sit", d.i. iets ongeduldig afwag.[9]
  • Mens "spandeer geld" (vgl. "spandabelrig"), maar "bestee tyd" (vgl. "tydsbesteding").[20] Sekere woordeboeke verskil blykbaar hiervan, en "geld bestee" word ook aanbeveel.
  • 'n Projek of veldtog word nié "geloods" nie (nog minder "geloots"), maar eerder "begin", "aan die gang gesit", "van stapel gestuur", "aangevoor", "op tou gesit", "georganiseer", "onderneem", ensomeer. "Loods" (ww.) is die werk van die loods (s.nw), d.w.s. die persoon wat die boot of skip stuur. By vliegtuie is dit die "vlieënier" (nie die "loods" nie.)[21]
  • Musiekstukke (sang, begeleiding) word "uitgevoer", maar toneelstukke (kostuums, dekor) word "opgevoer".[22] Tog behoort albei tot die uitvoerende kunste.
  • "Watersnood" is geen watertekort nie, want volgens sommige is hier geen verbinding-"s" is ter sprake nie,[23] maar wel 'n "snood", oftewel oormaat/oorvloed, soos by 'n oormaat honger: hongersnood. Afrikaanse, Nederlandse en Duitse woordeboeke gee "snood"/"schnöde" egter aan as "gemeen", "laag", "boos" ensomeer, wat nie eersgenoemde verklaring beaam nie. 'n "Snoodaard" sou dan 'n booswig wees, en "snode misdaad" 'n "heinous crime".
  • "Die man wat daar staan" is korrek, en nié "die man wie daar staan" nie. Wanneer besit egter betrokke is kan (en moet) jy sê: "die man wie (nié wat) se hoed afgeval het."[24]
  • Jy "staan nie 'n kans" om te wen nie, maar "het 'n goeie kans" om te wen. Kyk Anglisismes. En jy "wen" nie jou mededingers nie (nie 'n transitiewe werkwoord), maar jy "klop" hulle (wel transitief). Jy kan egter die kompetisie of wedstryd "wen".[12] Kyk woordsoorte:

Korrekte woordsoorte

[wysig | wysig bron]
Kyk ook: Woordsoort
  • "Uitsluitend" en "eksklusief" is b.nwe (beskryf s.nwe, vgl. Eng. exclusive) maar "uitsluitlik" is 'n bywoord (beskryf ww., vgl. exclusively). Dit is m.a.w. verkeerd om te sê "Die klub is uitsluitlik.", dit is "uitsluitend" of "eksklusief".
  • "Marine-" kan aangewend word as marineomgewing, marinebioloog, ens., maar die los byvoeglike naamwoord is "mariene". Soortgelyk is "stereotipe" die selfstandige naamwoord en "stereotiepe" die byvoeglike.[6] Vgl. ook "bydrae" (snw) vs. "bydra" (werkwoord) en politieke vs. polities (bywoord)
  • Jy "groei" nie 'n baard, of mielies of enigiets anders nie, want "groei" is nie 'n oorganklike werkwoord soos Eng: grow nie. Jy "kweek 'n baard" of "verbou mielies", ens. Kyk ook "opgegroei".
  • Om dieselde rede "sink" jy nie 'n skip of enigiets anders nie, maar jy het dit "laat sink", of "tot sink gebring".[9]
  • Die koffie het lekker "gesmaak" en nie lekker "geproe" nie,[12] want jy proe aan die koffie, en nie die koffie aan jou nie.
  • "Die handhaaf van" goeie Afrikaans moet "die handhawing van" goeie Afrikaans wees, want "handhaaf" is 'n werkwoord, en "handhawing" nié.[25] "Opbloeiing", "nasporing", "opstelling", "doodloping" en "vervalling" kan egter vervang word deur "opbloei", "naspoor", "opstel", "doodloop", en "verval", almal selfstandige naamwoorde. Die -ing word net gebruik waar dit noodsaaklik is.
  • "Verseker" is 'n werkwoord, jy kan jou eiendom verseker, of jy kan iemand verseker van die waarde van 'n produk, ens. "Vir seker" beteken egter "beslis" of "gewis",[26] soos in Engels: "for sure".

Sinsbou

[wysig | wysig bron]
Kyk ook: Voegwoord

Voegwoorde van afhanklike bysinne word soms uitgelaat, of word deur die verkeerde voegwoord vervang. In informele spraak, of in aanhalings van informele spraak, kan jy sê: "Ek weet hy het dit gedoen," i.p.v. "Ek weet dat hy dit gedoen het." As jy egter iets meer formeel skryf, soos in 'n artikel, is dit seker minder gepas. Die uitlaat van "dat" in voorgenoemde word aan die invloed van Maleis toegeskryf,[27] wat egter ook die Engelse patroon is, wat ek as eietydse oorsaak vermoed. Voegwoorde word gevolg deur inversie, 'n woordorde waar die werkwoord na die einde van die sin skuif, en waar eenvoud van styl ook nuttig is.[9]

  • Dit is dan verkeerd om te sê: "Hy glo hy sal slaag," en moet wees: "hy glo dat hy sal slaag".
  • Dit is korrek om te sê: "Ek wil weet wat jy dink dat dit is", en verkeerd sonder die "dat".[9]
  • Dit is ook verkeerd om te sê: "Dit wil voorkom dat ...".[9] Vervang dit deur "dit wil voorkom of ..."

Wat onvolledige konstruksies betref, vgl. ook "dit hang af of..." en "dit hang af in watter...". Dit moet wees: "dit hang daarvan af of". Die "van" is noodsaaklik.[9] "Hierdie is nie 'n poskantoor nie" moet wees "Hierdie gebou [of paslike alternatief] is nie 'n poskantoor nie," óf "Dit is nie 'n poskantoor hierdie nie."[28] Kyk ook: werkwoord-komplement

Vae stopwoorde

[wysig | wysig bron]

Suidpunt het my attent gemaak op "in plek" wat waar moontlik as afgesaagde, lui en vae stopterm gebruik word, bv. in die sin: "Sy voer aan dat hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie in plek is nie…" Dis natuurlik beter om duidelik te stel wat jy wil sê, bv.: “Sy voer aan dat hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie /van krag is nie/in werking getree het nie/uitgevaardig is nie/bekragtig is nie/deurgevoer is nie/ter tafel gelê is nie/…”[29] Soortgelyk kan "in diepte" (Eng: in depth) vervang word deur "diepgaande", "grondig", "deeglik", "deurtastend", "deurdringend", of wat die beste mag pas.[18] Modaliteit, 'n gunsteling van waanwyse amptenare op TV, is eweneens 'n woord op soek na 'n goeie definisie, en kan deur die meer spesifieke "proses", "metode", "prosedure", "stelsel" of "werkswyse" vervang word. "Na 'n in diepte ondersoek het ons die modaliteite in plek."

