Gaan na inhoud

Prinsevlag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Prinsevlag
Die Noord-Nieuwland van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie in Tafelbaai (1762) met die Prinsevlag
'n Prinsevlag op Waterloo-dag in 2009
Die Prinsevlag in een van sy variasies.

Die Prinsevlag (Nederlands: Prinsenvlag) is 'n Nederlandse vlag wat die eerste keer gebruik is tydens die Nederlandse-opstand aan die einde van die 16de eeu.

Die Prinsevlag is gebaseer op die Vlag van Willem die Swyger, vandaar die vlag se naam. Die kleure is oranje, wit en blou. Op grond van die Frans name van hierdie kleure, orange-blanc-bleu, word daar ook verwys na die vlag by wyse van die Nederlandse rympie oranje-blanje-bleu en ranje-blanje-bleu of die Afrikaanse Oranje, Blanje, Blou.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die kleure oranje, wit en blou (Nederlands: Oranje, Wit, Blauw of Oranje, Blanje, Bleu , uit Frans Orange, Blanche, Bleu) word geassosieer met Willem die Swyger (1533–1584).

Blykbaar het hy hierdie kleure reeds so vroeg as 1577 gebruik as deel van sy optog na Gent. Jacob Duym berig ook dat die Nederlandse offisiere tydens die Beleg van Leiden in 1574 oranje-wit-blou strepe om die mou gedra het. Hieruit kom Rey (1837) tot die gevolgtrekking dat die kombinasie van oranje-wit-blou beslis in die 1570's deur die Prins van Oranje gebruik is. Die eerste verwysing na 'n vlootvlag in hierdie kleure dateer uit 1587, toe die Admiraliteit van Zeeland beveel het dat hierdie vlae op hul oorlogskepe moet wapper.[1] Die vlootvlag is gebruik deur die Watergeuse (Gueux de mer), die pro-Nederlandse kapers tydens die Nederlandse Opstand. Volgens de Waard (1900) het die Nederlandse vloot tussen 1588 en 1630 te alle tye die Prinsevlag vertoon, en na 1663 te alle tye die rooi-wit-blou Statenvlag. Laasgenoemde is geleidelik gedurende die jare 1630 tot 1650 ingevoer, en in 1664 as die "Statenvlag" benoem. [2]

Gedurende die 17de eeu is die Prinsevlag op die Kasteel de Goede Hoop gehys en deur inkomende skepe gesalueer.[3] Die oranje-wit-blou vlag vorm die basis vir die Suid-Afrikaanse vlag uit 1928. Dit is ook die basis vir die vlae van New York en Albany, New York. Nadat die Republikeinse Patriotte, bygestaan deur die Franse, in 1795 beheer oor Nederland geneem het, is die Prinsevlag verbied en het die rooi-wit-blou vlag die enigste amptelike vlag geword, as synde analoog tot die Franse se eie driekleur, wat net 'n paar maande tevore gekies is. In die volgende periode van die Koninkryk van Holland was daar ook geen plek vir Oranje nie en Koning Louis I het rooi gekies.

Die rooi-wit-blou met 'n oranje wimpel

In 1813, toe die Franse verdryf is en Nederland sy onafhanklikheid herwin het, het die Prins van Oranje vanaf Engeland na die land teruggekeer. Die Prinsevlag het 'n kort herlewing beleef; ten einde die verbintenis van die mense aan die Huis van Oranje te demonstreer, het beide hierdie vlag en die rooi-wit-blou vlag op die dakke gewapper. In dieselfde jaar het die rooi-wit-blou vlag vir die eerste keer gewapper met 'n oranje wimpel, wat sedertdien die gebruiklike gewoonte in Nederland bly. Of die Prinsevlag of die rooi-wit-blou vlag die nasionale vlag moes wees, is onbeslis gelaat, hoewel die Prins van Oranje, later koning Willem I, laasgenoemde verkies het.

