Gaan na inhoud

Stalag Luft III

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Model van 'n deel van die kamp wat vir die film, The Great Escape gebruik is.
Stalag Luft Kommadant Oberst Friedrich Wilhelm von Lindeiner-Wildau
Einde van tonnel "Harry", hierdie foto wys hoe naby dit aan die kamphek lê.
Hier is die uitgang van tonnel "Harry".
"Harry" deur die kamp heen (daar groei nou bome).
Ingang van "Harry". Dit wys onder andere die omtrek van die gebou.

Stalag Luft III was 'n krygsgevangekamp wat deur die Duitse lugmag Luftwaffe tydens die Tweede Wêreldoorlog bedryf is. Die kamp het bekend geword nadat daar in 1944 'n groot ontsnappingspoging was. Die bekende rolprent The Great Escape is gebaseer op dié ontsnappingspoging.

Die kamp was geleë in Sagan, Duitsland - tans staan die plek bekend as Żagań en is nou deel van Pole.

Kamplewe 1942-44

[wysig | wysig bron]

Die Duitse magte het 'n praktyk gevolg waarvolgens die verskillende militêre takke verantwoordelik was vir al die krygsgevangenes van dieselfde takke. Om hierdie rede het die Luftwaffe normaalweg die verantwoordelik gehad vir enige Gealieerde lugbemanning wat gevange geneem is. In 'n paar gevalle, is ander nie-lugmagpersoneel ook aangehou by die Stalag Luft III.

Stammlager Luft (letterlik "Hoofkamp, Lug") was die Luftwaffe se naam vir 'n krygsgevangenekamp. Terwyl die kamp aanvanklik net krygsgevangenes wat offisiere was aangehou het, was dit nie bekend onder die gewone benaming vir sulke kampe – Offizier Lager of Oflag nie. Latere kampuitbreidings het ook voorsiening gemaak vir onderoffisiere.

Die Duitse wagte is deur die gevangenes "Goons" genoem, en was, onbewus van die Geallieerde konnotasie, gewillig om die bynaam te aanvaar nadat hulle vertel is dit staan vir "German Officer Or Non-Com".[1] Die wagte is oral waar hulle beweeg het deur gevangenes dopgehou en selfs gevolg, en 'n uitgebreide stelsel van seine is gebruik om mekaar te waarsku van hul posisie. Die wagte se bewegings is ook noukeurig aangeteken in 'n logboek op 'n rotasiebasis gehou deur Geallieerde offisiere, die sg. "Duty Pilot".[2]

Ontwerpeienskappe van die kamp

[wysig | wysig bron]

Die gevangenekamp het 'n aantal ontwerpeienskappe gehad wat ontsnapping uiters moeilik gemaak het. Die grawe van ontsnappingstonnels, in die besonder, was ontmoedig weens verskeie faktore: die kaserne behuising van die gevangenes was ongeveer 60 cm bokant die grond gebou, om dit makliker vir die wagte te maak om tonnelgrawery op te spoor; die kamp is gebou op grond wat 'n baie sanderige ondergrond het; die oppervlaksand was heldergeel, so dit kon maklik gesien word as iemand donkergrys sand, soos gevind onder die bogrond, rondstrooi oor die perseel, of selfs net daarvan op hul klere het. Die los sand het ook die strukturele integriteit van enige tonnel baie swak gemaak. 'n Derde verdediging teen tonnelgrawery was die plasing van seismograafmikrofone op die omtrek van die kamp, waarvan verwag is om enige klanke van grawewerk op te spoor.

Beplanning

[wysig | wysig bron]

Die krygsgevangenes het 'n Ontsnappingskomitee op die been gebring. Roger Bushell was die meesterbrein agter die ontsnappingspoging en het die bynaam Big X gekry. Bushell het sy plan een aand in die lente van 1943 aan die ontsnappingskomitee voorgelê:

Everyone here in this room is living on borrowed time. By rights we should all be dead. The only reason that God allowed us this extra ration of life is so we can make life hell for the Hun...In North Compound we are concentrating our efforts on completing and escaping through one master tunnel. No private-enterprise tunnels allowed. Three bloody deep, bloody long tunnels will be dug - Tom, Dick and Harry. One will succeed[3]

