NG gemeente Pinetown
Die NG gemeente Pinetown is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die provinsie en Sinode van KwaZulu-Natal met sy middelpunt op Pinetown by Durban.
Stigting
Met die snelle uitbreiding van die NG Kerk in die destydse Natal — veral deur die vinnige aanwas van Afrikaners in Durban — is die behoefte aan kleiner gemeentes al gou gevoel. So het ook die westelike gedeelte van die stad sy eie gemeente afgestig, naamlik Durban-Wes. Dit het 'n baie groot uitgestrekte gebied beslaan, maar was nie te dig bevolk nie. Met die groei van die voorstede van Durban het die gemeentes mettertyd groter en groter geword. Gevolglik is daar op 20 September 1946 deur die Ringskommissie van Pietermaritzburg 'n stigtingsvergadering gehou in die kerksaal in Marianhillweg, Pinetown. Die destydse Ringskommissie het uit di. C.W.I. Pistorius, H.C.J. Flemming en C. Nel (scriba) bestaan. Daardie aand is die gemeente Pinetown met 380 lidmate gestig.
Eerste leraars
Aanvanklik het die gemeente gesukkel om te bestaan, aangesien dit tien maande vakant was. In Augustus 1947 ontvang die jong gemeente plegtig sy eerste herder en leraar in die persoon van ds. N.J.S. van der Merwe van Simonstad. Volgens argiefstukke het hy nie ‘n maklike taak in die gemeente gehad nie, want hy moes op ‘n Sondag vyf eredienste waarneem. Hy het soggens begin by Malvern om 09:00, en daarna Pinetown om 10:15, Escombe om 11:15, Hillcrest 15:00 en weer saans om 19:30 by Pinetown. Nadat hy byna twee jaar gearbei het, aanvaar hy 'n beroep na die gemeente Oudtshoorn. Nadat die gemeente ses maande vakant was, ontvang hulle hul tweede leraar in die persoon van prop. J.G. Odendaal en wel op 18 Maart 1950. Die gemeente het toe nog die saal in Marianhillweg as plek van aanbidding gebruik. In 1952 kon Ons gemeentelike feesalbum berig: "Die gemeente is stadig maar geleidelik besig om sy plek as selfstandige gemeente in Natal vol te staan."
Die huidige kerkgebou se hoeksteen is gelê deur ds. J.G. Odendaal met die kerk se inwyding op 29 November 1958. Dit is ontwerp deur die firma Geers, Koelewyn & Moors en die bouaannemer was Dirker Brs. (Edms.) Bpk.
Latere ontwikkelinge
Pinetown is die moeder van drie dogtergemeentes, wat almal tans (2015) nog bestaan. Escombe het eerste aan die beurt gekom toe hulle op 27 September 1974 van Pinetown afstig met 'n ledetal van 368. In 2015 het dié dogtergemeente 220 belydende lidmate gehad. Net sewe maande later, op 30 April 1975, stig Westville af met as eerste predikant ds. N.F. Wilson, voorheen van die moedergemeente. Hy is op 14 Desember 1980 skielik in die amp oorlede.
Die derde en laaste afstigting was Krantzkloof op 29 Januarie 1984. Ds. Bernard Mostert, voorheen van die moedergemeente, is op 11 Maart 1984 as dié gemeente se eerste leraar bevestig.
In 1972, voor enige afstigtings, het Pinetown 1 422 belydende lidmate gehad. In 2015 was Pinetown en haar drie dogtergemeentes se gesamentlike getal belydende lidmate net 116 meer, naamlik 1 538, vergeleke met 'n totaal van 2 454 in 1985.
Enkele predikante
- Nicolaas Johannes Stephanus van der Merwe, Augustus 1947 - 1949
- Johannes Gerhardus Odendaal, 18 Maart 1950 - 1960
- Christoffel Colyn, 1962 - 1969
- Abraham Marthinus van Wyk, 1967 - 1972
- Albertus Driescher, 1969 - 1974
- Nathan Frans Wilson, 1973 - 1975 (waarna van 25 Mei 1975 eerste leraar van dogtergemeente Westville; sterf in amp op 14 Desember 1980)
- Abraham van Zyl, 1975 - 1979
- Marthinus le Roux, 1976 - 1981
- Leon Dennis le Roux, 1979 - ?
