Gaan na inhoud

2024 Europese Parlementsverkiesings

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Verkiesings vir die Europese Parlement is van 6 tot 9 Junie 2024 in die 27 lidstate van die Europese Unie gehou. Verkiesings vind elke vyf jaar plaas.[1] Dit was die tiende parlementêre verkiesing sedert die eerste direkte verkiesing in 1979, en die eerste Europese Parlementsverkiesing ná Brexit.[2][3] Hierdie verkiesing het ook saamgeval met 'n aantal ander verkiesings in sommige lidlande van die Europese Unie. Daar is meer as 350 miljoen stemgeregtigde kiesers.[4]

Die verkiesings

[wysig | wysig bron]

Altesaam 720 lede van die Europese Parlement is in Junie 2024 verkies, 15 meer as in vorige verkiesings. As 'n algemene reël word die aantal lede van die Europese Parlement vir elke verkiesing bepaal. Die totaal mag nie 750 (plus die voorsitter) oorskry nie.[1]

  • Die aantal verkose LEP's van 'n politieke party is eweredig aan die aantal stemme wat die party ontvang het.
  • EU-burgers wat in 'n ander EU-land woon, kan daar stem en vir verkiesing staan.
  • Elke burger mag slegs een keer stem.

Kwessies

[wysig | wysig bron]

Belangrike kwessies wat op die spel is: [4]

  • Die volgehoue ​​ondersteuning vir Oekraïne se oorlogspoging, sy toetredingsplanne en die verhouding met Rusland.
  • Die toetreding van al die ander kandidaatlande.
  • Die herstel van die Europese ekonomie ná die inflasiegolf en die einde van goedkoop Russiese gas.
  • Klimaatverandering en die Europese Groenooreenkoms.
  • Die migrasiekwessie.
  • Die vraag na die groeiende rol van die EU met betrekking tot nasionale soewereiniteit.
  • Die invloed van die ver-regse politieke partye.

Soos altyd was daar ook vele binnelandse nasionale kwessies wat ’n rol gespeel het, en wat bepaal of kiesers gemotiveerd was om te stem of nie. Die stempersentasie was dikwels laag, maar daar is 'n groeiende gevoel dat dit belangrik is om vir die Europese Parlement te gaan stem.

Partye en groepe

[wysig | wysig bron]

Die amptelike groepe wat in die parlement van 2019-2024 deelgeneem het, was:

  • GUE/NGL Die Linkse groep in die Europese Parlement - GUE/NGL -- sosialisties tot marxisme
  • S&D- Groep van die Progressiewe Alliansie van Sosialiste en Demokrate in die Europese Parlement -- sosiaaldemokrate
  • Groen/EFA - Groep van die Groenes/Europese Vrye Alliansie -- groen, omgewing/klimaat
  • RE- Hernu Europa Groep -- liberaal-sentristies
  • EPP - Groep van die Europese Volksparty -- Christen-Demokrate, gematigde konserwatiewes
  • ECR- Europese Konserwatiewes en Hervormers Groep -- gematigde Euroskeptici, populisme
  • I&D - Identiteit en Demokrasie Groep -- regs, nasionalisties, soms anti-EU en pro-Russies

Die assosiasie van nasionale partye met die Europese 'groeperings' is egter nie altyd reguit of duidelik nie. Die Nederlandse partye VVD en D'66 behoort byvoorbeeld albei aan Hernu Europa, maar een is 'n opposisieparty in Nederland, die ander is 'n party van die huidige Wilders-koalisie. Vir die PvdA/Groen-koalisie geld die teenoorgestelde. PvdA behoort aan S&D, maar Groen/Links aan die Groen/EFA.

Daar is een party, Volt Europa, wat hierdie situasie wil verander en as een party in Europa deelneem. In die verkiesings van 2019 het hulle as nuwe party net een setel gewen, en in Duitsland en het hulle by die Groenes aangesluit. In hierdie verkiesings was hulle in 15 lidlande aktief en het vyf setels gewen, drie in Duitsland en twee in Nederland.

In die weke ná die verkiesings het belangrike verskuiwings plaasgevind. Verskeie nasionale partye het verwissel van groep of 'n groep gekies waarby hulle aangesluit het. Die I&D groep is ontbind en in plaas daarvan is in Julie twee nuwe groepe aangekondig:

  • P4E - Verregses, veral uit Duitsland.
  • ESN - Regs tot verregs, veral uit Frankryk en Hongarye. Soewereiniteit van die lidlande, pro-Rusland.

Verkiesingsdae

[wysig | wysig bron]

Nederland

[wysig | wysig bron]

Omdat die lidstate verskillende wette en tradisies het rakende die hou van verkiesings, is hulle in Nederland reeds op Donderdag 6 Junie gehou, maar ander lande wat tradisioneel hulle verkiesings altyd op 'n Sondag hou, het dit op 9 Junie gedoen. Die uitslae is, ook die Nederlandse resultate, op Sondagaand die 9de bekend gestel. [5]

Die uittreepeilings het getoon dat die populistiese PVV, onder leiding van Geert Wilders, van een setel na sewe sou verbeter. In Europa behoort hul aan die ECR-groep. Nog 'n populistiese groep, die FvD van Baudet wat aan die meer pro-Russiese groep ID behoort, het egter 4 setels verloor. En die Groen/Labour-koalisie behou een setel meer as die PVV. Dit wil voorkom of daar nie 'n massiewe skuif na Euroskeptisisme was soos die media voorspel het nie. Die kiesersopkoms was 46,8%,[6] die hoogste persentasie sedert 1989.

