Gaan na inhoud

Chinhoyi-grotte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Chinhoyi-grotte (Sinoia-grotte) in Masjonaland-Wes in Zimbabwe is ‘n unieke natuurverskynsel.

Ligging

[wysig | wysig bron]

Hierdie kalksteengrotte is naby die Alaska-kopermyn en 9km van die dorp Chinhoyi. Dit is 136km noordwes van Harare, langs die hoofpad wat lei na Karoi en die Otto Beit-brug by Chirundu op die grens tussen Zimbabwe en Zambië.

Ontstaan

[wysig | wysig bron]

Kalksteengrotte word veroorsaak deur die inwerking van water op die oplosbare dolomietiese klip. Hierdie doolhof is ‘n geskatte 600 miljoen jaar oud en vorm deel van ‘n reuse onderaardse stelsel. In die vlak grond het ‘n deel van die bogrond ingestort en die ronde sinkgat veroorsaak.

Grotte

[wysig | wysig bron]

Dit bestaan uit ‘n netwerk van gange, kanale en spelonke met stalagmiete en stalaktiete. Die opvallendste kenmerk is die sinkgat met vertikale wande waarin op ‘n diepte van ‘n 50m die Sleeping Pool lê. Die water daarin is so helder dat tot 52m ver daardeur gesien kan word. Kenners skat die meer se diepte op ‘n 170m. Dwarsdeur die jaar wissel die watertemperatuur slegs tussen die 22º en 24ºC.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Tydens die Steentydperk was die eerste mense reeds hier. Daarna het die bewoners die grotte as bêreplek vir voedsel en as skuilplek teen aanvallers gebruik. In 1830 is die bewoners aangeval en is slagoffers in die meer gegooi. Die grotte en die bos rondom het ‘n groot rol gespeel in die folklore van die oorspronklike bewoners. Rituele vir die maak van reën het hier plaasgevind en daarom moes die heilige bos ongeskonde bly. Uit 1888 dateer Frederick Courtney Selous se eerste beskrywing van die grottestelsel.

Toerisme

[wysig | wysig bron]

Die Chinhoyi-grotte en die terrein daar rondom is in 1955 tot nasionale park verklaar. Ervare en professionele duikers gebruik die poel gereeld as oefenplek. In 1992 het duikers van die V.S.A. se vloot tot ‘n diepte van 136m daarin afgedaal. Vir voëlkenners is die oorspronklike plantegroei ‘n paradys.

Lees ook

[wysig | wysig bron]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Green, Lawrence G.: Full many a glorious morning. Kaapstad: Howard Timmins, 1968.