Verwarbare woorde

[wysig | wysig bron]
  • "Gety" is die deining van die see, of strenggesproke 'n tydsbestek binne 'n langer periode. "Hooggety" is bv. een van die getytye, en "herfsgety" die tyd van een van die seisoene, en 'n (onbepaalde) "jaargety" is 'n deel van die jaar. Soos voorgaande kan 'n "feesgety" miskien so 'n onbepaalde tyd wees, een van die feestye, maar nie "kersgety" nie, want daar is kwalik meer kerstye as die enkele een waarna ons verwys. Gebruik dus "kerstyd".[9]
  • Tydig (d.i. betyds) en tydelik (d.i. nie permanent nie) is nié sinonieme nie.[9]
  • Ook is teenswoordig (d.i. nousedae, vgl. tans) en teenwoordig (vgl. aanwesig, kyk ook: bywoon) nié sinonieme nie. Ons praat van 'n "teenswoordige situasie/omstandigheid", en wel van "teenwoordige tyd" (Eng: present tense) wat inderdaad die tyd van 'n werkwoord vir huidige gebeure aandui.[30] Nousedae is terloops nie 'n Anglisisme (Eng: nowadays) nie, maar 'n Afrikaanse skepping soos hedendaags, vanmelewe/vergange se dae, ens.[9]
  • Ek bespeur persoonlik 'n onderskeid tussen "teenwoordig" en "aanwesig". "Aanwesig" dui vir my op 'n onafwendbare insluiting, kieue is bv. "aanwesig" by 'n vis, terwyl "teenwoordig" dui op 'n willekeurige opsie: "die baas was teenwoordig by die vergadering", hy het dit bygewoon.
  • Vgl. aanwending (d.i. toepassing/gebruik) met aanwensel (iets wat aangewen/aangeleer is).[30] "Aanwendsel" is terloops verkeerd, maar "voorwendsel" korrek.[9]
  • Vgl. potensiaal (s.nw., moontlikheid) met potensieel (b.nw. of bw., moontlik sodanig): iets bereik sy volle potensiaal, maar iemand is 'n potensiële vyand.[9]
  • Atlete hardloop die "tweede rondte (met begin en eindpunt) van die baan", maar 'n tennisspeler is in die "tweede ronde" uitgeskakel. Jou span het na die "tweede ronde" deurgedring, en jy kan 'n "tweede of derde ronde" drankies bestel.[12]
  • "Besondere" beteken spesifiek, bepaald, ens., maar "besonderse" beteken uitermate, uitsonderlik, spesiaal, ens.
  • Jy hoef my ook nie te "onthou" om my werk te doen nie, maar jy kan my "herinner".[12]
  • Die gevolge kan "verreikend" (sonder kappie) wees, d.w.s. 'n nadraai hê, en jou taalstudies mag "verrykend" wees.
  • "Tamteer" en "tempteer" is nie sinonieme soos sekere woordeboeke aandui nie. "Tamteer" beteken "pla" of "terg", terwyl "tempteer" met uitlokking te doen het, bv. deur iemand in die versoeking stel of te verlei.[9]
  • Insae (toegang tot inligting) en insig (verstaan inligting) is nié sinonieme nie.[9]
  • Die "onderhawige artikel" is die betrokke artikel, die een onder bespreking, waarop die fokus val, die lig op gewerp word. Dis nie te verwar met "onderhewige" of "onderworpe", wat 'n afhanklikheid, voorbehoud of vatbaarheid aandui nie.[9]
  • "Essens", bv. koffie-essens, is 'n aftreksel of ekstrak, maar "essensie" is die wese van die saak, dit wat essensieel (nie essensieël) is.
  • Iemand "fungeer" as regter, predikant of president, maar tydens die hoof se siekte "ageer" sy plaasvervanger – die "agerende" neem waar of tree in sy plek op. Wanneer jy egter 'n veldtog voer "agiteer" jy. Iemand kan wel as voorsitter "funksioneer", maar "funksioneer" is tipies meer tegnies. Sy verstand, of die masjiene "funksioneer" bv. nie meer goed nie.[9]
  • Die polisie ontvang 'n "klag" (meervoud: "klagte") wat "ingedien" of "aangemeld" is, maar nié "gelê" is nie, en die munisipaliteit ontvang 'n "klagte" (meervoud: "klagtes"). Jy sal iemand "aankla" of "maak 'n aanklag", maar "lê" dit ook nie. 'n Dokument word wel "voorgelê" vir goedkeuring, of jy "lê dit voor".[9]
  • Iets word "aangekondig" wanneer nuwe dinge (nuus) skriftelik of mondeling bekend gestel word — tipies weekliks, maandeliks, seisoenaal, ens. 'n "Afkondiging" word egter gedoen vir 'n noodtoestand of krygswet, d.w.s. regulasies of nuwe verordeninge wat ad hoc in werking gestel word, en letterlik of figuurlik van 'n verhewe plek, balkon, raadsaal of kansel af, d.w.s. afwaarts, gebesig word.[31]
  • Jou observasie word verwoord met 'n "opmerking", maar jou ligte aanklag word verwoord met 'n "aanmerking".[32] Die semanties onverwante "in aanmerking neem/kom" is egter sonder vg. negatiewe konnotasie.
  • Die pad loop "afdraand" of "afdraande", maar nie "afdraende" nie, want dan word iets gedra – afdraande gedra.
  • In alledaagse gebruik is "spoed" en "snelheid" tog verskillend,[9] alhoewel baie sprekers dit nie eerbiedig nie. Die eerste beteken "vinnige/goeie voortgang maak" (dus geen "stadige spoed"), en is 'n werkwoord of proses: ek "spoed met die grondpad langs", of ek "bespoedig die proses/saak", ek "ervaar voorspoed". Die tweede is 'n toestand wat aandui dat iets in vinnige/stadige beweging verkeer: die kar ry teen hoë/lae snelheid (nié spoed, vgl. Eng: at high speed), en die objek val/wentel teen hoë/lae snelheid en/of versnelling. Vgl. "snelheidsperk", en tog "spoedlokval", seker omdat jy "gespoed" (terloops korrek) het.
  • In fisika-onderwerpe is bg. woorde verwant maar volkome onverwarbaar (vgl. Eng: speed vs. velocity) – die eerste is naamlik 'n skalaar en die tweede 'n vektor. Spoed (op 'n tydstip) kan deur een getal (gegewe 'n spoed-eenheid soos km/h) beskryf word, maar snelheid (op 'n tydstip) benodig minstens twee, bv. die spoedgrootte en -rigting in samehang. Jy kry ook spoed- en snelheidfunksies – nuttige begrippe as spoed of snelheid verander. Hierdie verandering of "versnelling" word tipies of by implikasie as 'n vektor aangewend, maar is dubbelsinnig.
  • "Transforms" en "transformasies" is albei goeie Afrikaans in wiskunde, maar is onverwant en nie te verwar nie. "Fourier-"[33] en Laplace-transforms is nie dieselde as "transformasie/s" van basisse van vektorruimtes nie.[34] 'n "Fast Fourier Transform" is dus 'n "Vinnige Fourier-transform", sonder 'n tweede koppelteken of "-asie" – die byvoeglike naamwoord bly apart.
  • 'n Bibliofaag (meerv. bibliofagi, Gr. biblion: boek + phagein: om te eet) is eintlik maar 'n boekwurm, 'n gretige leser. 'n Bibliofiel is 'n boekevriend wat veral fraai, seldsame uitgawes versamel, en "bibliofiele uitgawes" is gevolglik vir diegene wat sulke fraai uitgawes waardeer. 'n Bibliomaan is 'n boekegek of hartstogtelike versamelaar van allerlei boeke, in die breë.[35] Bibliograaf is 'n boekbeskrywer.
  • Blykbaar kan mens praat van 'n plastiese sak, of plastieksak. Soortgelyk is identies(uit Duits)/identiek(uit Frans), fanaties/fanatiek, lakonies/lakoniek(bondig) en numeries/numeriek almal sinonieme byvoeglike naamwoorde.[24] Daar is egter uitsonderings want die betekenis kan effens verskil: eksentries (middelpuntafwykend)/eksentriek(eienaardig), fisies(fisika, tasbare)/fisiek(liggaamlik) en simpaties(senuwees)/simpatiek(meegevoel), krities(negatiewe kritiek)/kritiek(allerbelangrik). 'n Spesie is dus nie "krities bedreig" nie, maar wel "kritiek bedreig".
  • In die Suid-Afrikaanse konteks is 'n "lektor" en "dosent" nie sinonieme nie.[36] 'n Dosent is enige leerkrag in hoër onderwys. 'n "Lektor" is egter een van die akademiese range soos senior lektor, medeprofessor, ens. 'n "Lektor" is dus 'n dosent, maar lg. nie altyd 'n "lektor" nie. Met die uitsondering van "hoogleraar", d.i. professor, word "leraar" deesdae voorbehou vir predikante.[4] Akademiese range is weer nie te verwar met (akademiese) administratiewe range soos dekaan, rektor en kansellier nie. Dié administrateurs is nie dosente nie.
  • Na aanleiding van 'n vraag van Oesjaar: Die woorde "produksie" en "vervaardiging" (vgl. manufacturing) lyk inderdaad na sinonieme, maar eersgenoemde is minder kwalitatief. Dit behels nie noodwendig omskakeling van rustowwe in 'n saamgestelde eindproduk nie, en die lewering daarvan word makliker in een syfer uitgedruk: 'n goudmyn produseer 100 ons goud, 'n kragstasie 100 watt elektrisiteit, visserye 100 ton vis. 'n Fabriek vervaardig egter televisiestelle, waar die vervaardiging op etlike maniere gekwantifiseer en gekwalifiseer kan word.
  • "Guur" en "onguur" is wel sinonieme omdat die betekenis van guur (sagsinnig) tans vergete is. Albei beteken nou onaangenaam, kras, ens.[24]
  • "Koste" en "onkoste" is eweneens sinonieme maar word effens verskillend gebruik: "Ek het groot onkoste gemaak." Een opsie kan "ten koste van" 'n ander afgespeel word, maar "teen alle koste" (Angl.) moet wees "tot elke prys".[4] Albei eersgenoemdes is terloops meervoude, sonder enige simpleks. Pasop dus vir "kostes" en "onkostes".[4] Kyk: meervoudsvorme
Verwarring met Engels
[wysig | wysig bron]
Kyk ook: Valse vriende
  • Jy maak nie 'n "offer" nie, maar wel 'n "aanbod".[37] En iemand is "dapper", d.w.s. "moedig", maar 'n "brawe" persoon is "deugsaam", "fatsoenlik" of "goed".[12]
  • Biljoen is in Engels trillion, en die Engelse billion is "miljard". Biljoenêrs is gevolglik baie skaars, behalwe in lande wat hoë inflasie gehad het. Die aarde is nie vyf biljoen jaar oud (soos een program-aanbieder te vertelle het) nie, want vyf biljoen jaar gelede het die heelal (sover ons verstaan) nog nie bestaan nie.
  • "Eventueel" beteken "moontlikerwys" of "gebeurlik", en is nie ekwivalent aan "eventually", wat "uiteindelik" beteken nie. Vgl. ook "eventualiteit" en "evenement".
  • 'n Joernaal is 'n dag- of logboek, en nie 'n vaktydskrif soos in Engels (journal) nie.[6]
  • Brutaal beteken parmantig of prontuit, vgl. Eng. brutal. "Bombasties" beteken nie dat die persoon luid is of op jou skree nie, maar hy of sy is eerder opgepof, hoogdrawend of opgesmuk. Vgl. bombas en bombasyn.
  • "Kompensasie" word soms as 'n sinoniem vir "vergoeding" gebruik, maar eersg. is eintlik 'n aanvulling wat 'n balans of korrekte instelling meebring.[38]
  • "Familie" is nie gelyk aan Eng. "family" nie, want lg. kan ook op 'n "gesin" dui.[10] Byna soortgelyk is "datum" nie ekwivalent aan "date" nie, want "date" kan verwys na 1952, 'n jaartal in Afrikaans. 6 April 1652 is 'n datum in Afrikaans, en ook 'n "date" in Engels.[9]
  • Etlike "valse vriende" of verwarrings haal nie die woordeboek nie, kyk onder by "foutlyn" endiesmeer.

