Gaan na inhoud

Nomina sacra

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Twee nomina sacra is uitgelig, ΙΥ en ΘΥ, wat respektiewelik van Jesus en van God (aangesien dit genitiewe is) verteenwoordig, in die passasie uit Johannes 1 in die Codex Vaticanus (B), 4de eeu

Nomina sacra (enkelvoud: nomen sacrum) beteken "heilige naam" in Latyn.

Die uitdrukking word gebruik om die groep van name van God of aanverwante begrippe aan te dui wat by die skryf van manuskripte gewoonlik deur sametrekking afgekort word.

In sy boek Manuscripts of the Greek Bible gee Bruce Metzger[1] 15 dergelike begrippe uit die Griekse papirusse: God, Heer, Jesus, Christus, Seun, Heilige Gees, Dawid, kruis, moeder, vader, Israel, Verlosser, mens, Jerusalem en Hemel. Die nomen sacrum vir moeder is nie tot voor die 4de eeu in gebruik geneem nie,[2] maar alle andere nomina sacra kan teruggevind word in manuskripte van die 1ste tot die 3de eeu. Die sametrekking van afkortings word aangedui met 'n lyntjie bo die woord.

Oorsprong en ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Nomina sacra ΙϹ ΧϹ, uit die Griekse ΙΗΣΟΥΣ ΧΡΙΣΤΟΣ (Jesus Christus — die letter C op die ikoon is die Koine-Griekse letter Σ). Detail van 'n ikoon by die Trojan-klooster in Bulgarye. Sien die volledige ikoon

Nomina sacra word geredelik aangetref in van die vroegste bestaande Christelike geskrifte, in die kodeks-vorm eerder as die boekrol, wat impliseer dat die praktyk, toe dit geskryf is in omstreeks die tweede eeu, reeds vir 'n aansienlike tydperk gevestig was. Dit is egter nie bekend wanneer en op watter wyse die nomina sacra die eerste keer ontstaan het nie.

Die aanvanklike stelsel van nomina sacra het klaarblyklik bestaan uit slegs vier of vyf woorde, wat as nomina divina bekend gestaan het; dit wil sê, die Griekse woorde vir Jesus, Christus, Here, God, en moontlik Gees. Die praktyk het weldra uitgebrei tot 'n aantal verdere woorde wat as heilig beskou is.[3]

By die stelsel van nomina sacra wat uiteindelik gebruik is, word afkorting deur middel van sametrekking bewerkstellig, wat beteken dat die eerste en laaste letter (ten minste) van elke woord gebruik word. In 'n paar vroeë gevalle word 'n alternatiewe praktyk gesien van afkorting deur suspensie, wat beteken dat die aanvanklike twee letters (ten minste) van die woord gebruik word; bv. die openingsverse van Openbaring in Papirus 18 skryf "Ἰησοῦς Χριστός" (Jesus Christus) as 'IΗ ΧΡ'.

Dit is duidelik dat die gebruik van nomina sacra 'n daad van eerbied was eerder as 'n suiwer praktiese ruimtebesparende gebruik, aangesien hulle gebruik is selfs waar goed gevestigde afkortings van baie meer gereelde woorde soos en vermy is, en die nomen sacrum self met ruim spasiëring geskryf is. Verder het vroeë skrifgeleerdes dikwels 'n onderskeiding getref tussen die alledaagse en heilige voorkoms van dieselfde woord, bv. 'n gees teenoor die Gees, en nomina sacra slegs op laasgenoemde toegepas (wat soms noodwendig 'n eksegetiese keuse openbaar), hoewel latere skrifgeleerdes alle gevalle outomaties sou afkort.


