Gaan na inhoud

Inferno (Dante)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur BurgertB (besprekings | bydraes) op 16:00, 29 Maart 2024 (Ptolemeus)
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Kanto I uit die Inferno, die eerste deel van die Goddelike Komedie deur Dante Alighieri.

Inferno (Italiaans vir "hel") is die eerste deel van die Italiaanse skrywer Dante Alighieri se 14de-eeuse epiese gedig Goddelike Komedie. Dit word gevolg deur Purgatorio en Paradiso. Die Inferno beskryf Dante se reis deur die hel, begelei deur die Romeinse digter Vergilius. In die gedig word die hel uitgebeeld in nege konsentriese sirkels van foltering wat in die aarde geleë is; dit is die "ryk ... van diegene wat spirituele waardes verwerp het deur hulle oor te gee aan dierlike aptyte of geweld, of wat hulle menslike intellek bederf het met bedrog of kwaadwilligheid teenoor hulle medemens".[1] As 'n allegorie verteenwoordig die Goddelike Komedie die reis van die siel na God, met die Inferno wat die erkenning en verwerping van sonde beskryf.[2] Die woord "komedie" beteken hier 'n gedig met 'n gelukkige einde, en moenie verstaan word in die moderne sin van 'n komedie nie.

Voorspel tot die hel

[wysig | wysig bron]

Kanto I

[wysig | wysig bron]
Gustave Doré se graveerwerk illustreer die Goddelike Komedie (1861-'68). Hier verdwaal Dante aan die begin van Kanto I van die Inferno.
Gustave Doré se illustrasie van Kanto III: Aankoms van Charon.

Die gedig begin die nag van Wit-Donderdag op 7 April 1300, kort voor die aanbreek van Goeie Vrydag.[3][4] Die verteller, Dante self, is 35 jaar oud en dus "halfpad op die reis van ons lewe" (Nel mezzo del cammin di nostra vita) – die helfte van die Bybelse lewensduur van 70 jaar (Psalm 90:10 in die Afrikaanse vertalings). Die digter verdwaal in 'n donker woud (selva oscura), weg van die reguit pad (diritta via) of smal weg van redding. Hy wil 'n klein berg uitklim, maar drie diere versper sy pad: 'n lonza (gewoonlik vertaal as luiperd),[5] 'n leone (leeu) en 'n lupa (wyfiewolf). Die drie diere, wat uit Jeremia 5:6 kom, simboliseer vermoedelik die drie soorte sonde wat die onboetvaardige siel tot in een van die drie hoofafdelings van die hel bring. Volgens John Ciardi is dit onbeheerstheid (die wyfiewolf), geweld (die leeu) en kwaadwilligheid (die luiperd).[6] Volgens Dorothy L. Sayers verteenwoordig die luiperd onbeheerstheid en die wyfiewolf kwaadwilligheid.[7]

Dit is nou dagbreek op Goeie Vrydag, met die son wat in die Ram opkom. Die diere verdryf Dante na 'n donker "laer plek" (basso loco), waar die son stil is (l sol tace). Dante word egter gered deur 'n figuur wat sê hy is sub Iulio gebore (dus in die tyd van Julius Caesar) en het onder Augustus gelewe: Dit is die siel van die Romeinse digter Vergilius, die skrywer van die Eneïde, 'n Latynse epiese gedig.

Kanto II

[wysig | wysig bron]

Vergilius verduidelik aan Dante dat hy deur Beatrice, die simbool van goddelike liefde, gestuur is. Beatrice is oorreed om Dante te help deur die Maagd Maria (simbolies van medelye) en sint Lucia (simbolies van genade). Ragel, simbolies van die peinsende lewe, verskyn ook in die hemelse toneel wat deur Dante beskryf word. Die twee mans begin dan hulle reis na die onderwêreld.