Voorsetsels en ander

[wysig | wysig bron]
  • Gebruik van "in": Teks word vertaal "in" Afrikaans, nie "na" Afrikaans nie. Jy het "in die eksamen geslaag" is korrek, die "in" moet nie uitgelaat word nie. Hy vertel dit "op Afrikaans", of "in Afrikaans" is albei korrek. Nié "in hulle honderde" nie, maar wel "by die honderde".[9] Iets is nié "in die agtergrond" nie, maar wel "op die" agter- of voorgrond. Nié "in hakies" nie, maar "tussen hakies". Hy sal nié "in 'n maand" betaal nie, maar "binne 'n maand".[9] "In terme van" is nie goeie Afrikaans nie, en kan vervang word deur "betreffende", "wat die ... betref" of "insoverre".[25] Lg. (los of vas) mag na 'n Anglisisme klink, maar word ook in Nederlands aangetref.[9] Vgl. versover.
  • Gebruik van "op": Daar is 'n kans "op reën", en nié "vir reën" nie. "Op vakansie" is blykbaar so korrek as "op toer", "op pensioen", "op diens", "op wag", "op patrollie", "op kommando", "op die begroting", "op my rekening", "op die lys", ens. 'n Heksejag op die "op"-woord, blykbaar as synde Anglisismes, sou "met vakansie", "aan diens" en "met besoek" aan die Afrikaanse taal besorg het. "In berekening" of "in begroting bring" is ook korrek, maar het ander betekenisse. Ook korrek is: "Op die voorgrond/agtergrond", "op die vergadering is besluit tot algehele staking".[9] "Op 'n tydstip" is korrek, maar "op 'n stadium" moet wees "in 'n stadium".[38]
  • Gebruik van "met" (d.i. twee of meer dinge saam): Jy voorsien nie iemand "met" iets nie, maar "van" iets. Jy verkoop nie iets "met" wins of verlies nie, maar "teen" wins of verlies. Ek het baie min gekoop "vir" die geld, eerder as "met" die geld. Jy gaan wel "(saam) met iemand op toer".
  • Gebruik van "na": Jy laat jou boedel "na" aan erfgename, as 'n nalatenskap,[39] maar laat naasbestaandes "agter". "Ná alles" moet wees "per slot van rekening". Die woord "na" dui tipies 'n rigting of volgorde aan, teenoor "tot" wat 'n onderlinge verband aandui waar rigting/volgorde/proses irrelevant is.[9] Korrek: "ek kyk op na die berge", "ek ry van een plaas na die ander", "van die een na die ander oorgegaan" en "van die ooste na die weste".
  • Gebruik van "tot": Korrek is: "afgekort tot ...", "'n terugkeer tot beginsels", "van huis tot huis" of jy nou reis, bel of groet, "van plaas tot plaas", "dag tot dag", "van oos tot wes", "van kwaad tot erger", "hy was homself van kop tot tone", "tot 2000 sak mielies gewen" (verkeerd: "tot soveel as 2000..."). Ook korrek: "al tot 2000 gewen", "tot na 2000 sak mielies gewen" en "tot na vandag nie opgedaag nie".[9]
  • Gebruik van "dit": "langs dit" moet wees "langsaan" of "aanliggend", en oor die algemeen kan "met dit/wat", "na dit", "vir dit", "oor dit", "van dit", "van/vir wat" vervang word deur die betreklike vnw.'e "daarmee/waarmee", "daarna", "daarvoor", "daaroor", "daarvan" en "waarvan/waarvoor".[40] D.w.s., nié "maak jou reg vir dit" nie, maar "maak jou gereed daarvoor".[25] "Oor dit wel sin maak" moet eerder wees "omdat dit sinvol/logies/gegrond is".
  • Gebruik van "as": "dit lui soos volg" en nié "dit lui as volg" nie,[4] en nié "tot soveel as R100 gewen" nie, maar "al tot R100 gewen". Nié "as dit nie vir hom was nie", maar "dis alleen aan hom te danke dat". Nié "wat as dit gebeur" nie, maar "gestel nou dit gebeur". "Sê-nou dit gebeur" is wel beter as eersg., maar ook 'n Anglisisme.[25] Nié "as sulks" nie, maar "as sodanig". Dis wel korrek om te sê: "Sulks het ek nog nooit gesien nie".[9] Verdere Anglisismes hiernaas:

Anglisismes en indringers

[wysig | wysig bron]
Britannia en haar slawe
Kyk ook: Anglisisme

Anglisismes (terloops met hoofletter) klink na Afrikaans of lyk na Afrikaans (wolf in skaapsklere),[41] en slaag daardeur om bestaande uitsprake, woorde en uitdrukkings te verdring, wat mettertyd verleer word.[42]

Uitspraak

[wysig | wysig bron]
  • Anglisismes manifesteer ook in uitspraak, bv. "mieuzeum" i.p.v. "museum",[42] "halleloeja" i.p.v. halleluja, "rabber" i.p.v. rubber, "kouwid" (met dank RSG) i.p.v. covid of kovis, "bouma" (met dank SABC) i.p.v. boma en "tjoena-vangste" (met dank SABC) i.p.v. tunavangste, benewens uitsprake soos "mirsydies", "owdy" en "nissin" vir sekere motorfabrikate.[25] Daar is tog woorde wat etlike aanvaarde uitsprake het, soos bv. "bulletin".[19]
  • Vgl. ook "kontrák" (korrek) met "kóntrak" (verkeerd), "dirék" vs. "dírek", en kilo ("kilo"/"kiloe" vs. "kilou").
  • Kóntak is korrek, maar nie as 'n werkwoord nie. Jy kan wel kontak maak, of in aanraking kom.

Aanvaarde/ingeburgerde Anglisismes

[wysig | wysig bron]

Die volgende staan onder Engelse invloed, maar is vandag 100% Afrikaans:[41]

  • Stasiemeester, magistraat, tenk, lorrie, orraait, boetson (hoendersiekte), sypaadjie, hardeware (kyk daar), geboortemerk, vonkprop, stadsaal, bokoste, trurat, Kaapstad, Oostelike Provinsie, Westelike Provinsie

Daar is ook gewaande Anglisismes:[41]

  • Arriveer, attensie, bombasties (kyk bo), distansie, delikaat, figureer, grasieus, kapituleer, konklusie, korpulent, opsie, onus, palaat,[43] prognose, projeksie, relevant, substituut, simultaan,[43] tirannie en venue het die skyn van Anglisismes, maar is dit nie.

Sintaktiese en vaste uitdrukkings

[wysig | wysig bron]
  • "Meeste mense dink" (Eng: most people think) moet wees "die meeste mense dink".
  • "Hierdie is ..." (Eng: This is ...) moet wees "Dit is ...".
  • "Bloed is dikker as water" moet wees "bloed kruip waar dit nie kan loop nie."
  • Jy sit nie "op naalde en spelde" (Eng: pins and needles) nie, maar "op hete kole", d.i. wag ongeduldig.
  • "Die vet is in die vuur" moet wees "die gort is gaar".
  • "Die emmer skop" moet wees "lepel in die dak steek".[41]
  • "Sy been trek" moet wees "met hom die gek skeer"[41]
  • "Die bal aan die rol sit" moet wees "iets aan die gang kry"[41]
  • "'n Blad uit haar boek neem" moet wees "haar voorbeeld volg"[41]
  • "Hy noem 'n graaf 'n graaf" en "hy draai geen doekies om nie" is blykbaar albei taaleie.[41]
  • Daar bestaan verder 'n magdom/legio Afrikaanse uitdrukkings wat uit Engels ontleen is, waarvan sommige wel, maar ander niks verdring nie.[44]

Voorsetsels

[wysig | wysig bron]
  • Gebruik van "op": Minder korrek as die reeds bg. aanwendings is: "op (in) die bestuur/komitee/staf/redaksie/raad" en miskien "personeel". En heel verkeerd is: Genoeg om op (van) te leef. Julle tyd is op (verstreke). Die geld/kos is op (gedaan). Baie werk op hande (het baie werk / hooi op die vurk). Geen eksemplare op hande (in voorraad / voorhande). Kontant op (by) aflewering. Die woorde tussen hakies (nié "in hakies") is die korrektes.[9]
  • Gebruik van "uit": "uit en uit" (Eng: out-and-out) moet wees "deur en deur", of "oor en oor".[9]

