Gaan na inhoud

Rudolf Serkin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Rudolf Serkin in 1962

Rudolf Serkin (28 Maart 1903 – 8 Mei 1991) was 'n Boheems-gebore pianis. Hy word wyd gereken as een van die grootste Beethoven interpreteerders van die 20ste eeu.[1]

Lewe en vroeë loopbaan

[wysig | wysig bron]

Serkin was in Eger, Koninkryk van Boheme, Oostenryk-Hongaarse Ryk (nou Cheb, Tsjeggië) gebore in 'n Russiese en Joodse gesin. Sy vader, Mordko Serkin, "was 'n Russiese bas, en het die jong Serkin geleer om musiek te lees selfs voordat hy 'n woord kon lees."[2]

Serkin is as 'n wonderkind beskou;[3] hy is op die ouderdom van nege jaar na Wene gestuur waar hy die klavier saam met Richard Robert, en later komposisie met Joseph Marx, bestudeer het. Hy het sy openbare debuut met die Weense Filharmoniese Orkes op die ouderdom van twaalf jaar gemaak. Van 1918 tot 1920 het hy komposisie saam met Arnold Schoenberg studeer en was hy aktief in Schoenberg se Genootskap vir die Private Uitvoering van Musiek. Hy het in 1920 'n gereelde konsertloopbaan van stapel gestuur en was in Berlyn woonagtig gewees met die Duitse violis Adolf Busch en sy gesin, welke hul driejarige dogter Irene ingesluit het met wie Serkin vyftien jaar later sou trou.

In 1921 het Serkin op die ouderdom van sewentien jaar sy Berlynse debuut gemaak in Busch se ensemble as die klavierspeler tydens die uitvoering van Bach se Brandenburgconcerto nr. 5. Teen die einde van die konsert het Busch vir Serkin gevra om vir die entoesiastiese gehoor 'n encore te speel. Serkin het later gerapporteer dat hy Busch gevra het, "Wat sal ek speel?" en Busch het "as 'n grap" vir hom gesê om die Goldbergvariasies van Bach te speel "waarop ek hom ernstig opgeneem het. Toe ek klaar was was daar slegs vier mense in die gehoor oor: Adolf Busch, Artur Schnabel, Alfred Einstein en ek."[2]

In die 1920's en vroeë 1930's het Serkin regdeur Europa gespeel as beide solis en saam met Busch en die Busch-kwartet. Met die opkoms van Hitler in Duitsland in 1933 het Serkin en die Busch gesin (wat nie Joods was nie maar heftig gekant was teen die regering van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty) Berlyn vir Basel, Switserland verlaat.

In 1933 het Serkin sy eerste verskyning in die Verenigde State gemaak tydens die Coolidge Festival in Washington, D.C. waar hy opgetree het saam met Adolf Busch. In 1936 het hy sy solokonsertloopbaan in die VSA van stapel gestuur met die New York Filharmoniese Orkes onder Arturo Toscanini. Die kritici het 'n groot ophef daarvan gemaak en hom beskryf as "'n kunstenaar van ongewone en indrukwekkende talent wat in besit is van 'n kristalhelder tegniek, baie krag, delikaatheid, en tonale suiwerheid." In 1937 het Serkin sy eerste opvoering in New York Stad by Carnegie Hall gemaak.

Erfenis

[wysig | wysig bron]

Serkin was vereer as 'n 'musikant se vriend' en as vaderfiguur tot 'n horde jonger spelers wat na die Marlboro School and Festival gekom het. As 'n pianis van enorme musikale integriteit het hy regdeur die wêreld getoer en voortgegaan met sy sololoopbaan en opname-aktiwiteit totdat siekte in 1989 verdere werk verhoed het. Hy het op 8 Mei 1991 op die ouderdom van 88 jaar tuis aan kanker beswyk op sy plaas in Guilford, Vermont.

Hy en sy vrou Irene was die ouers van sewe kinders (waarvan een vroeg oorlede was),[4] inslutende die pianis Peter Serkin en tjellis Judith Serkin.[5] Hulle het vyftien kleinkinders, insluitende die komponis David Ludwig en die hobospeler Natalya Rose Vrbsky. Irene Busch Serkin het in 1998 gesterf.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "The 25 Essential Beethoven Recordings: Rudolf Serkin Plays Sonatas". WQXR (in Engels). New York Public Radio. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Augustus 2019. Besoek op 4 Junie 2017.
  2. 2,0 2,1 Henahan, Donal (10 Mei 1991). "Rudolf Serkin, 88, Concert Pianist, Dies". New York Times.
  3. Folkart, Burt A. (10 Mei 1991). "Piano Genius Rudolf Serkin Is Dead at 88". Los Angeles Times. Besoek op 4 Junie 2017.
  4. Stephen Lehmann; Marion Faber (2002). Rudolf Serkin: A Life. Oxford University Press. p. 262. ISBN 978-0-19-535144-6.
  5. Short biography of Judith Serkin Geargiveer 1 Augustus 2019 op Wayback Machine. sarasamusic.org

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]