Kanto III: Voorhof van die hel

[wysig | wysig bron]

Dante loop deur die poort van die hel met die opskrif "Los enige hoop, jy wat binnekom" (Lasciate ogne speranza, voi ch'intrate). Dante en sy gids hoor die beangste gille van die onverbondenes. Dit is die siele van mense wat in die lewe geen kant gekies het nie; die opportuniste wat nie goed of kwaad gekies het nie, maar hulle net oor hulleself bekommer het. Onder hulle herken Dante 'n figuur wat vir die "groot weiering" verantwoordelik was, wat pous Celestinus V impliseer wie se "lafhartigheid (uit 'n selfsugtige vrees vir sy eie welstand) gedien het as die deur waardeur so baie boosheid die Kerk binnegekom het".[8]

Saam met dié mense is die uitgeworpenes wat nie kant gekies het in die "Oorlog van die Engele" nie. Dié siele is vir altyd ongeklassifiseerd; hulle is nie in of buite die hel nie, maar bly aan die oewers van die rivier Ageron. Hulle hardloop nakend in die mis rond in 'n ewige soeke na 'n ontwykende banier (wat simbolies is van hulle soeke na ewig veranderende eiegewin). Hulle word deur perdebye gejaag wat hulle sonder ophou steek.[9] Walglike maaiers en wurms aan die sondaars se voete drink die stinkende mengsel van bloed, etter en trane wat teen hulle liggaam afrol. Dit simboliseer die steek van hulle skuldige gewete en die afsku van sonde. Dit kan ook beskou word as 'n weerspieëling van die spirituele stagnasie waarin hulle gelewe het.

Nadat hulle deur die voorhof beweeg het, bereik Dante en Vergilius die veerboot oor die rivier Ageron na die eintlike hel. Aan die stuur van die veerboot is Charon, wat Dante nie wil binnelaat nie omdat hy nog lewe. Vergilius dwing hom egter om Dante oor die rivier te neem deur vir hom te sê Dante is om goddelike redes op sy reis. Die gehuil en godslastering van die veroordeelde siele wat Charon se boot binnekom, kontrasteer met die vreugdevolle gesing van die geseënde siele wat per veerboot in die Purgatorio (vaevuur) aankom. Die vaart oor die Ageron word egter nie beskryf nie, omdat Dante flou word en eers aan die ander kant wakker word.

Nege sirkels van die hel

[wysig | wysig bron]

Oorsig

[wysig | wysig bron]

Vergilius lei Dante deur die nege sirkels van die hel. Die sirkels is konsentries en verteenwoordig 'n geleidelike toename in boosheid. Die sirkels kulmineer in die middel van die aarde, waar Satan gevange gehou word. Die sondaars van elke sirkel word vir ewig gestraf op 'n manier wat by hulle misdade pas: Elke straf is 'n contrapasso, 'n simboliese voorbeeld van digterlike geregtigheid. Dante en Vergilius loop byvoorbeeld later in die gedig waarsêers raak wat vorentoe moet loop terwyl hulle koppe agtertoe wys. Hulle kan nie sien wat voor hulle aangaan nie, want hulle het in die lewe op ongeoorloofde maniere probeer om die toekoms te voorspel. So 'n contrapasso "dien nie net as 'n vorm van goddelike wraak nie, maar eerder as die vervulling van 'n bestemming wat elke siel vrylik in sy of haar lewe gekies het". Mense wat gesondig het maar voor hulle dood om vergifnis gevra het, is nie in die hel nie, maar in die vaevuur, waar hulle werk om verlos te word van hulle sonde. Dié in die hel is mense wat hulle sonde probeer regverdig en onboetvaardig is.

'n Kaart van Dante se Inferno, deur Sandro Botticelli.

Dante se hel is gestruktureer op die idees van Aristoteles, maar met "sekere Christelike simbolismes, uitsonderings en misvattings van Aristoteles se teks",[10] en 'n verdere aanvulling van Cicero se De Officiis.[11] Vergilius herinner Dante (die karakter) aan die drie groot sondes: onbeheerstheid, onsedelikheid en kwaadwilligheid.[12] Cicero het op sy beurt sonde verdeel in geweld en bedrog.[13] Deur Cicero se geweld met Aristoteles se dierlikheid saam te smelt, en sy bedrog met kwaadwilligheid of onsedelikheid, het Dante die digter drie hoofkategorieë van sonde geskep, soos gesimboliseer deur die drie diere wat hy in Kanto I teenkom: onbeheerstheid, geweld en kwaadwilligheid.[10][14]