- John Bernard Mostert, 1982 - 1984 (waarna van 11 Maart 1984 dogtergemeente Krantzkloof se eerste leraar)
- Mattheus Lourens Human, 1982 - hede (sy enigste gemeente)
NG gemeentes in Durban
In 1960 het die Ring van Durban bestaan uit 13 gemeentes met 8 322 belydende lidmate, maar die gemeente Weza-Port Shepstone het later 'n afsonderlike ring geword sodat die 12 oorblywende gemeentes 7 698 belydende lidmate gehad het. In 1985 was daar twee Durbanse ringe, te wete Durban en Durban-Suid. In die gesamentlike getal van 20 gemeentes was daar toe 12 464 belydende lidmate. In 2000 het daar 19 gemeentes oorgebly met 10 241 belydende lidmate, maar die getal gemeentes het teen 2015 afgeneem tot 14 en die belydende lidmate tot 6 600.
Naam | Stigtingsdatum | Status | Bel. lidm. 1960 | Bel. lidm. 1972 | Bel. lidm. 1985 | Bel. lidm. 2000 | Bel. lidm. 2015 |
---|---|---|---|---|---|---|---|
Durban | 1913 | Bestaan nog | 632 | 1 117 | 667 | 208 | 35 |
Noordkus | 1940 | Bestaan nog | 500 | 709 | 500 | 480 | 342 |
Port Natal | 1945 | Bestaan nog | 1 100 | 1 126 | 434 | 326 | 125 |
Berea | 1945 | Bestaan nog | 790 | 1 038 | 470 | 287 | 68 |
Pinetown | 1946 | Bestaan nog | 651 | 1 422 | 971 | 823 | 327 |
Durban-Noord | 1958 | Ingelyf by Umhlanga 2006 | 415 | 648 | 501 | 410 | – |
Glenwood | 1961 | Ingelyf by Port Natal 1992 | – | 489 | 415 | – | – |
Escombe | 1974 | Bestaan nog | – | – | 670 | 507 | 220 |
Westville | 1975 | Bestaan nog | – | – | 498 | 537 | 331 |
Durban Reformed | 1977 | Ontbind 2004 | – | – | 76 | 46 | – |
Krantzkloof | 1984 | Bestaan nog | – | – | 315 | 258 | 660 |
Umhlanga | 1978 | Bestaan nog | – | – | 332 | 565 | 735 |
Durban-Suid | 1941 | Saamgesmelt met Montclair as Durban-Oos 2005 | 600 | 1 132 | 884 | 643 | – |
Durban-Wes | 1941 | Bestaan nog | 767 | 797 | 648 | 458 | 1 069 |
Fynnland | 1955 | Bestaan nog | 793 | 1 284 | 1 033 | 680 | 372 |
Hillary | 1956 | Saamgesmelt met Malvern, Durban-Wes 2011 | 660 | 530 | 566 | 405 | – |
Malvern | 1970 | Saamgesmelt met Hillary, Durban-Wes 2011 | – | 460 | 1 003 | 827 | – |
Montclair | 1951 | Saamgesmelt met Durban-Suid as Durban-Oos 2005 | 450 | 1 050 | 820 | 503 | – |
Scottburgh | 1978 | Bestaan nog | – | – | 325 | 653 | 584 |
Suidkus | 1958 | Bestaan nog | 340 | 776 | 1 336 | 1 625 | 1 400 |
Durban-Oos | 2005 | Bestaan nog | – | – | – | – | 332 |
Totaal | 7 698 | 12 578 | 12 464 | 10 241 | 6 600 |
Bronne
- Olivier, ds. P.L. (samesteller), 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
- Gemeentebesonderhede op die webtuiste van die NG Kerk in KwaZulu-Natal. URL besoek op 21 Julie 2015.
Eksterne skakels
- Die gemeente se webtuiste. URL besoek op 21 Julie 2015.
- Die kerkgebou soos te sien op die webtuiste van die NG Kerk in KwaZulu-Natal. URl besoek op 21 Julie 2015.
- Besonderhede van die gemeente op die webtuiste van die NG Kerk in KwaZulu-Natal. URL besoek op 21 Julie 2015.