Ierland

[wysig | wysig bron]

In Ierland is die verkiesings op 7 Julie gehou saam met hulle munisipale verkiesings. Die kiesersopkoms was byna 50%[7]

Tsjeggië

[wysig | wysig bron]

In Tsjeggië is op Vrydag die 7de en Saterdag die 8ste gestem.[8]

Estland

[wysig | wysig bron]

Op die internet is die stemming reeds op die 3de Junie geopen, maar het op Saterdag afgeloop. Die stemburo's het eers op Donderdag gevolg maar was tot Sondag oop.[9]

Slowakye, Letland, Malta en Italië

[wysig | wysig bron]

Die stembusse het Saterdag die 8ste in nog vier lande geopen. Letland en Malta het hierdie dag hul stemmery voltooi, asook Tsjeggië. Italië bly die volgende dag oop en dit is deels waar vir Slowakye, want daar was vrese weens 'n geheimsinnige wit poeier. Intussen is die Deense premier in Kopenhagen aangerand, en drie Nederlandse partye het 'n kuberaanval deur 'n pro-Russiese inbraakgroep aangemeld. [4]

België

[wysig | wysig bron]

België het Sondag die 9de gestem, en daar was 'n wetlike verpligting om na die stembus te gaan. Maar daar was geen verpligting om werklik vir enigiemand te stem nie en daar was ook geen boete indien kiesers nie opdaag nie. Die stemming vir die Europese Parlement was oop vir alle persone van 16 jaar en ouer wat in België gewoon het en Europese burgers was. Terselfdertyd was daar verkiesings vir die nasionale parlement en die parlemente van Vlaandere, Wallonië, Brussel en die Duitssprekende gemeenskap vir enige Belgiese burgers 18 jaar en ouer.[10]

Frankryk

[wysig | wysig bron]

Frankryk het Sondag die 9de gestem en die eerste resultate het 'n oorwinning vir die regse RN getoon. Die Franse president Emmanuel Macron het daarna die volk toegespreek en gesê dat hy die nasionale parlement gaan ontbind en nuwe nasionale verkiesings hou. Dit is die eerste keer dat Europese verkiesings direkte nasionale gevolge vir Frankryk het.

Setels

[wysig | wysig bron]

Hieronder volg die aantal lede van die Europese Parlement wat in elke land in die 2024 Europese verkiesings verkies is.

Hierdie verdeling bevoordeel burgers in kleiner lidlande en het vanweë Brexit beduidend verander.

Land Setels Links S&D Groen Renew EPP ECR P4E ESN Ander Opkoms
Duitsland 96 4 14 15 8 31 0 0 14 10 64,3%
Frankryk 81 9 13 5 13 6 4 30 1 0 51,59%
Italië 76 10 21 4 0 9 24 8 0 0 48,31%
Spanje 61 4 20 4 1 22 0 6 0 4 49,21%
Pole 53 0 3 0 1 23 20 0 3 3 40,65%
Roemenië 33 0 11 1 3 10 6 0 0 2 52,42%
Nederland 31 1 4 6 7 6 1 6 0 0 46,20%
België 22 2 4 2 5 3 3 3 0 0 89,81%[11]
Griekeland 21 4 3 0 0 7 2 1 0 4 41,39%
Tsjeggiese Republiek 21 0 0 1 0 5 3 9 1 2 36,45%
Swede 21 2 5 3 3 5 3 0 0 0 50,70%
Portugal 21 2 8 0 2 7 0 2 0 0 36,54%
Hongarye 21 0 2 0 0 7 0 11 1 0 59,45%
Oostenryk 20 0 5 2 2 5 0 6 0 0 56,30%
Bulgarye 17 0 2 0 5 6 1 0 3 0 33,79%
Denemarke 15 1 3 3 4 2 1 1 0 0 58,25%
Finland 15 3 2 2 3 4 1 0 0 0 40,40%
Slowakye 15 0 0 0 6 1 0 0 1 7 34,38%
Ierland 14 3 1 0 6 4 0 0 0 0 49,84%
Kroasië 12 0 4 1 0 6 1 0 0 0 21,35%
Litaue 11 0 2 1 2 3 2 0 1 0 28,35%
Slowenië 9 0 1 1 2 5 0 0 0 0 41,45%
Letland 9 0 1 1 1 2 3 1 0 0 38,82%
Estland 7 0 2 0 2 2 1 0 0 0 37,60%
Ciprus 6 1 1 0 0 2 1 0 0 1 58,86%
Luxemburg 6 0 1 1 1 2 1 0 0 0 82,29%[11]
Malta 6 0 3 0 0 3 0 0 0 0 73,00%
Totaal 720 46 +9 136-3 53-18 77-25 188+9 78+9 84 nuut 25 nuut 33 51,01%

Oor die algemeen was daar 'n duidelike verskuiwing na regs in die politieke spektrum. Die koalisie van die sentrum (S&D, Hernu en EPP) wat die Kommissie Von der Leyen I (2019-2024) ondersteun het egter sy meerderheid behou.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 "How elections work". EU.
  2. "EUR-Lex - 12007L/TXT - EN - EUR-Lex". eur-lex.europa.eu (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2023. Besoek op 15 Julie 2021.
  3. "Elections". European Parliament (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Junie 2018. Besoek op 15 Julie 2021.
  4. 4,0 4,1 4,2 "EU elections: Slovakian poll stays open late; Latvia, Malta closed on third day". Euronews.
  5. "Nederland Europese verkiezingen". VRT.
  6. "Exitpoll Europese verkiezingen 2024". Parool.
  7. "Local, European and Limerick mayoral elections 2024". Independent.
  8. "Czech voters go to the polls on day 2". Euronews.
  9. "Elections in Estonia". valimised.
  10. "WANNEER ZIJN DE VOLGENDE VERKIEZINGEN IN BELGIË?". Watwat.
  11. 11,0 11,1 opkoms is verplig