Sondaars wat vir onbeheerstheid gestraf word – die wellustiges, gulsiges, opgaarders en wraaksugtiges – demonstreer almal 'n swakheid in die beheersing van hulle aptyte, begeertes en natuurlike drange. Dié sondaars word in vier sirkels van die boonste hel (sirkels 2-5) aangetref. Hulle foltering is ligter as dié in die onderste hel, wat tussen die mure van die stad Dis geleë is en daar is vir die pleeg van gewelds- en bedrogmisdade.[14] Die dieper vlakke is georganiseer in een sirkel vir geweld (sirkel 7) en twee vir bedrog/verraad (sirkels 8 en 9). As 'n Christen voeg Dante sirkel 1 (die voorhel) by die boonste hel en sirkel 6 (kettery) by die onderste hel, en dit maak altesaam nege sirkels. Saam met die voorhof is daar dus 10 hoofafdelings van die hel.[14] Die struktuur "9+1=10" word ook in die Purgatorio en Paradiso aangetref. Die onderste hel word verder opgedeel: Sirkel 7 (geweld) word in drie ringe verdeel, sirkel 8 (bedrog) in 10 bolge en sirkel 9 (verraad) in vier streke of rondtes. Die hel bestaan dus uit altesaam 24 afdelings.

Eerste sirkel (voorhel)

[wysig | wysig bron]
Die Redding uit die Hel, in 'n 14de-eeuse versierde manuskrip, die Petites Heures de Jean de Berry.

Kanto IV
Dante word wakker en vind uit hy het die Ageron oorgesteek, en Vergilius lei hom die eerste sirkel van die hel, die voorhel, binne waar Vergilius self bly. Die eerste sirkel huisves die ongedooptes en deugsame heidene wat nie Christus aanvaar het nie, hoewel hulle nie sondig genoeg is om verdoemenis te regverdig nie. Dorothy L. Sayers skryf: "Ná dié wat keuses geweier het, kom dié wat nie 'n keuse gehad het nie. Hulle kon nie Christus kies nie, maar het eerder menslike deugsaamheid gekies, en daarvoor word hulle beloon."[15] Die voorhel deel baie eienskappe met die Affodilland, en dus word die verdoemdes sonder skuld gestraf deur in 'n onvolwaardige vorm van die hemel te bly. Toe Dante vra of enigiemand al die voorhel verlaat het, antwoord Vergilius hy het gesien hoe Jesus die voorhel binnegegaan en Adam, Abel, Noag, Moses, Abraham, Dawid, Ragel en ander in sy allesvergewende arms neem en na die hemel vervoer as die eerste menslike siele wat gered is. Dié redding uit die hel het na bewering omstreeks 33 of 34 n.C. gebeur.

Dante loop die digters Homeros, Horatius, Ovidius en Lucanus raak wat hom in hulle midde insluit en hom die "sesde een in daardie hoë geselskap" maak.[16] Hulle kom by die basis van 'n groot kasteel – die woonplek van die slimste manne van die oudheid – wat deur sewe poorte en 'n vloeiende spruit omring word. Nadat hulle deur die sewe poorte geloop het, kom die groep by 'n eksotiese groen vallei en Dante loop die inwoners van die kasteel raak. Dit sluit figure in wat met die Trojane en hulle afstammelinge (die Romeine) verbind word: Elektra (die moeder van Troje se stigter, Dardanus), Hektor, Eneas, Julius Caesar in sy rol as Romeinse generaal, Kamilla, Pentesileia (koningin van die Amasones), Lucius Junius Brutus (wat die Romeinse Republiek gestig het), Lucretia, Julia (dogter van Caesar) en Saladin, 'n Moslemse militêre leier wat bekend is vir sy geveg teen die Kruisvaarders.

