Gaan na inhoud

Carl von Hirschberg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Carl Friedrich Georg von Hirschberg (13 Januarie 1926 in Jamestown tot 9 Junie 2017 in Kaapstad) was 'n Suid-Afrikaanse beroepsdiplomaat. Hy was bekend is as die opsteller van die konseptoespraak wat na aansienlike wysigings deur President PW Botha as die “Rubicon-toespraak” op 15 Augustus 1985 gelewer is. Gedurende sy loopbaan het hy Suid-Afrika verteenwoordig in Wene en was ook ambassadeur by die Verenigde Nasies en Japan.

Lewensloop

[wysig | wysig bron]

Carl von Hirschberg het aan die Queens Kollege in Queenstown gematrikuleer en behaal ‘n regsgraad aan die Universiteit van Kaapstad in 1946. Hy sluit aan by die department van buitelandse sake in 1947 toe hy 21 was. Hy het Suid-Afrika verteenwoordig as diplomaat in Wene en was ook ambassadeur by die Verenigde Nasies en Japan gedurende sy loopbaan.

Rubicon-toespraak en uitval daarna

[wysig | wysig bron]

As adjunk-direkteurgeneraal in die departement van buitelandse sake gee die minister van buitelandse sake Pik Botha hom ‘n opdrag om ‘n toespraak vir die president te skryf wat tydens die opening van die Nasionale Party kongres in Natal op 15 Augustus 1985 gelewer sou word.

Von Hirschberg het die toespraak geskryf nadat hy voorgelig is deur ‘n opgewonde Pik Botha dat daar tydens 'n vergadering met ministers, senior Nasionale Party lede en PW Botha ooreengekom is op ingrypende beleidsveranderinge. Die vergadering het op 2 Augustus by die ou sterrewag plaasgevind en Pik Botha het die uitkoms daarvan geïnterpreteer as 'n in beginsel toegewing dat swart politici by die kabinet ingesluit sal word en betekenisvolle onderhandelinge oor ‘n meer inklusiewe Suid-Afrika sou begin. Hierdie “nuwe beleidsbenadering” sou volgens Pik Botha deur die president tydens die Natalse Nasionale Party kongres op 15 Augustus 1985 in Durban aangekondig word.

In die toespraak poog von Hirschberg om die beplande "omvattende verandering" te verwoord, sodat dit veral by die buitelandse gehoor byval sou kry. Pik Botha het die verwysing na die oorsteek van die Rubicon bygevoeg, en toe die toespraak na P.W. Botha gestuur. Pik Botha besoek daarna Europa en die VSA ten einde aan politici bekend te maak dat president P.W. Botha van plan was om "dramatiese veranderinge" aan te kondig. Von Hirschberg, onder die indruk dat die inhoud van sy konseptoespraak deur die president goedgekeur is, word gestuur om politici in Taiwan, Japan en Australië oor die verwagte aankondigings toe te lig.

Dit was na die besoeke deur Botha en von Hirschberg, een van die mees afgewagte toesprake in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die indruk is geskep dat die toespraak die regering se bereidwilligheid sou toon om apartheid te beëindig, Nelson Mandela vry te laat, die ANC te ontban en gesprekke begin om ‘n demokrasie te vestig. Verwagtings is deur die buitelandse media aangeblaas en na raming het ongeveer 200 miljoen mense in Suid-Afrika en in die buiteland die toespraak op televisie en radio gevolg.

Die toespraak is egter intussen oorgeskryf. Ondanks die Rubicon-metafoor wat hy aan die einde van die dag wel gebruik het, het Botha geweier om byna alle eise vir wesenlike verandering in die oorspronklike toespraak te aanvaar. Hy het hom eerder beperk tot die samevatting van vorige maatreëls van sy regering sowel as die onbepaalde aankondiging van aanbevelings, vir die implementering waarvan hy die besluitnemingsmag voorbehou het. PW Botha se toespraak is met oorweldigende negatiewe reaksie begroet.

Woedende reaksies is deur buitelandse sake ontvang van die Verenigde Koninkryk eerste minister Margaret Thatcher, VSA president Ronald Reagan, Franse president François Mitterrand, Wes-Duitse Kanselier Helmut Kohl en ander leiers, wie hul misnoeë met die toespraak uitgespreek en verklaar het dat druk vir sanksies teen Suid-Afrika behoort toe te neem.

Hulle het by Von Hirschberg aangedring om hul navrae te beantwoord. Hy het deur die toespraak gegaan en gesoek vir frases soos "wat geïnterpreteer kan word, as jy ‘n verbeelding het, dat daar iets positief in was". Hierdie het hy herskryf en by sy antwoorde ingesluit. Hierdie leiers was nie oortuig nie en die korrespondensie het in sekere gevalle vir maande aangegaan.

Al die antwoorde was deur Pik Botha goedgekeur en geteken deur president P.W. Botha. Volgens Von Hirschberg het hulle elke keer as hulle ‘n antwoord formuleer, die parameters van regeringsbeleid ietwat gewysig. Uiteindelik is ‘n bladsy opsomming van al die antwoorde aan staatshoofde saamgestel wat daarop neergekom het dat apartheid tot niet gemaak sou word, dat daar onderhandelinge sal wees vir ‘n nuwe politieke bestel en ‘n demokratiese grondwet.

Toe von Hirschberg later poog om verslag te lewer aan die ministers oor die inhoud van die briewe, het hy ‘n oproep ontvang van die president se kantoor wat hom opdrag gee om dit nie te doen nie aangesien “die ministers in die kabinet nie kennis dra van die beleidsveranderinge soos uiteengesit in die briewe nie.”

Weens die groeiende oproep op sanksies teen Suid-Afrika binne die statebond, het Thatcher ‘n vooraanstaande persone groep (Eminent Persons Group) na Suid-Afrika in 1986 gestuur, met die uiters teësinnige toestemming van P.W. Botha, om dialoog tussen die regering en die ANC te bewerkstellig. Von Hirschberg het baie tyd saam met die groep deurgebring, en vordering is volgens hom gemaak om konsensus oor die pad vorentoe te beding. Die nag voor die laaste vergadering tussen die regering en die groep gehou sou word het die Suid-Afrikaanse Lugmag egter ANC teikens in Lusaka, Harare en Gaborone aangeval.

Von Hirschberg was geskok en woedend daaroor. Hy het geen twyfel gehad dat die aanvalle " ’n opsetlike, vooraf beplande aksie ontwikkel om die ANC se inisiatief te ontwrig ” was nie. Die ANC se inisiatief het ook inderdaad daarna beëindig. Hy het gevoel dat ‘n "magtige geleentheid" om geweld te beëindig en die druk van sanksies te verlig " by die venster uitgegooi is deur die president en sy ondersteuners."

Latere loopbaan

[wysig | wysig bron]

In 1987 word Carl von Hirschberg na die VN in New York Stad gestuur om die regeringsbeleid soos uiteengesit in die opsomming aan Afrika ambassadeurs te bemark. Hy het gevoel dat hy sukses begin behaal het, maar die departement het ‘n voorgestelde ontmoeting met Afrika ministers van buitelandse sake verbied. Daarna het hy besluit hy mors sy tyd en het op pensioen gegaan. Hy was wel versoek om uit pensioen te kom, om ‘n leidende rol te speel in die oorgang van Namibië na onafhanklikheid. Hy was ook betrokke by die oorhandiging van Walvisbaai aan Namibië op 1 Maart 1994.

Bronne

[wysig | wysig bron]