Werkwoorde en aksies

[wysig | wysig bron]
  • Hy het daar "opgegroei" is wel so aanvaarbaar as "grootgeword", alhoewel eersg. na 'n Anglisisme mag klink.[9]
  • Gebruik van "gaan": "Bed toe gaan" is korrek, maar "hulle sal sonder kos moet gaan" moet wees "... sonder kos moet bly". "Alles gaan verkeerd", moet wees "alles loop verkeerd". Iemand het nie "van sy kop af gegaan" nie, maar "... geraak". Hy "gaan in vir sitrus" moet wees "lê hom toe op sitrus".[9]
  • Vgl. ook "ingaan", jy kan op 'n "saak ingaan", maar nie "ingaan vir eksamen" nie. 'n Eksamen word terloops afgelê of gedoen en nie "geskryf" nie.[9] Die lig het nie "uitgegaan" (buitentoe) nie, maar het "doodgegaan", of is "uitgedoof".[9] Vgl. "uitgesit". Jy kan nie "teruggaan op jou woord nie", maar kan wel jou "woord/belofte breek/verbreek".[9]
  • Gebruik van "neem": "tyd neem" i.p.v. kos/besig wees, "as eggenote neem" i.p.v. neem tot eggenote, "maaltyd neem" i.p.v. gebruik/nuttig, "suiker neem in koffie" i.p.v. gebruik, "kans geneem" i.p.v. gewaag, "iemand se part neem" i.p.v. party kies/in bresse tree, "moeite neem" i.p.v. doen, "stappe neem" i.p.v. doen, en "eed neem" i.p.v. aflê/doen/sweer, is almal Anglisismes.[9]
Hierdie mense maak 'n beroep op 'n owerheid om Vryheid van Panorama.
  • Gebruik van "doen": Jy "doen dan moeite", "doen stappe" en "doen 'n eed", maar "bewys" 'n guns.[45] Ook doen jy 'n bekentenis, stappe, 'n keuse, 'n aanbeveling, 'n mededeling en 'n skenking.[6] Iemand sal jou nie "indoen" nie, maar wel "inloop" of "te na kom". Die onsinnige "Ek doen." is ook nie ekwivalent aan Eng: "I do." nie.
  • Gebruik van "maak": 'n Beroep word wel "gemaak", maar let op die voorsetsels van die indirekte en direkte voorwerpe: jy maak 'n beroep op iemand (datief) om fondse (akkusatief), óf, maak 'n oproep om fondse.[4] 'n "Beroep" vereis dus 'n mens as indirekte voorwerp, terwyl "oproep" geen indirekte voorwerp het nie. Vgl ook: aanspreek.
  • Gebruik van "deel": As sinonieme van deel (werkwoord) sien ek "splits", "splyt", "verdeel", en tog 'n paar ander. Onder die invloed van Engels egter, neem dit deesdae die plek in van "meedeel" (s.nw. "mededeling"), of van "aanbeveel", "aankondig", "adviseer", "oordra" en "aanbied". Die dominee wil iets "met ons deel", die aanlyn-verkoopsman wil "iets met ons deel" (eintlik wil hy nie), of aanbieders beskryf hulself as "ons wat deel".[46] Hulle wil jou eintlik "iets meedeel", "van iets vertel", "van iets oortuig", of "iets aanbied".
  • 'n "Kamer deel" is 'n ingeburgerde Anglisisme, maar "ek sal met jou deel", menend "afreken", is verkeerd.[9] Dis korrek om te sê: "wat oorbly is jou deel (s.nw.)", of "dis jou beurt om die kaarte te deel", of "uit te deel", maar daardie deelbeurt is nie "jou deel" nie.[9] Iets of mense word nie in gelyke dele of in groepe "opgedeel" nie, maar wel "ingedeel" of "verdeel".[9]
SABC: "Die haaie het by die eiland uitgehang" — sien is glo.
  • Gebruik van "hang": In Afrikaans word tipies gesê: hy is gehang (Eng: he was hanged), maar "opgehang" is beter.[9] In Engels is dit gebruiklik om te sê: "he was hanging out with" / "we were hanging around" / "hang on/in there", en dit lyk of dit ook in Afrikaans en Nederlands inslag vind, selfs in woordeboeke. Miskien is dit waar "rondhang", "uithangplek", "uithanggeleentheid", "ons gaan daar uithang" of selfs "ons hang by die braaivleis" ontspring het. 'n SABC-program ry dit holrug: "Die haaie het by die eiland uitgehang." Toegegee, die alternatief is soms nie byderhand nie, maar na gelang van konteks kan "oorwinter", "rondswem", "deurkruis", "bevaar", "vertoef/vertoewe", "gedraal", "aangebly", "bly aan daar/hou vas!", "gehou by", "tyd verwyl by", "tyd deurgebring by", "geboer in/by", "gebeusel", "getalm", "gesloer", "-slenter", "-drentel", "geleuter", "getreusel", "lanterfant" ensomeer, oorweeg word. Kyk ook: "hang af".
  • Gebruik van "breek": As sinonieme van "breek" sien ek etlike, wat meestal te doen het met "stukkend maak", bv. beskadig, fynmaal, omdolwe, rinneweer, ruïneer, saboteer, skend, verdelg, vermorsel, verniel, verpletter, verskeur, verwoes, ensovoorts. Dit wil egter voorkom of "breek" onder die invloed van Engels die plek inneem van "onderbreek". 'n "Onderbreking" is egter iets wat ophou en later op dieselde trant aangaan, d.w.s. 'n diskontinuïteit, intermissie, pouse, reses, ruskans, ruspoos, ruspouse, tussenpoos of verposing. So sal die programaanbiedster/er ons dan tot vervelens herinner: "ons is terug na die advertensiebreek," en dié word sommer op die SABC-skerm gespel as "advertensiebreuk". Om die gebroke kykers te spaar kan hulle oorweeg: "ons gaan voort na die reklameflitse". Daar is ook 'n sg. "sigaretbreek", waar sigarette nie gebreek word nie. Of mense "maak 'n breek", "ons breek hier".
  • 'n Droogte kan wel deur reën gebreek of onderbreek word. Jy breek wel 'n belofte / eed / jou woord / slegte gewoonte / 'n mens (geestelik/geldelik ens.) / met jou vriende.[9]
  • Jy het nie die wet "gebreek" nie, maar "oortree"/"geskend". Ook word die rekord nie "gebreek" nie, maar "verbeter". Die perd word nie "ingebreek" nie, maar "mak gemaak", "beteuel", of "gedresseer". Jy "breek nie weg" van 'n organisasie nie, maar "onttrek jou". Vergaderings word nie "opgebreek" nie, maar "verdaag", "ontwrig" of "uiteengejaag".[9] Vgl. kamp opbreek.
  • Gebruik van "kruis": In 2023 se Voetspore-reeks (kyk SABC-Afrikaans) word ons meegedeel dat hulle die "kontinent gekruis" het. Ook op wikipedia word paaie en riviere "gekruis". In Texas word Tuli's en Angusse wel gekruis (of gekruisteel), en op Afrikaans kan jy "kruis" wanneer 'n fisiese kruis of oorkruis beweging ter sprake is. Jy kan ook 'n gebied "deurkruis" met kruis en dwars bewegings, maar om 'n rivier, pad of kontinent te "kruis" of "oorkruis" is albei verkeerd. Vervang dit deur "oorsteek", "oorgaan" of "deurgaan".[9]
  • Jy sal nie in Afrikaans "kamp" of "uitkamp" nie, maar wel "kampeer", "kamp opslaan", en "kamp opbreek".[9] Met die "kampplek" (toutologie) en "kamptoerusting" (d.i. kamp se toerusting) word miskien bedoel "kampeerplek" en "kampeertoerusting".
  • Jy "open" wel 'n gebou/fabriek/winkel/skool/oë/vergadering/dansparty, maar 'n blik/deur/venster word "oopgemaak".[9]
  • Iets "het sin" (d.i. "sinvol"), of dit "het geen sin nie" (d.i. "sinneloos"/"onsinnig"), maar dit kan nie sin maak nie (Eng: it makes sense).[47]
  • Verblyf vir jou gesinsvakansie is nie "geboek" nie, maar "bespreek", so ook jou konsertkaartjies, ens.[10] Jy het nie die dokter "gaan sien" nie, maar "besoek" of "gespreek".
  • "Hande skud" moet wees "handgee", "handdruk gee" of "groet". Mense loop terloops "hand aan hand", nie "hand in hand" nie.[9] Jy "vat" nie iemand se hand nie, want dis nie los van die liggaam nie. Jy "lag in jou vuis", nie "in jou mou" nie. Jy sal nie die dokument/werk/vorms "inhandig" (Eng: hand in) nie, maar "afgee", "indien", "ingee" of "inlewer".[9] Dit kan ook "oorhandig" word, maar is dan nie sinoniem met "afgee" nie.
  • Hy/dit het goed "uitgedraai", moet wees "terreggekom", of daar het "iets goeds van hom terreggekom". Hy kan wel probeer om hom "uit te draai" uit 'n situasie/opdrag/werk. Die soektog sal "op niks uitdraai nie", moet wees: "op niks uitloop nie."[9]
  • Sy het nie haar motor "laat diens" of "gediens" nie, maar "versien" of "herstel". Jy sal nie van al die eet "gewig optel" nie, maar wel "aansit". Jy "vat" nie "jou tyd" nie, maar is "traag", "nie haastig nie" of "haas jou nie", ens. Die saal is nie "volgepak" of "gepak" nie, maar "stampvol".[45]
  • Jy kan iemand wel medisyne "ingee", maar jou motor het nie "ingegee" nie, dit "raak onklaar". Daar is wel 'n "ingewing van die oomblik".[9]
  • "Inlê" is nie sinoniem met "laatslaap" nie,[25] maar jy kan vrugte "inlê".
  • Die kunstenaar het nie "lewendig opgetree" nie (of was hy nogal lewendig?), en dit is nie "lewendig uitgesaai" nie, maar sy optrede is "regstreeks/direk uitgesaai".[48] Jy het nie "op die program ingeluister" nie, maar net "geluister".[9]
  • "Jy berus jou ..." of "ek berus my", ens., is verkeerd, maar "hy berus in ..." (nie wederkerig) is korrek.[9]
  • "Sien ook" is verkieslik "kyk ook", maar albei is aanvaarbaar.[4] Jy het nie iets "opgekyk" nie, maar "nageslaan" of "opgesoek".[49] Iemand "kyk na hom/haarself" in 'n spieël, ander sien om na hulself, sorg vir hulself, is goedversorgd. Jy het nié "jou weg oopgesien" nie, maar "sien kans".[9]
  • Jy het nie "uit sigarette gehardloop nie", maar dit het "opgeraak". Ook "hardloop jy nie weg" van verantwoordelikhede nie, maar "ontduik dit", of "skram weg" daarvan. Jy "hardloop nie weg" met 'n idee nie, maar "sit op loop" daarmee, en jy "hardloop" nie 'n winkel of sg. besigheid (kyk: besigheid) nie. Jy hardloop ook nie "vir al wat jy werd is" nie, maar "so al wat jy kan".[9] "Vir al wat ek omgee" moet terloops wees "wat my betref...", en "vir al wat ek weet" moet wees "versover ek weet...".[9]
  • Jy kan wel sê: "Ek sal bydra", in antwoord op 'n voorstel. "Bydra" verg andersins 'n komplement, d.w.s. "daartoe bydra" of "bydra tot". Die werkwoord-komplement is hier noodsaaklik,[9] maar die werkwoord-komplement "uit" is verkeerd en oorbodig in die sin "ek probeer/toets dit uit". Kyk ook: "uitkamp".
  • Insgelyk is dit verkeerd en oorbodig om te sê: ek het "opgeëindig by", of hy/sy het "opgeëindig as", synde dit nou die "uiteindelike bestemming" of 'n "onverwagse verdrag van sake/plek/bestemming" sou wees. Jy eindig/beland maar net by/in 'n plek of situasie.[50] Jy kan wel iets afend, afeindig of opeis.
  • Sekere werkwoorde vereis 'n spesifieke voorsetsel, gebruik bv. "vervang deur" i.p.v. "vervang met". Vgl. "die dorp is verower van/op die vyand", albei reg.[9] Kyk: werkwoord-komplement