Dante loop volgende 'n groep filosowe raak, insluitende Aristoteles, Sokrates en Plato. Hy sien die mitiese Griekse digters Orfeus en Linus, en die Romeinse staatsmanne Marcus Tullius Cicero en Seneca. Hy sien die Griekse wiskundige Euklides en die Aleksandrynse sterrekundige Ptolemeus, sowel as die geneeshere Hippokrates en Galenus. Dante en Vergilius verlaat die ander vier digters en sit hulle reis voort.

Tweede sirkel (wellus)

[wysig | wysig bron]
Gustave Doré se uitbeelding van Minos wat sondaars veroordeel aan die begin van Kanto V.

Kanto V
Dante en Vergilius verlaat die voorhel en gaan die tweede sirkel binne – die eerste van die sirkels van onbeheerstheid – waar die strawwe van die werklike hel begin. Hulle pad word versper deur die slang Minos, wat almal wat met opset sondes gepleeg het, na een van die laer sirkels veroordeel. In dié stadium van die Inferno word van elke sondaar verwag om al sy sondes aan Minos te bely, en daarna veroordeel Minos hulle tot 'n straf deur sy stert 'n paar keer om sy lyf te draai, soveel keer as wat ooreenstem met die sirkel van die hel waarheen die siel moet gaan. Die rol van Minos hier is 'n kombinasie van sy klassieke rol as veroordelaar en onregverdige regter van die onderwêreld en sy rol as die klassieke Rhadamanthys, ondervraer en biegvader van die onderwêreld.[17]

Hierdie verpligte belydenisse veroorsaak dat elke siel sy eie plek onder die veroordeeldes verbaliseer, want sy belydenisse is die enigste gronde vir sy plasing in die hel.[18] Van Dante word nie vereis om 'n belydenis te doen nie; in die plek daarvan berispe Vergilius vir Minos, en hy en Dante hervat hulle reis.

In die tweede sirkel van die hel is die siele van dié wat hulle aan wellus oorgegee het. Dié "seksuele oortreders"[19] word veroordeel omdat hulle aptyte in die pad van hulle rede gekom het. Dié siele word sonder einde heen en weer geruk deur verskriklike stormwinde. Dit simboliseer die mag van wellus om sonder rede of doel te waai. Aangesien wellus wedersydse bevrediging vereis, en dus nie heeltemal selfgesentreerd is nie, beskou Dante dit as die minste gruwelik van die sondes, en die straf daarvoor is die ligste in die werklike hel.[20][21]

In dié sirkel sien Dante vir Dido, Cleopatra, Helena van Troje, Paris, Achilles en baie ander wat hulle in hulle lewe aan seksuele liefde oorgegee het. Vanweë die teenwoordigheid van so baie heersers onder die wellustiges is die vyfde kanto van die Inferno al die "kanto van die koninginne" genoem.[22]

Derde sirkel (gulsigheid)

[wysig | wysig bron]
Kerberos, soos geteken deur Gustave Doré.

Kanto VI
In die derde sirkel woel die gulsiges rond in 'n walglike, stinkende slyk wat geskep word deur 'n oneindige, vuil ysreën – "'n groot storm van ontbinding"[23] – as straf vir hulle oormatige aptyt. Kerberos (beskryf as "il gran vermo", letterlik "die groot wurm", reël 22), die monsteragtige, uitgehongerde, driekoppige dierasie van die hel, pas die gulsiges op en verskeur hulle met sy kloue terwyl hulle soos honde tjank. Vergilius verkry veilige deurgang deur die monster se drie bekke met modder te vul.

Dorothy L. Sayers skryf "die oorgawe aan sonde wat met wedersydse bevrediging begin het, lei deur 'n onmerkbare degradasie na eensame selfkoestering".[24] Die gulsiges kruip op hulle eie in die modder rond sonder om hulle bure te sien, en dit simboliseer die koue, selfsugtige en leë sensualiteit van hulle lewe.[24] Net soos wellus sy ware aard in die winde van die vorige sirkel getoon het, onthul die slyk hier die ware aard van sensualiteit – wat nie net tot uiting kom in te veel eet en drink nie, maar ook in enige ander soort verslawing.[25]

Vierde sirkel (gierigheid)

[wysig | wysig bron]
In Gustave Doré se illustrasies vir die vierde sirkel is die gewigte groot geldsakke.