In die 1930's het die ondersteuners van die Nasionaal-Sosialistiese Beweging in Nederland (NSB) oranje-wit-blou en die Prinsevlag as hul simbool gekies. In 1937 het Koningin Wilhelmina 'n dekreet geteken dat die kleure rooi, wit en blou as die amptelike kleure van die Nederlandse vlag aanvaar word. [4][5]

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Die Prinsevlag is in 2013 by die ou Matthias-kerktoring in Warmond gehys as deel van die viering van die 200-jarige bestaan van die Koninkryk van Nederland. [6]

Die vlag word ook gebruik as simbool van Groter-Nederland en Nederlandse pan-nasionalistiese bewegings. Dit word gereeld gebruik deur groepe soos die Nederlandse Volke-unie (NVU) [7] en Voorpost,[8] sowel as die (nou ontbinde) Nasionalistiese Volksbeweging (NVB).[9]

In 2011 het twee parlementslede van die Partij voor de Vrijheid (PVV) die Prinsevlag in hul kantore in die parlementsgebou laat hang. Nadat dit ondersoek was is die vlae egter verwyder. Die voormalige Nederlandse parlementslid Wim Kortenoeven het gesê dat hy versteur is deur die negatiewe konnotasies wat die vlag dra omdat hy glo dat die vlag deur die Nasionaal-Sosialistiese Beweging in Nederland (NSB) "gekaap is". [10] Tydens 'n PVV-protes op 21 September 2013 in Den Haag het verskeie mense Prinsevlae gedra. Toe Geert Wilders dieselfde week in die Nederlandse Huis van Afgevaardigdes gepraat het, het Alexander Pechtold na die vlae as 'NSB-vlae' verwys, waarop Wilders Pechtold 'n "patetiese en skynheilige mannetjie" genoem het. [11][12]

Erfenis

[wysig | wysig bron]

Die Prinsevlag het as basis gedien vir die vlag van die Unie van Suid-Afrika vanaf 1928 tot 1994. Hierdie vlag is in 1928 aangeneem en is geïnspireer deur die voormalige Nederlandse vlag. In die middelste wit gedeelte van die vlag is die vlae van (links na regs) die Verenigde Koninkryk, Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek, wat die Unie se Britse koloniale verlede en die republikeinse voorgangerstate verteenwoordig. In 1994 is die vlag vervang deur die vlag van Suid-Afrika. Die Afrikaner Vryheidsvlag wat in 1995 by die Suid-Afrikaanse Buro vir Heraldiek as vlag van die Afrikaner Volksfront registreer is maak ook gebruik van die Prinsevlag.[13]

Vanweë die ontstaan daarvan as die Nederlandse kolonie Nieu-Nederland, gebruik verskillende plekke in New York en New Jersey variante van die Prinsevlag as hul amptelike vlae. Hierdie plekke sluit in New York Stad, Jersey City, [14] the Bronx, Albany, New York en Nassau County, New York.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Jean Rey, Histoire du drapeau, des couleurs et des insignes de la Monarchie française vol. 2, 1837, p. 515f.
  2. JC de Jonge, Geschiedenis van het Nederlandse zeewesen, deel 1. 's Gravenhage, 1833, p. 75.
  3. Defence against Martime Power Projection, The Case of the Cape of Good Hope 1756 -1803, Theodorus Daniel Potgieter,University of Stellenbosch, December 2006, P78
  4. "Prinsenvlag is omstreden, maar kent lange historie". Volkskrant (in Nederlands). Besoek op 13 Augustus 2014.
  5. "Flag Decree by Queen Wilhelmina". Flags of the World. 19 Februarie 1937. Besoek op 3 Maart 2008.
  6. Warmond viert 200 jaar Koninkrijk groots, geplaatst op 02-12-2013 Geargiveer 22 Junie 2015 op Wayback Machine
  7. "NVU protest walk with Prince's Flag prominently carried". Besoek op 6 Oktober 2013.
  8. Webbreezer Solutions. "voorpost.org". voorpost.org. Besoek op 6 Oktober 2013.
  9. "NVB order form listing the Prince's Flag with a lion on it". nationalistischevolksbeweging.nl. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2010.
  10. [1], Algemeen Dagblad, 11 Mei 2011.
  11. Teruglezen: Wilders noemt Pechtold en Slob 'zielig en miezerig'
  12. "Rel om Prinsenvlag". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2017. Besoek op 29 September 2020.
  13. (en) South African Bureau of Heraldry (1995) Afrikaner-Volksfront flag, besoek op 28 Junie 2006
  14. "Jersey City, New Jersey (U.S.)". www.crwflags.com. Besoek op 28 Januarie 2019.