Selfstandige naamwoorde

[wysig | wysig bron]

Generasie-Y & Z

'n Moedervlek was eens nie 'n geboortemerk (Eng: birth mark) nie, maar vandag wel...
Dís nou 'n besigheid!
'n Tweegesig- was eens nie 'n tweegatjakkals nie, maar deesdae wel...
  • "Beton" is die korrekte woord vir "konkreet" in boukunde, en "titanium" moet wees "titaan". 'n "Perdeskoen" is 'n "hoefyster" of "perdeyster", "slakkepas" 'n "slakkegang", "swartbord" 'n "skryfbord", en "hardeware" is na ware "ysterware".[47] Weliswaar rekenaarhardeware en -sagteware, oftewel -apparatuur en -programmatuur.[6] 'n "Teoris" (meervoud: teoriste) is eintlik 'n teoretikus (meervoud: teoretici of teoretikusse). Die klavierkonsert het nie "bewegings" nie, maar "dele". "Wingerde" is nie "wynlande" nie, maar daar is 'n Kaapse wynland (Eng. Cape winelands, kyk meervoudsvorme).[43] In geologie is daar nie 'n "foutlyn" nie maar 'n "verskuiwing". "Kantlyn" is terloops die lyn en nie die -ruimte nie.[9] "Geboortemerk" was na regte 'n "moedervlek", ... eens op 'n tyd.
  • Soortgelyk is 'n "feering" (mikologie) 'n "heksekring", 'n "skaalinsek" 'n "dopluis",[51] en "moorlande" eintlik "veenlande".
  • Jy doen fluks "sake", en nié fluks of goeie "besigheid" nie. 'n Sg. "besigheid" is eintlik 'n "sake-onderneming", vgl. "sakeman", "sakevrou", "sakekern", "sakebrief" en "sakevertroueindeks". Jou "besigheidskaartjie" eintlik 'n "visitekaartjie".[38] Iemand moet hom/haar nie met jou "sake" (i.p.v. besigheid) inlaat/bemoei (i.p.v. inmeng) nie. "Inmeng" is ook korrek: in (nie "met") jou sake inmeng.[9]
  • Iemand is nie 'n "tweegesig" nie, maar jy kan wel 'n "tweegesigbeeld" kry, d.w.s. met twee gesigte. 'n Sg. "tweegesigpersoon" is miskien 'n "tweegatjakkals".[9]
  • "Term" of "terme" is glibberige kalante wat hul maklik tuismaak in Afrikaans. 'n Diens het egter nie "terme en voorwaardes" nie, maar "bepalings en voorwaardes".[10] So ook die "voorwaardes van die vredesluiting" eerder as die "terme" daarvan, en ons "koop op paaiemente" of "vra die verkoper na sy/haar voorwaardes" (d.i. terms of purchase en buying on terms).[9] "In terme van jou opvatting" moet wees "volgens/na jou opvatting", en "in terme van hierdie regulasie" moet wees "volgens/ingevolge/kragtens hierdie regulasie".[9] "In terme van" moet wees "betreffende", "wat die ... betref" of "insoverre".[25] "Met die term verstaan ons" moet wees "hiermee verstaan ons", of "onder die term verstaan ons".[9]
  • Die woorde wat in vaktaal gebruik word is wel "terme", en ons praat dan van "terminologie", d.w.s. die navorsing van, en skepping van terme. "Terminografie" is die praktyk van termwerk, insluitend standaardisasie en die saamstel van termlyste en woordeboeke.[52]
  • Wanneer jou motor onklaar raak (nie "ingee" nie) en jy dit wil versien (nie "laat diens" of "gediens" nie), soek jy nié na "parte" nie, maar wel na "onderdele".[45] Daar is wel 'n "smeerdiens".[9] Blykbaar koop ons by die vulstasie "ongelode petrol" eerder as "loodvrye petrol", want petrol sonder die toevoeging bevat reeds lood. 'n 4x4-voertuig is eintlik 'n viertrekvoertuig, d.w.s. met oordraratkas na 2de ewenaar, terwyl 'n voertuig met alwielaandrywing daarsonder (nié "sonder dit") klaarkom.[43]

Foutiewe (en korrekte) meervoudsvorme

[wysig | wysig bron]
Sg. "bylaag" en "toelaag" skep 'n probleem, want wat sou die meervoude wees?[9]
  • "Statistieke" (Eng: statistics) moet wees "statistiek" as dit gaan oor die metode / vakgebied / wetenskap van massaverskynsels. Verskillende soorte of dokumente hiervan kan wel "statistieke" genoem word, bv. "Statistieke SA". "Skoolgrond", "dorpsgrond", "hoofkwartier", "nasionale argief", "Natalse middelland", "Uniegebou", "wynland" van die Kaap, "Victoriawaterval", "Howickwaterval", "Kirstenbosch botaniese tuin", ens., ontvang in Afrikaans geen meervoud[53] soos in Engels nie. Die opname is aldus uit die "argief" (en nie "argiewe") opgediep, al bestaan die argief uit meer as een lêer, kabinet of vertrekke. Vgl. "kampioenskap" met "kampioenskappe", wat uit 'n wedstrydreeks of -reekse bestaan.
  • Jy dra ('n) "bril" en nie "brille" (Eng: glasses) nie, en "toestande" kan ook maar "toestand" wees,[9] al word dit deur verskillende faktore bepaal. Ook sê jy nie jou "gebede" op wanneer dit een gebed is nie. Vgl. die "massas", ons "invoere" en "uitvoere", ons "oortuigings" en die "werksplase".[9] Vitamiene C moet wees vitamien C (kyk onder). "Die tweelinge" verwys na minstens 4 wesens, maar in Engels kan twins 2 wees, en twin een wese.
  • Jy sit jou "studie" voort, al bestaan dit uit verskeie modules, vakke, ens.[6] "Studies" verwys na uiteenlopende studierigtings of -projekte wat nie in direkte verband staan nie. "Eksamen" ontvang slegs die meervoud "eksamens" as dit oor jare strek, want een eksamen sluit verskillende vraestelle in. Soos elders genoem slaag of druip jy nie 'n eksamen nie, maar kan wel "in die (nié jou) eksamen druip/slaag",[9] want die eksamen is hier nie die direkte voorwerp, of akkusatief nie.
  • Party woordeboeke gee "keus", meervoud "keuse", ander weer "keuse" en "keuses", of albei. In ieder geval doen jy jou keuses (of keuse, of keus) en maak hulle nie. Molekuul/molekule/molekules is ewe dubbelsinnig.[9] Let op die wisselvorme: vitamien (mv. vitamiene) vs. vitamine (mv. vitamines), proteïen (mv. proteïene) vs. proteïne (mv. proteïnes), én aspirien vs. aspirine (albei enkelvoud).[6] Rakende klag/klagte/klagtes, kyk bo.
  • "Slagpale" is wel korrek, en die meervoud bly maar "slagpale". Ook is "tussenpose" (nié "tussenposes") die korrekte meervoud, want die enkelvoud is "tussenpoos".[9] Vgl. "pouse", meervoud "pouses".
  • Die Klein- en Groot-Swartberge in samehang lewer die Swartberge, al drie in die meervoud. 28+ ander berge in Suider-Afrika staan bloot as Swartberg (enkelvoud) bekend. Soortgelyk is Suurberge (meervoud) slegs die bekendste van etlike Suurberg-berge in Suid-Afrika. Vgl. Drakensberge.

