Gaan na inhoud

Jakof Joerofski

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Joerofski in 1918.

Jakof Michailowitsj Joerofski (Russies: Я́ков Миха́йлович Юро́вский; 19 Junie [O.S. 7 Junie] 1878 - 2 Augustus 1938) was 'n Russiese Bolsjewistiese rewolusionêr en 'n Tsjekis (geheime polisieagent) van die Sowjetunie. Hy is die bekendste as hooflaksman in die moord op die Romanofs, onder andere die voormalige tsaar, Nikolaas II, sy hele gesin en nog lede van die huishouding wat in die Ipatijef-huis in Jekaterinburg aangehou is.

Nadat die moord deur die Oeralse Sowjet beplan is, het Joerofski die begrafnisterrein op 14 Julie gefinaliseer, asook planne om soveel getuienis as moontlik te vernietig.[1] Hy het voortdurend met Pjotr Jermakof, die militêre kommissaris van Werch-Isetsk, beraadslaag – dié was in beheer van die opruiming en het beweer hy ken die omgewing goed.[1]

Die gesin sou in die nag van 16-17 Julie 1918 in die Ipatijef-huis se kelder geskiet word. In die kommandant se kantoor het Joerofski slagoffers aan elke teregsteller toegewys en die wapens uitgedeel. Hy het 'n Mauser en Colt geneem. Ná 'n ruk het die lede van die teregstellingspan chaoties en oor mekaar se skouers begin skiet totdat die kamer so vol rook en stof was dat niemand iets in die donkerte kon sien of enige bevele bo die geraas kon hoor nie. Die moord het in 'n slagting ontaard.

Terwyl Joerofski en sy manne die lyke weggery het, het die Fiat-trok waarin die lyke vervoer is, in modder naby Porosenkof-kloof vasgeval. Dagbreek was naby en Joerofski het besluit om die lyke in die pad te begrawe waar die trok vasgeval het.[2] Hulle het 'n graf van 1,8 x 2,4 m en skaars 60 cm diep gegrawe.[1] Die lyke is ingegooi en swaelsuur is in die gat gegooi. Die gesigte is met die agterkant van gewere plat geslaan. Dwarslêers is oor die graf geplaas om dit weg te steek en daar is heen en weer met die Fiat-trok oor die dwarslêers gery om hulle in die grond in te trap. Aleksei en een van sy susters is in 'n vlak graf 'n entjie daarvandaan begrawe. Teen 06:00 die oggend van 19 Julie was alles verby.[1]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Rappaport, Helen. The Last Days of the Romanovs: Tragedy at Ekaterinburg. St. Martin's Griffin, 2010. ISBN 978-0312603472
  2. Slater, Wendy. The Many Deaths of Tsar Nicholas II: Relics, Remains and the Romanovs (Routledge, 2007)

Skakels

[wysig | wysig bron]