Bushell het daarop aangedring dat drie tonnels gegrawe moes word, ingeval een deur die Duitsers ontdek sou word. Lugkommandeur Herbert Massey, as senior Britse offisier, het self die ontsnappingspoging goedgekeur.[4]

Tom, Dick en Harry

[wysig | wysig bron]

Die een tonnel, Tom, is begin in 'n donker hoekie in een van die kampgeboue, Dick in een van die waskamers en Harry onder 'n stoof. Daagliks het dertig man sowat 2,5 m gegrawe. Die houtplankies van hulle beddens is gebruik om die tonnelmure te stut. Grawe en ventilasiepompe is geskep uit melkblikkies wat die Rooi Kruis by die kamp afgelewer het. Kerse is gegiet uit die vetlagie op die sop wat saans vir aandete gegee is.

Een van die grootste uitdagings was om van die grond ontslae te raak wat uit die tonnels gegrawe is. Die Suid-Afrikaners, lt. Johannes Gouws, Rupert Stevens en Clement McCarr het met 'n plan vorendag gekom. Hulle het kouse aan die binnekant van die gevangenes se broekspype vasgewerk. Toutjies is aan dié kouse vasgebind wat die gevangenes ongesiens kon vashou. Tydens die grawery is die kouse met grond gevul en later terwyl die gevangenes deur die kamp stap, is die toutjies getrek om die grond ongesiens oor die kampterrein uit te skud.

Die gevangenes het daarin geslaag om Duitse loonboekies te vervals sodat die ontsnaptes daarmee die grens sou kon oorsteek. Ander gevangenes het Duitse gewere uit hout gesny en met potlood en skoenwaks gekleur.

Tom is in Augustus 1943 deur die Duitse bewaarders ontdek en vernietig. Die manne het later ophou werk aan Dick. Harry is twee weke voor die beplande ontsnappingsdag van 24 Maart 1944 voltooi. Meer as 500 man het byna 18 maande lank aan die tonnel beplan en gewerk. Die eindproduk was 100 m lank, 61 cm2 groot en 3 m onder die grond.

Die Duitse bewaarders het 'n sloot gegraaf en luisterapparate daarin geplaas. Dié apparate moes enige geluide veroorsaak deur die grouwerk van gevangenes opvang. Dit het egter nie gehelp nie omrede hulle sloot net 2 m diep was.

Die ontsnapping

[wysig | wysig bron]

Bushell het aanvanklik beplan dat 200 gevangenes moes ontsnap deur die tonnel. Slegs 76 het daarin geslaag om op 24 en 25 Maart deur die tonnel te ontsnap. Bushell was die eerste en daarna het die ander gevolg in rangvolgorde. Slegs drie van die ontsnaptes het veiligheid bereik, 'n Nederlander en twee Noorweërs. Slegs drie-en-twintig van die ontsnaptes wat gevang is, is weer in krygsgevangekampe geplaas en die ander 50 is deur die Gestapo vermoor - in opdrag van Adolf Hitler.

Agtien Duitsers is in Julie 1947 skuldig bevind aan die moord op die vyftig, soos die slagoffers van die Stalag Luft III genoem sou word.

Beide die twee Suid-Afrikaners, Gouws en Stevens asook Roger Bushell was deel van die vermoordes. Les Brodrick, ook 'n Suid-Afrikaner, was die 52ste persoon om uit die tonnel te klim. Hy word egter dieselfde nag gevang maar word nie tereggestel nie.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Beeld. Die ware verhaal van 'n Vrystaatse boerseun en 'The Great Escape'. 28 April 2012.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Ives, Raymond (2008). Fickle Finger of Fate: The Memoir of a Bombardier with the 96th Bomb Group. Merriam Press. p. 77.
  2. Dickens, Monica (1974). Great Escape. Pan Books. ISBN 0-330-24065-X.
  3. Squadron Leader Roger Bushell. Pegasusarchive.org. URL besoek op 26 Augustus 2018.
  4. "Wartime Great Escape hero Herbert Martin Massey honoured at Hilton birthplace". Derby Telegraph. 5 Desember 2016.[dooie skakel]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]