Ander indringers

[wysig | wysig bron]
  • "Tyd" word dikwels verkeerd aangewend. "Vir 'n lang tyd" (bloot: "lank") en "oor tyd" is Anglisismes, maar jy kan wel "oortyd werk". "By hierdie tyd" moet wees: "teen hierdie tyd." Die dirigent moet nie "tyd hou" nie, maar "maat hou". "Vat jou tyd" moet wees "gebruik jou tyd", ens. "Wat is die tyd?" moet wees: "hoe laat is dit?" "In 'n paar uur se tyd" moet wees: "oor/binne 'n paar uur". 'n Wedstryd se "halftyd" is na ware die "rustyd". "Ek het nie tyd vir hom nie" moet wees: "ek duld hom nie(?)", "ek het geen geduld met hom nie", "kan hom nie uitstaan/veel/verdra nie."[9]
  • "Al die tyd" is korrek, maar tipies dui "al" op iets wat getel kan word. "Al die pad gestap", of selfs "al die veld is vrolik", is dan Anglisismes, en die korrekte sinne sou wees "die hele pad gestap", of "die ganse/hele veld ...". "Al twee van hulle" is 'n Anglisisme, en moet wees "(hulle) al twee" of "(hulle) albei". "Twee van hulle", d.w.s. twee uit 'n groter getal of groep, is korrek.[9]
  • "Van tyd tot tyd" is blykbaar nié 'n Anglisisme nie, en word ook in Nederlands en Duits opgemerk. "Met die loop van (die) tyd" is blykbaar ook korrek,[9] maar kan miskien vervang word deur: "met verloop van tyd", "mettertyd" (of "met tyd"), "op die langeduur", "gaandeweg" of "algaande", ens. "'n Geruime tyd" is ook nié 'n Anglisisme nie.[9] Kyk ook: tydig, -gety.
  • "in gemeen" (Eng: in common) moet wees "met mekaar gemeen", of "niks gemeens met mekaar".
  • "Skool bygewoon" (dankie Google-vertaler) moet wees "op skool gewees by..." of "skool gegaan by...". Ook "studeer aan Harvard-universiteit", nie "bygewoon".
  • "Sover terug as 1916", moet wees "reeds in 1916", maar "10 jaar/maand/rukkie terug/gelede" is korrek.
  • "Soveel so" is 'n Anglisisme. Dit moet vervang word deur "sodanig dat", "tot so 'n mate", "dermate", "derwyse", ens.
  • "Kleurvol" (Eng: colourful) moet wees "kleurryk", en "soomloos" (Eng: seamless) moet wees "naatloos".
  • Jy is nie "oop" vir oortuiging nie, maar "vatbaar vir...".[45] Iemand is ook nie "beïndrukbaar" nie, maar "ontvanklik" of "vatbaar vir" idees, ens.[47]
  • Klakkeloos: jy het niks "uitgemis" nie, maar "misgeloop", en die maatskappy het nie sy dividend "'n mis gegee" nie, maar oorgeslaan of teruggehou. Jy kan wel die bus mis of misloop, maar het dit liefs verpas.[9] Jy het ook nié die saak "opgebring" nie, maar "opgehaal", en het liefs nie jou kinders "self opgebring" nie.
  • "Geboorte gee" moet wees "lewe skenk aan".[9]

SABC-Afrikaans

[wysig | wysig bron]

Dié is nogal 'n bron van vreugde, want jy leer hoe om dinge nié te sê nie, of minstens sit dit jou aan die dink. 'n Paar voorbeelde:

  • "Die roofdier wil nie sy posisie weggee nie." Of wil hy dit miskien nie verklap of verraai nie?
  • "Die mense/honde het die spoor opgetel." Of het hulle begin spoorsny, of ruik of gewaar hulle dit?
  • "Hulle het wat dit vat om bo uit te kom." Of het hulle wat dit verg?
  • "...die eintlike regte lewe (Eng: real life) nagmerrie." Hulle bedoel maar: die werklike nagmerrie.
  • "...die seekoeie se rolpoeding voorkoms (Eng: roly-poly looks)." Miskien moet hulle sê: potjierol voorkoms?
  • "...aggressie op 'n vlak van sy eie." Miskien: ongeëwenaarde aggressie?

Die Pretoria-dialek insgelyk:

  • "Hulle is spiteful want hulle wil bribes hardloop." Miskien: Hulle is astrant / steeks / stuurs / hardkoppig / moedswillig / opsetlik want hulle soek omkoopgeld / afkoopgeld / smeergeld / wil konkel / wil my afrokkel.
  • "Hierdie boek bevat pryslose inligting." My woordeboek is seker verouderd.

Germanismes

[wysig | wysig bron]
  • Die woord "vele" is blykbaar 'n ander indringer, en die korrekte woord sou wees "heelwat", "baie", "verskillende", "etlike", "allerlei", "talle", of wat die situasie mag vereis. Ook is "albei" 'n beter keuse as "beide", maar "die beide gevangenes" of "die beide Amerikas" is blykbaar gangbaar.
  • "Meerdere mense" moet wees "verskeie mense", maar jy kan praat van "meerdere aspekte".[4] "Eenduidig" moet eerder wees "ondubbelsinnig,"[42] maar eersgenoemde is gewild en miskien nodig in wiskunde-vaktaal. Mens kry byvoorbeeld "eenduidige funksies", ens.
  • Aanvaarde germanismes is "eerstens", "tweedens", "hoogstens", ens.[9]

Pleonasmes

[wysig | wysig bron]
Kyk ook: Pleonasme
  • 'n "Onverwagte verrassing" is steeds net 'n verrassing, en 'n "eindresultaat" is die resultaat, slotsom, afloop, nasleep, konklusie, uitkoms, uitwerking of 'n voortvloeisel.[54] "Ek persoonlik" "stap liefs te voet," en vir dié wat "vooruit beplan" het, is dit "bowendien ook" oorbodig om al die "ware feite" "weer te herhaal".[55]
  • Die foutiewe uitdrukking van die oortreffende trap, "mees algemeenste", moet wees "mees algemene" of bloot "algemeenste". "Meer deftiger" moet wees "meer deftig" of bloot "deftiger". "Meer dikwels" moet wees "meermale", en "minder dikwels", "mindermale".[9]
  • Wat toutologië betref sê hulle ons moet sê "Gondwana" en nié "Gondwanaland" nie, want Gondwana sou reeds "land van die Gonde" beteken. "Gondwanaland" ontspring egter reeds by die Oostenrykse geologie-professor Eduard Seuss, en aangesien "wana" eintlik bos beteken, is ek onseker oor die saak.[56]
  • Ingeburgerde toutologië is tortelduif, windhond, lintwurm, walvis, winkelhaak en verskillende soorte ('n pleonasme).[9] Kyk: samestellings.

Los en vas

[wysig | wysig bron]

Los en vas skryf (nié "los- en vasskryf") is 'n taaltameletjie wat met 'n kennis van woordsoorte bygelê word:[57]

  • Byvoeglike naamwoorde kan attributief of predikatief aangewend word, en staan dus altyd los: "privaat sak" (a.), en "die sak is privaat" (p.) Vgl. "privaat skool", "privaat belange". Die mens is wit, ensomeer, dus 'n wit, swart of bruin mens. 'n "Reuseaandeel" want die "die aandeel is reus"?? "Reuse-" is dus nie 'n b.nw. nie maar 'n s.nw. met verbindings-e en word net soos "leeueaandeel" vas geskryf.
  • Woorde soos "baie", "effe", "ewe" en "heel" word gewoonlik deur 'n bywoord of b.nw. gevolg, en help ook om lg. te onderskei. Vgl. bv. "skaarsste" teenoor "skaarste". Droë seisoen en nat seisoen, maar wel reënseisoen. Lengte en breedte is nie b.nwe nie, en ons skryf dus lengte- en breedtegraad.
  • Betekenisverdigting lewer egter samestellings soos sagtevrugte, Bloutrein, bruinsuiker, bruinbrood, growwebrood,[58] langbroek en donkerkamer,[59] benewens veral siektename soos bloutong en spesiename soos wildehond, bloubok, blouduiker, bloublasie, bloukappie,[58] rooibok, mooimeisie, geelperske en geelwortel wat almal net soos "skoolboek" vas geskryf word. "Die boom het 'n geel wortel," bevat egter geen samestelling nie, en die woorde word dan los geskryf.[60]
  • Samestellings in byvoeglike naamwoorde en bywoorde word ook vas geskryf, bv. helderrooi, grysgroen of saggeaard, benewens "goeie-" in groetvorme soos goeiemôre, goeiemiddag, goeienaand, goeienag en goeiedag.[18]
  • Groot- en Klein-Winterhoekberge is geografiese name wat volgens die AWS met koppeltekens geskryf word.
  • Woorde wat tydsduur of mate aandui, gevolg deur ’n byvoeglike naamwoord, word los geskryf. Voorbeelde is "16 maande lange/oue", "vier weke lange" en "drie uur lange".[61] "Aldrie" moet wees "al drie".
  • Vgl. wel "agt uur" (tydsduur) met "agtuur" (tydstip, vas). Vg. is vergelykbaar met derdejaar(student), of derdegraad(tamaties). Die tamaties is wel "derde graad", en die student in sy/haar "derde jaar".[58] Kyk: samestellende afleidings.
  • "Op pad" is twee woorde, bv: "Hulle is op pad huis toe". "Oppad" en "huistoe" is dan verkeerd.
  • "Al weer", "nog steeds", "weer eens", "bekend staan", "op sigself" (nié "in sigself"),[20] "so iets" en "onder lede" is ook telkens twee woorde.
  • Lg. het blykbaar nou die wisselvorm "weereens". "Ek/my self" en "ek/myself" is ook albei korrek.
  • "Temeer", "destemeer", "alte-/alhoemeer", "-minder", "-verder", "-sterker", "-swakker", "-stadiger", "-vinniger" kan blykbaar vas geskryf word, alhoewel die AWS neig om dit los te skryf.[9]
  • "Agslaan" en "voetslaan" is telkens een woord, maar "munt slaan" twee.
  • "Tegemoetgaan" en "tegemoetgegaan" is telkens een woord, maar "ten gronde gaan", "te water laat".[39]
  • Soortgelyk sal jy sal iets "ter syde stel" of "ter tafel lê" en dié word los geskryf, maar "tersydestelling" en "tertafellegging" is sg. samestellende afleidings wat vas geskryf word.[62] Vgl. Ou Testament vs. Ou-Testamenties, Derde Wêreld vs. Derdewêrelds, dertiende eeu vs. dertiende-eeus, tweede graad vs. tweedegraads, vyf jaar vs. vyfjaarliks.
  • B.nw./telwoord + s.nw. as bepaler van 'n opvolgende s.nw. lewer bv. die volgende samestellings: Derde Wêreld vs. Derdewêreldlande, droë land vs. droëlandboerdery, lang termyn vs. langtermynbeplanning.[62]
  • "Skeef loop" en "skeefloop" is onderskeidelik letterlik en figuurlik te verstaan. Vgl. ook "onder druk" en "onderdruk".[63] "Aan mekaar" beteken "vir/teen elkander" en "aanmekaar" beteken "aanhoudend".[64]

