Gaan na inhoud

Elf (mitologie)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Elwe (Oudnoors álfr) is ligwesens of natuurgeeste wat hulle oorsprong in die Nordies-Germaanse mitologie het. In Ysland word hulle ook die Verborge Volk genoem. Hulle word meestal as klein mense uitgebeeld wat die woude, die see en die lug bewoon. Hulle tree dikwels vriendelik op teenoor mense, maar is in die algemeen eerder wraaksugtige wesens wat skade kan berokken.

Elwe in die mitologie

[wysig | wysig bron]

Nordiese mitologie: Ligelwe en Swart Elwe

[wysig | wysig bron]
Elwe van die weide. Skildery deur Nils Blommér (1850)
Dansende feetjies. Skildery deur August Malmström (1866)

In die Yslandse Snorra-Edda, wat omstreeks 1200 ontstaan het en as die Jongere Edda beskou word, is daar 'n verband tussen die Nordiese Ase-Godhede. Die werk maak ook 'n duidelike verskil tussen sogenaamde Lig- en Swart Elwe:

Sá er einn staðr þar, er kallaðr er Álfheimr. Þar byggvir fólk þat, er Ljósálfar heita, en Dökkálfar búa niðri í jörðu, ok eru þeir ólíkir þeim sýnum ok miklu ólíkari reyndum. Ljósálfar eru fegri en sól sýnum, en Dökkálfar eru svartari en bik.


Daar is 'n woning wat Alfheim genoem word. Hier woon die volk waarna as Ligelwe verwys word. Maar die Swart Elwe woon ondergronds, en hul aangesig en nog meer hul aktiwiteite verskil sterk van dié van die Ligelwe. Die laasgenoemdes is mooier as die Son, maar die Swart Elwe is pikdonker. (Gylfaginning, hoofstuk 17)

Dit is nie duidelik of die skrywer Snorri hierdie indeling self versin het of deur oorgelewerde tradisies beïnvloed is nie. Die Elwevolk versinnebeeld nogtans die vrugbaarheid en staan ook in verband met die Nordiese vrugbaarheidsgod Freyr.[1] Op 'n later tydstip is die Donkerelwe by die twee ander volke gevoeg; hulle word as 'n negatief-gesinde mengvolk beskryf.

Ander Nordiese skrywers verwys na 'n hiërargie waarby die Ase as Godhede die boonste laag verteenwoordig, die elwe die tweede en die dwerge die laagste plek inneem. Ander outeurs beweer dat daar 'n nou verwantskap tussen elwe en dwerge sou bestaan, aangesien die term álfr ook 'n bestanddeel van sommige dwergname soos Álfr, Gandálfr, Vindálfr en ander vorm. Die dwerg Alberik in die Nibelungen-saga is 'n goeie voorbeeld van hierdie etimologiese ooreenkomste. Ook die Engelse term vir dweg, dwarf, is afgelei van dwartftalf ("Swartelf"). Slegs een skrywer verwys na ooreenkomste tussen elwe en reuse.

Die demoniese natuur van die elwevolk word in die woordeskat van Germaanse tale weerspieël: Die oorspronklike Duitse terme vir elf is Elbe en Albe, en die laasgenoemde kom in samestellings soos die ouderwetse term Albenschuss ("lendepyn, spit") en Albtraum ("nagmerrie") voor.

Gewoonlik word elwe eerder postief as negatief uitgebeeld. Wieland die Smit (Oud-Nordies: Völundr), die legendariese hoofkarakter in 'n Oud-Nordiese saga (heldedig), as die leier en landgenoot van die Elwevolk beskryf - onder meer vanweë sy bekwaamheid as smit. Sommige van die Noorse koning Harald Hårfagre (Harald Mooihaar) se voorvaders dra name wat van die Nordiese term vir elf afgelei is soos Álfr, Álfgeirr, Gandálfr en Álfhild. In die Oud-Engelse digkuns word ælfsciene as 'n sinoniem vir "wondermooi" gebruik, terwyl "Elwewiel" 'n metafoor vir die Son word.

Álfablót

[wysig | wysig bron]

In die Heidense Europa is selfs offers aan die elwe gebring - die sogenaamde álfablót. Daar is min bekend oor hierdie praktyk. Die offer was 'n plaaslike aangeleentheid waaroor vroue toesig gehou het. Vreemdelinge het geen toegang tot die ritueel gehad nie. Navorsers neem aan dat die offer deel uitgemaak het van die destydse vrugbaarheidsrites en voorouerverering - die elwe is immers as alomteenwoordige magte beskou, en ook die rol wat vroue by die seremonie gespeel het steun hierdie vermoede. Die offers is waarskynlik aan die Swart Elwe gebring.[2]

Die enigste literêre verwysing na die offerfees kom in die werk van Sigvat Tordsson voor, die skald (of Oud-Noorse sanger) van koning Olav II Haraldsson (Olav die Heilige). Tydens 'n reis na die ooste kom hy op 'n plaas af:

Þá kom hann að öðrum garði. Stóð þar húsfreyja í durum, það hann ekki ðar inn koma, segir að þau sættu álfablót.


Toe kom hy op 'n ander plaas af waar die huisvrou by die deur gestaan het. Sy het vir hom gesê dat hy nie mog binnekom nie aangesien hulle besig was om 'n offer aan die elwe te bring. (Bron: Heimskringla: Saga Ólafs hins helga, hoofstuk 91)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Schjødt, Jens Peter: Relationen mellem aser og vaner og den ideologiske implikationer. (Die verhouding tussen Ase en Vane en sy ideologiese implikasies). In: Nordisk hedendom. Et Symposium. Odense 1991. bl. 303–319, 306
  2. De Vries, Jan: Über Sigvats Álfablót-Strophen. In: Acta Philologica Sacandinavica 7 (1932/1933), bl. 169