Geleerdes en navorsers het 'n aantal teorieë voorgehou oor die oorsprong van die nomina sacra. Die Bybelse skrifgeleerde Larry Hurtado het Griekse syfers voorgestel as die bron van die "Überstrich" (Oorlyn, ‾) wat oor die nomen sacrum strek, met ΙΗ; die gebruiklike wyse waarop die syfer "18" geskryf word, wat herinner aan 'n gesuspendeerde vorm van die naam vir Jesus ("ΙΗΣΟΥΣ").[4] In sommige Griekse geskrewe manuskripte kom die Hebreeuse tetragrammaton (getranslitereer as YHWH) in sy nie-afgekorte vorm in die Griekse teks voor. Die Septuagint-manuskrip Papirus Oxyrhynchus 1007 gebruik selfs 'n verkorte vorm van die tetragrammaton: twee Griekse zetas met 'n horisontale lyn deur die middel, wat twee Paleo-Hebreeuse jodhs (𐤉‬𐤉) naboots.[5][6]

Die Griekse kultuur het ook 'n aantal maniere gebruik om selfs eiename te verkort, hoewel nie een in heeltemal dieselfde vorm as die nomina sacra nie. Inspirasie vir die saamgetrekte vorme (met die eerste en laaste letter) is ook gesien in Openbaring, waar Jesus van homself praat as "die begin en die einde" en "die eerste en die laaste" sowel as die "Alfa en die Omega".[7]

Cilliers Breytenbach en Christiane Zimmermann het gerapporteer dat nomina sacra teen die einde van die 2de eeu selfs voorkom in Christelike grafskrifte in Grieks in Lycaonia (moderne sentraal Turkye).[8]

Latynse afkortings van nomina sacra

[wysig | wysig bron]

Die afkortings wat gebruik word is afhanklik van die tipe skrif wat gebruik word en die naamval van die afgekorte woord. Lindsay gee hiervan 'n volledige oorsig.[9] Hierby enkele voorbeelde:

  • Christus: xp, xps, xpm, xpum, chi, cho, chm, chri, chro, chrm
  • Dawid: dd, dad
  • Deus: ds
  • Dominus: dns, dn, dms, dom
  • Hierusalem: hierusal, hierul, hierus, hierusl, hiers, hieru, hiru, hier, hir, hirm, ierl, hierlm, ihrlm
  • Iesus: ihs, ihm, ihu, ihus, ihum
  • Israel: isrl, isral, ihl, irl, ishl, isrhl, israhl, irl, srl
  • Spiritus: spus, spum, spm, sps

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Bruce M. Metzger. Manuscripts of the Greek Bible (1981).
  2. Text of the Earliest New Testament Greek Manuscripts - Philip Comfort and David Barett (1999) pp.34-35
  3. Charlesworth, S. D. (2006). "Consensus standardization in the systematic approach to nomina sacra in second- and third-century gospel manuscripts". Aegyptus. 86: 37–38.
  4. Hurtado, Larry W. (1998). "The Origin of the Nomina Sacra: A Proposal". Journal of Biblical Literature. 117: 655–673.
  5. Larry W. Hurtado (2006). The Earliest Christian Artifacts: Manuscripts and Christian Origins. Wm. B. Eerdmans Publishing. ISBN 0802828957.
  6. Wilkinson, Robert J. (2015). Tetragrammaton: Western Christians and the Hebrew Name of God: From the Beginnings to the Seventeenth Century. Nederland: Brill. p. 55.
  7. Roberts, Colin Henderson (1979). Manuscript, Society, and Belief in Early Christian Egypt. Londen: Oxford University Press. p. 37. ISBN 0-19-725982-0.
  8. Breytenbach, Cilliers; Zimmermann, Christiane (2018). Early Christianity in Lycaonia and Adjacent Areas: From Paul to Amphilochius of Iconium. Leiden: Brill. p. 14. ISBN 9789004352520.
  9. zie Lindsay, pp. 402-412.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Don C. Barker, "P.Lond.Lit. 207 and the origin of the nomina sacra: a tentative proposal", Studia Humaniora Tartuensia 8.A.2, 2007, 1–14.
  • Philip Comfort, Encountering the Manuscripts: An Introduction to New Testament Paleography and Textual Criticism, Broadman & Holman Publishers, 2005, pp. 199–253.
  • A.H.R.E. Paap, Nomina Sacra in the Greek Papyri of the First Five Centuries, Papyrologica Lugduno-Batava VIII (Leiden 1959).
  • Ludwig Traube. Nomina Sacra. Versuch einer Geschichte der christlichen Kürzung, München 1907.