Alfred die Grote
Alfred die Grote | |
---|---|
Koning van Engeland | |
Standbeeld van Alfred die Grote, Winchester.
| |
Huis | Wessex |
Regeer | 23 April 871 – 26 Oktober 899 |
Voorganger | Ethelred |
Opvolger | Eduard die Ouere |
Eggenote | Ealhswith |
Kinders | Eduard die Ouere Aelfryth van Wessex Ethelfleda e.a. |
Gebore | c. 849 |
Oorlede | 899 |
Vader | Ethelwulf |
Moeder | Osburga |
Alfred die Grote (848 of 849 – 26 Oktober 899) was van 871 tot met sy dood koning van Engeland. Hy was die vyfde en jongste seun van koning Ethelwulf en sy eerste vrou, Osburga. Hy het sy broer Ethelred opgevolg as monarg van Wessex, nadat dié dood is in die stryd teen die Dene. Alfred is in 868 getroud met Ealhswith van die Gaini in Noord-Lincolnshire, dogter van Ethelred Mucel, edelman van die Huis van Mercië.
Besonderhede oor Alfred se lewe is bekend danksy die werk van die Wallieser Asser, wat as sy biograaf beskou kan word.
Bewind
Alfred het gou vrede gesluit met die Dene, maar ná ’n paar jaar het hulle hulle aanvalle hervat. Alfred het hulle in 878 verslaan en vir hulle ’n gebied in die noordooste van Engeland gegee.
Koning Alfred die Grote se magte het Londen ingeneem en 'n vredesooreenkoms met die Deense leier Guthrum gesluit. Die heidense Deen is tot die Christendom bekeer. Die Dene wat reeds in Engeland gevestig was, het 'n eie gebied gekry wat as Danelaw bekend gestaan het. In Danelaw het tot in die laat Middeleeue ander wette en gebruike as in die res van Engeland gegeld. Die ander deel was 'n Saksies-oorheerste koninkryk onder Alfred se gesag.
Nadat die gevare van 'n Deense inval verdwyn het, moes Alfres sy ryk van 892-896 teen Normandiese indringers uit Noord-Frankryk verdedig. Sy bekwaamheid as militêre leier, sy organisatoriese talent en die feit dat hy 'n sterk vloot opgebou het, het hom egter in staat gestel om aanvalle van die gedugte Normandiërs af te weer. Alfred se roem berus egter nie alleen op sy prestasies as militêre leier nie. Hy het die bestuur van die land gereorganiseer, die regspraak verbeter en die kulturele lewe, ekonomie en handel bevorder.
Hy het die leër hervorm en ’n verskeidenheid bestuurs- en juridiese vernuwings ingevoer wat tot voordeel van die land gestrek het, onder andere op ekonomiese gebied. Hy het sy grondgebied in graafskappe opgedeel wat hy onder toesig van ’n earl (Oud-Engels ealdorman of oudste) geplaas het. Hy het ook sheriffs benoem wat sy gesag moes afdwing. Hy het die onderwys bevorder, ’n invloedryke hofskool gestig en was ook op kulturele gebied aktief. Al hierdie eienskappe het hom die bynaam "die Grote" besorg.
Kulturele invloed
Alfred was self ’n skrywer en vertaler. Hy was onder meer die medevertaler van Cura pastoralis van pous Gregorius die Grote, De consolatione philosophiae van Boethius, Soliloquies, Confessiones van Augustinus en Historiae Adversus Paganos Libri Septem van Orosius. Nog ’n belangrike werk van hom was sy wetboek, die eerste in Europa wat in die volkstaal geskryf is.
Dood
Alfred is op 26 Oktober 899 dood en is in Winchester begrawe. Die oorsaak van sy dood is onbekend. Hy is opgevolg deur sy seun Eduard die Ouere.[1]
Huwelik en kinders
Alfred is in 868 getroud met Ealhswith van die Gaini in Noord-Lincolnshire, wat in 905 oorlede is. Sy was die dogter van Ethelred Mucel, edelman van die Huis van Mercië. Hulle het ses kinders gehad, onder andere:
Sien ook
Verwysings
Wikimedia Commons bevat media in verband met Alfred die Grote. |
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Alfred de Grote
- ↑ Burke's Peerage & Gentry Geargiveer 28 Desember 2007 op Wayback Machine URL besoek op 7 September 2007
Ander bronne
- Kennis, vol 6, 1980, bl. 1049-1051, ISBN 0 7981 0828 2