Formate

[wysig | wysig bron]
  • "100 000" kry geen komma in Afrikaanse sinne nie.
  • "06:30" is die enigste skryfwyse vir half sewe, en dan net vir die oggend. Afkortings vir voormiddag en namiddag word deesdae ontmoedig.
  • Afkortings BSc en BCom en ander kwalifikasies word sonder punte geskryf. So ook is "mnr Pienaar" en "prof Dreyer" sonder punte.[15]

Benamings

[wysig | wysig bron]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Antieke Griekse wêreld

[wysig | wysig bron]

By artikels rakende Griekse geskiedenis word meestal op die spelling berus, soos deur C.A. van Rooy[65] aangegee. Dit behels byna deurgaans spelling soos "Plutarchos" eerder as bv. Plutarchus of Plutargos. Die oe-klank word deurgaans met 'n "u" geskryf, sodat die keuse sal wees Suda, eerder as Soeda of Souda. "-aea", soos in Plataea (in Engels) word gespel "-aia", d.w.s. Plataia, Alkmaionide, ens.
Van Rooy, en wikipedia, blyk enkele uitsonderings te aanvaar, soos bv. Masedonië, eerder as Makedonië, waaraan heelwat tale wel voorkeur gee. Afrikaanse skrywer Dan Sleigh skryf dit wel Makedonië, en Kappadokië, in teenstelling met Trasië. 'n Verdere nuttige riglyn is P.S. Dreyer et al.[66]

Antieke Romeinse wêreld

[wysig | wysig bron]

Beste praktyk blyk te wees om die oorspronklike Latynse spelling te volg, met slegs die uitsondering van die "u" vir die "v", die "j" vir die "i", soos in Trajanus en Pompeji, en sekere terminologie wat verafrikaans is, soos Konsul i.p.v. Consul. Met verwysing na die Romeinse tyd kan sekere Griekse plekname waarskynlik aangepas word. Onder meer kan Kilikië bv. Cilicië word in 'n latere era, en Issos kan Issus word.

Antieke Midde-ooste

[wysig | wysig bron]

Name soos Toetank(g)amoen, Aboe Simbel en Hammoerabi, in stede van Tutankamun, Abu Simbel en Hammurabi word in Afrikaanse bronne opgemerk. Buite die direkte Grieks-Romeinse invloedsfeer word die "oe" dan wel gebruik.

Politieke geskiedenis (antiek of modern)

[wysig | wysig bron]

In Engelse artikels oor antieke onderwerpe word maklik gepraat van "classes" wat egter na "stande" verwys, of na "states" wat eintlik na "stadstate" verwys. Afrikaanse wikipedia kan oorweeg om hierop te verbeter en die terme binne hul paslike konteks aan te wend.

Stande en klasse

[wysig | wysig bron]
  • Stande (Eng: estates), wat klasse voorafgegaan het en nie meer bestaan nie, word onderverdeel in die gewone mense (gepeupel ens.), geestelikes en landadel (Eng: landed gentry).
  • As onderskeibare konsep het klasse met die nywerheidsrewolusie (vanaf 1750) ontstaan, en word dan onderverdeel in die proletariaat (werkers), bourgeoisie (middelklas, burgery, winkeliers en mense met alledaagse idees)[67] en kapitaliste (ondernemers). Marx en kie het hul teorieë op hierdie klasse staangemaak, en hierdie klasse bestaan steeds.
  • 'n Aristokrasie is egter 'n voorbeeld van 'n stand óf klas wat sigself op oorerflike wyse aan die bopunt van die stand- of klasstruktuur plaas, bv. regering deur 'n oligargie of deur 'n ander bevoorregte of intellektuele sosiale orde.[67]

Stadstate en state

[wysig | wysig bron]
  • Stadstaat is die paslike begrip vir politieke instellings regdeur die antieke tyd en middeleeue.
  • Die staat as onderskeibare begrip word in Machiavelli (oorl. 1527) se geskrifte bespeur, maar word eers wetlik bepaal deur die Vrede van Wesfale, 1648. 'n Staat word gedefinieer as 'n standhoudende regsliggaam met internasionaal erkende onafhanklikheid, wat beskik oor 'n afgebakende grondgebied, bevolking en regering.[68] Die Unie van Suid-Afrika word 'n staat in 1931 (nié 1910), danksy die Statuut van Westminster, maar dan steeds met 'n buitelandse monargie as staatshoof. Dié word eers in 1961 met SA-republiekwording afgeskaf, terwyl Indië dit reeds in 1950 doen, maar aanbly in die statebond.
  • State word op twee wyses onderverdeel, naamlik owerheidsvorm (interne aard) en staatsvorm (interstaatlike verband). Die owerheidsvorme sluit bv. die mag-, stande-, klasse-, volk-, demokratiese, welvaart-, liberale, nasionale en regstaat in,[69] of sekere kombinasies hiervan. Staatsvorm is die organisasie daarvan as unie of federasie, oftewel uniaal of federaal.[68]

Ander

[wysig | wysig bron]

Hindoe- en oosterse name

[wysig | wysig bron]

By artikels rakende Hindoe- en oosterse name, kan ons seker gelei word deur woorde soos "Foedji", "Hindoe", "Hindi" en "Kalkutta". Let op die verskil tussen die "oe"- en "u"-klank.

Plekname in Afrika

[wysig | wysig bron]
  • Plekname in Afrika lewer 'n groot uitdaging; voorstelle is welkom. Dit wil blyk of Livingstone en kie name op wyses weergegee het, wat dikwels onbestrede aanvaar word.
  • As ek wes-Vrystaat skryf verander my medegebruikers dit na Wes-Vrystaat, en wes-Mediterreens na Wes-Mediterreens. 'n Goeie vraag is dan of Bloemfontein in die wes-Vrystaat is aldan nie. As die wes-Vrystaat nie amptelik afbaken is nie, weet ons nie. Daarom gebruik ek persoonlik 'n kleinletter, want dis nie 'n naam nie maar 'n beskrywing. Soortgelyk "sub-Sahara" in 'n sin, wel nie as opskrif, want tensy ons van bakens verskaf word is die noordgrens van hierdie gebied vaag en verander na gelang van weersomstandighede ensomeer. Sahara benodig natuurlik 'n hoofletter want dis 'n naam, nie van 'n amptelik afgebakende gebied nie, maar van 'n woestynarea.
  • Let daarop dat die woord "nedersetting" nie noodwendig 'n gehug, dorp of stad is nie. Die nedersetting van die 1820 Setlaars was aanvanklik amptelik, geografies en standhoudend afgebaken as die plase wat aan hulle toegeken is. Kort daarop het setlaars die plase verlaat en dorpe gestig. Op al hierdie stadia was dit nog 'n enkele nedersetting, hetsy dit afgebaken was, verander het, aldan nie.

Spesiename

[wysig | wysig bron]

Name word vas geskryf, soms met 'n koppelteken. Hoofletters word beperk tot een per naam, bv. Gespikkelde katonkel, i.p.v. Gespikkelde Katonkel. Voorkeur word gegee aan 'n wêreldwye perspektief om dubbelsinnighede uit te skakel. Soortname in Germaanse tale word gewoonlik beperk tot maksimum twee dele, soos in die bg. visspesie, en nie soveel as drie dele, wat dikwels by Engels die geval is nie.

Persoonsname

[wysig | wysig bron]

Die tendens in koerante is blykbaar om persoonsname te skryf soos die persone dit self geskryf het. So word daar gepraat van "Louis Tregardt", maar wel "S.P.E. Trichardt".

G-klank

[wysig | wysig bron]

Name van persone, plekke of organisasies word dikwels met 'n "ch", "k", "kh" of "h" gespel, eerder as 'n "g", bloot omdat die name via Romeine of Britte oorgelewer is wat nie die g-klank magtig was/is nie. As die oorspronklike uitspraak gehandhaaf sou word sal Bethlehem wees Bethlegem, Nehemia sal wees Negemia, Hagai sal Gaghai wees, ens., Hamas sal wees Gamas, Khartoem sal wees Gartoem, Khama sal wees Kgama, en Ahmed sal soms Agmed wees (vgl. Ahmed Kathrada), en Toetankgamoen is 'n benadering van die oorspronklike uitspraak. In o.m. Grieks, Spaans en Xhosa mag die g-klank ook verbloem wees as ander letters.

