Gaan na inhoud

Domoina

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die tropiese storm Domoina naby die Mosambiekse kus op 29 Januarie 1984
Kaart van die baan en die intensiteit van die tropiese storm Domoina, volgens die Saffir-Simpson-skaal
Domoina verswak oor Madagaskar
Domoina oor Suid-Afrika

Die tropiese storm Domoina van 16 tot 31 Januarie 1984 het ernstige skade in Madagaskar, Mosambiek, Swaziland (nou Eswatini) en Suid-Afrika veroorsaak. Suid-Afrika is in meer as 'n eeu nie deur sulke stormwinde en stortreëns geteister nie. Hierdie natuurramp het op 'n baie ongeleë tyd plaasgevind, aangesien dit gevolg het op jare van erge en verwoestende droogte.

Ontstaan

[wysig | wysig bron]

In Januarie en Februarie was die omstandighede in die suidweste van die Indiese Oseaan uiters gunstig vir die ontwikkeling van 'n tropiese storm. Dit was die moesonseisoen en die oppervlaktewater was warmer as normaal. Op 16 Januarie ontstaan daar 'n spiraalvormige konveksiestroom in die atmosfeer aan die noordooskus van Madagaskar en is Domoina gedoop. Dit beweeg wesnoordwes verby die onbewoonde eilandjie (van skaars 1 km²) Tromelin by 15° 53′ 32″ suid en 54° 31′ 29″ oos. Daarna verander dit van rigting na suidwes.

Madagaskar

[wysig | wysig bron]

Op 21 Januarie bereik Domoina land net suid van Tamatava. Dit is die derde storm binne 6 weke in daardie gebied. Oor land verswak hierdie storms gewoonlik en neem Domoina dus ook af van 95 km per uur tot 'n 55 km per uur. Nogtans rig dit groot skade aan die ryslande aan. Twee dae later bereik dit by Belo sur Mer die Mosambiekkanaal. Dit gaan verder suidweswaarts en op 25 Januarie naby die Europa-eiland beweeg die windstote weer teen 95 km per uur, maar bereik soms 'n spoed van selfs 100 km per uur.

Mosambiek

[wysig | wysig bron]

Op 28 Januarie is Domoina reeds in die suide van Mosambiek. Alhoewel die intensiteit stadig afneem, is die reënval ongekend hoog. En die skade groot. Maputo kry 300 mm in twee dae. Dit is 40% van sy normale jaarlikse neerslag. Goba, suidwes van Maputo en naby die grens van Swaziland, kry 430 mm in slegs 5 dae. Baie mense was dakloos. Landerye met somergewasse is oorspoel. Vee vrek en damme bars. Laaggeleë dele op die oewers van die Pongolarivier is ontruim toe die rivier in vloed afkom. Honderde bome is ontwortel. Wydverspreide kragonderbrekings het voorgekom. ’n Paar dae was Maputo sonder kraanwater. Die hawe is gesluit en die treinverbinding met Suid-Afrika is opgeskort.

Swaziland

[wysig | wysig bron]

Die tropiese storm het Swaziland op 30 Januarie bereik. Piggs Peak kry 615 mm reën in een dag. Huise, paaie, landerye, brûe en kraglyne is verniel. Afgeleë gemeenskappe is van die buitewêreld afgesny. Alle skole en die lughawe is gesluit. Agt mense sterf en 10 000 lemoenbome is vernietig. 'n Noodtoestand is afgekondig en hulp van die VVO en die Europese Unie is vir heropbou ontvang. Die land se ekonomie het vir enkele jare daarna geen groei getoon nie.

Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Vanaf Swaziland is Domoina afgekeer deur die Drakensberge en het meer suid beweeg na die noorde van KwaZulu-Natal. Die meeste reën wat nog ooit in Suid-Afrika op een dag op een plek uitgesak het, was toe St. Lucia 'n 597 mm ontvang. Die Mfolozi-, Pongola-, Mkuze-, Usutu-, Komati- en Ingwavumariviere het in vloed afgekom. Die Mfolozi en die Pongola het selfs hul loop verander weens die hoeveelheid water. Die sluise van die Pongolapoortdam is geopen om te voorkom dat die dam meegee, alhoewel dit weer tot probleme op die vloedvlakte stroomaf in Mosambiek veroorsaak het. Alle panne in hierdie laaggeleë noorde van kwaZulu-Natal is gevul. Sestig mense het gesterf. Huise, paaie, brûe, landerye en spoorlyne is verwoes. Die hele area is tot rampgebied verklaar. Groot dele van die streek se vrugbare bolaag landbougrond is weggespoel. Skade aan die suikerrietlande is op R470 miljoen geraam. Maar die ernstige droogte van die voorafgaande paar jaar is gebreek.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Minnaar, A. de V.: Early floods in Zululand. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 38, nr. 2, Mei 1989
  • www.afterskul.com
  • www.upi.com
  • www.sahistory.org.za