Kyk ook

[wysig | wysig bron]

en artikels

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Afgetrede Maj. Nicholas Silverbottom rapporteer bv. die volgende in 'n brief aan Beeld:
      Lief Editeur, ek neem op my woordboek om te addresseer jou in goed Afrikaans – beter dan die Engels-bespikkelde taal ek hoor in generaal. Ook sodat jy kry die mening en verstaan goed die rede vir my regverdige verontwaardiging. Ek woon op 'n gholf-boedel, omring van Afrikaans-praters, maar wanneer hulle praat ek bedek my ore. Hulle violeer Koningin se Engels deur dit by die skrof van die nek in te sleep by hulle Afrikaans. Hulle onvermoë (die gebruik van twee dotte op letters dryf my laf en op teen die wal!) om te meester selfs die baar rudimente van beskaafde kommunikasie is anderkant die bleek! Ek neem die sterkste eksepsie tot die diefstal van die Koningin se woords! Waarom kan die mense van die Afrikaans woordboek nie skep woorde vir "amazing", "awesome", "songs" en die soortgelykes nie; waarom stoep so laag om woords uit 'n ander taal te steel? Dit is eenvoudig nie krieket nie! Mag ek suggesteer dat Afrikaans-praters liewer altesaam oor skakel tot Engels? Dit behoort nie te moeilik te wees, want uit hulle praat is dit helder dat hulle reeds 'n groot woordskat van Engels het.
    Kyk: Silverbottom, Nicholas, Maj. (Ret.) (28 Julie 2022). "Afrikaners wat so Mengels praat". Beeld. p. 20.{{cite news}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  2. 2,0 2,1 Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (10de Uitgawe, 2009): Lys van buitelandse geografiese name met afleidings, p. 522
  3. Taalgesprek: Bakterië/bakterieë
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 4,5 4,6 4,7 Word om ewe aanvaar in Die Korrekte Woord, deur H.J.J.M. van der Merwe, 1968
  5. 5,0 5,1 Taalwenk 5, Louis van Rooyen, savryskutskrywer
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 6,4 6,5 6,6 6,7 6,8 Afrikaanse Taalgids, Kantoor vir Meertalige Taaldienste, Universiteit van Johannesburg, deur Tisa Viviers (2018)
  7. Taalgebruik: s'n, sin, 12 September 2024, Maroela Media
  8. Volgens 'n taalkundig-oplettende fisikaprofessor, maar nie volgens woordeboeke nie.
  9. 9,00 9,01 9,02 9,03 9,04 9,05 9,06 9,07 9,08 9,09 9,10 9,11 9,12 9,13 9,14 9,15 9,16 9,17 9,18 9,19 9,20 9,21 9,22 9,23 9,24 9,25 9,26 9,27 9,28 9,29 9,30 9,31 9,32 9,33 9,34 9,35 9,36 9,37 9,38 9,39 9,40 9,41 9,42 9,43 9,44 9,45 9,46 9,47 9,48 9,49 9,50 9,51 9,52 9,53 9,54 9,55 9,56 9,57 9,58 9,59 9,60 9,61 9,62 9,63 9,64 9,65 9,66 9,67 9,68 9,69 9,70 9,71 9,72 9,73 9,74 9,75 9,76 9,77 9,78 9,79 9,80 9,81 Van der Merwe, H.J.J.M. (1977). Die Korrekte Woord – Afrikaanse Taalkwessies (6de uitg.). Pretoria: J.L. van Schaik Bpk. p. 66 ("dat"), 138-139 ("inversie"), 201 ("on-Afrikaanse woordorde"), 302 ("vernoem"), ens. ISBN 0-627-00141-6.
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 10,4 ‘Burgermeester’ - 5 taalfoute wat jy maak sonder dat jy weet, Riaan Grobler, 22 Oktober 2015 06:20
  11. Woord: poliets, 9 September 2024
  12. 12,0 12,1 12,2 12,3 12,4 12,5 Nóg 10 taalfoute wat Afrikaanssprekendes (onbewustelik) maak, Riaan Grobler, 08 Oktober 2015 08:46
  13. 5 ‘anglisismes’ wat nie regtig anglisismes is nie, Riaan Grobler, 15 Oktober 2015 05:47
  14. Woord: solidus, Maroela Media, 16 September 2024
  15. 15,0 15,1 Taalwenke 2, saskrywersendigters
  16. 16,0 16,1 Taaldinge, RSG, 2 Februarie 2020
  17. Taalgebruik: trein, Maroelamedia; Skryf Afrikaans A-Z, Pharos, 9 Januarie 2020
  18. 18,0 18,1 18,2 Viva, 2022
  19. 19,0 19,1 Alet Cloete, Taaldinge 13 Augustus 2023, RSG
  20. 20,0 20,1 Taalkommissie en Viva (Virtuele Instituut vir Afrikaans) op facebook
  21. Woord: loods, Suné van Heerden, Maroela Media, 25 Nov 2013
  22. Taalgebruik: opvoer, uitvoer, Christa Steyn-Bezuidenhout, 5 September 2024
  23. Watersnood, Viva
  24. 24,0 24,1 24,2 Alet Cloete, Taaldinge 18 Junie 2023
  25. 25,0 25,1 25,2 25,3 25,4 25,5 25,6 Swak Afrikaans op RSG, Jan Rap (2013-06-14)
  26. Die top-10 taalfoute wat Afrikaanssprekendes (onbewustelik) maak, Riaan Grobler, 30 September 2015 11:50
  27. 5.2 Dependent clauses, in Roots of Afrikaans: Selected Writings of Hans Den Besten, Hans den Besten, p. 414
  28. 'n Beeld van Afrikaanse woorde: Kort stukke oor die woordeskat uit die radiorubriek Weeklikse Woordeboek, deur Louis Eksteen (Pretoria: Academica, 1984) ISBN 9780868741956
  29. Vergeetwoorde of zombiewoorde?, Suidpunt op Praag (1 Augustus 2019)
  30. 30,0 30,1 Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Kritzinger et al.
  31. Taaldinge, RSG, 5 Januarie 2020
  32. Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Mariette Maartens, Louis Krüger, Facebook (2020)
  33. Engelbrecht, J.C.; Grobler, J.J.; Penning, F.D.; Strydom, B.C.; Swart, J.; Van der Walt, T.; Van Eldik, P. (1984). Analise 2: Meerveranderlike en Komplekse Funksies (1ste uitg.). Pretoria: Uitgewers Mathematicae. pp. 427, 432, 435, 462. ISBN 0-620-07064-1.
  34. Rund, H.; Van der Merwe, J.H.; Van der Mark, J.; Grässer, H.S.P.; Viljoen, G.; Wille, R.J. (1970). Inleiding tot Algebra en Analise vir Voorgraadse Studente (1ste uitg.). Johannesburg: McGraw-Hill. p. 141. ISBN 0-07-091265-3.
  35. Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Martelize Faber, Barbara Zietsman, Christo Viljoen et al., Facebook (2020)
  36. Akademiese range in Suid-Afrika
  37. Taalgebruik: aanbied, offer, 3 Oktober 2024, Maroela Media
  38. 38,0 38,1 38,2 "Genade", Ina (6 Maart 2015). "Roei uit die taalgoggas". rooirose.co.za. Rooirose. Besoek op 17 Mei 2020.
  39. 39,0 39,1 Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Elsabé Pienaar, Facebook (2018)
  40. Vgl. klankgreep by Taaltoffie: Ag, vir wat?, Karien Brits, 14 September 2023
  41. 41,0 41,1 41,2 41,3 41,4 41,5 41,6 41,7 Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Maureen van Helden, Rita van Rooyen en Sybrand Burger, Facebook (2020)
  42. 42,0 42,1 42,2 Taaldinge, Sophia Kapp, RSG, 3 November 2019
  43. 43,0 43,1 43,2 43,3 Taaldinge 2 Mei 2021, RSG
  44. Afrikaans: 'n Ideologiese besinning in 'n multilinguistiese Suid-Afrikaanse bestel, J.P. de Wet, Unisa, 1997
  45. 45,0 45,1 45,2 45,3 #taalgeneraal: 10 Anglisismes wat jy onwetend gebruik, Riaan Grobler, 14 Januarie 2016 16:32
  46. Een aanlyn-lekeprediker (Facebook, 2020) sê: "Ek wil graag met julle deel wat die Here op my hart gedeel het," en sodanige aanwending van "deel" is dan blykbaar aan die uitbrei.
  47. 47,0 47,1 47,2 Taalwenk 7, Louis van Rooyen, savryskutskrywer
  48. Taalblapse, Kobus Victor, 27 Maart 2009
  49. Taalgebruik: kyk, Maroelamedia; Skryf Afrikaans A-Z, Pharos
  50. Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Martha Koelman Nèè Potgieter, Facebook (2020)
  51. 'n Sandvlooi (Eng: sandhopper) is wel 'n skaaldier, maar nié 'n insek of "skaalinsek" nie.
  52. Taaldinge, RSG, 22 Desember 2019
  53. Taaldinge, RSG, 19 Januarie 2020
  54. Taalflaters en -taboes in die werkplek, Cilleste vd Walt & Inge Strydom, 6 Augustus 2014
  55. Red ons taal, Jean Oosthuizen, 2015-06-03
  56. Gondwana: How it got its name, Notes by Craig Robertson (Maart 2008)
  57. Taaldinge 18 Julie 2021, Sophia Kapp, Viva
  58. 58,0 58,1 58,2 Kan jy die volgende woorde reg spel?, Adinda Vermaak, Kurrikulumadviseur: Afrikaans, Distrik Metro-Noord, WKOD, Januarie 2009
  59. Beter Afrikaans: Betekenisverdigting
  60. Beter Afrikaans: Samestellings
  61. Beter Afrikaans
  62. 62,0 62,1 Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (10de Uitgawe, 2009): Woordgroepe, p. 128-130
  63. Taalwenke 11, Elsabe, saskrywersendigters
  64. Beterafrikaans, 9 Maart 2020
  65. van Rooy, C.A. (1980). Antieke Griekse Geskiedenis. Durban, Pretoria: Butterworth en kie. p. 413. ISBN 0-409-08017-9.
  66. Dreyer, P.S. en ander (1981). Die Westerse Politieke Tradisie. Pretoria, Kaapstad, Johannesburg: H & R-Academica. p. 469. ISBN 0-86874-119-1.
  67. 67,0 67,1 The Concise Oxford Dictionary, 1961
  68. 68,0 68,1 Venter, Albert; Botha, Susan; du Plessis, Louis; Alberts, Mariëtta (2017). Verklarende Politieke Woordeboek / Explanatory Dictionary of Politics. Kaapstad: Juta. p. 364. ISBN 9781485119944.
  69. S. W. Schaper, 1963, Tussen Machtsstaat en Welvaartsstaat, Koninklijke Drukkerij van Gorcum & Comp.