Kanto VII
Die vierde sirkel word bewaak deur 'n figuur wat Dante "Pluto" noem: Dit is Plutus, die god van rykdom in klassieke mitologie. Hoewel die twee karakters dikwels verwar word, is Plutus 'n ander figuur as Pluto (Dis), die klassieke heerser van die onderwêreld. Aan die begin van Kanto VII dreig hy Vergilius en Dante, maar Vergilius beskerm Dante teen hom.

Die mense wat 'n groot behoefte aan materiële goedere gehad het, se siele word in die vierde sirkel gestraf. Hulle sluit in die hebsugtiges en gierigaards (insluitende baie "kerklui, en pouse en kardinale"),[26] wat besittings vergader het, asook die verkwisters, wat geld uitgemors het. Hulle dra groot gewigte wat hulle met hulle bors stoot.

Dorothy L. Sayers verbind dié sonde van onbeheerstheid met die vorige twee (wellus en gulsigheid), en skryf: "Wedersydse bevrediging het reeds gedegradeer tot selfsugtige aptyt; nou raak daardie aptyt bewus van die onverenigbaarheid en ewe selfsugtige aptyte van ander mense. Onverskilligheid word wedersydse antagonisme, wat hier uitgebeeld word deur die antagonisme tussen opgaring en verkwisting."[27] Die kontras tussen dié twee groepe laat Vergilius verwys na die aard van die wiel van geluk, wat nasies tot grootsheid ophef en hulle later in armoede laat verval, namate sy "daardie leë goed van nasie tot nasie, clan tot clan" verskuif.[28] Dié redevoering vul wat andersins 'n gaping in die gedig sou gewees het, want albei groepe is so verdiep in hulle aktiwiteit dat dit volgens Vergilius nutteloos sou gewees het om met hulle te probeer praat – hulle het inderdaad hulle individualiteit verloor en is nou "onherkenbaar".[29]

Die vyfde sirkel, geïllustreer deur Stradanus.

Vyfde sirkel (gramskap)

[wysig | wysig bron]
Die Bark van Dante, deur Eugène Delacroix.

In die stink, moerasagtige water van die rivier Styx – die vyfde sirkel – baklei die aktiewe wraaksugtiges woes teen mekaar op die oppervlak van die slyk, terwyl die passiewe wraaksugtiges stuurs onder die water lê, teruggetrek "in 'n swart nukkerigheid wat geen vreugde in God of die mens of die heelal kan wegneem nie".[27] Dorothy L. Sayers skryf: "Op die stinkende moeras van die Styx verskeur die aktiewe haters mekaar en grom vir mekaar; onder lê die passiewe haters gorrelend, nie eens in staat om te praat nie weens die woede wat hulle verwurg."[27]

As die laaste sirkel van onbeheerstheid merk die "woedende selffrustrasie" van die vyfde sirkel die einde "van dit wat sag en romanties begin het met flankering en wedersydse passie".[27]

Kanto VIII
Flegias vervoer Dante en Vergilius oor die Styx in sy bootjie. Op pad word hulle bygedam deur Filippo Argenti van die vooraanstaande Adimari-familie, 'n politikus en inwoners van Florence en 'n Swart Guelf. Min is oor Argenti bekend, hoewel Giovanni Boccaccio 'n voorval beskryf waarin hy sy humeur verloor; vroeë kommentators het gesê Argenti se broer het op sommige van Dante se besittings beslag gelê ná sy verbanning uit Florence.[30] Net soos Argenti die "gryping" van Dante se eiendom moontlik gemaak het, word hy deur al die ander wraaksugtiges "gegryp".

Ingang tot Dis

[wysig | wysig bron]

In die verte kan Dante hoë torings sien wat soos rooi moskees lyk. Vergilius deel hom mee dat hulle die stad Dis nader. Dis, wat self omring is deur die Styx-moeras, omsluit die onderste hel tussen sy mure.[31] Dis is een van die name van Pluto, die klassieke koning van die onderwêreld, asook die naam van die ryk. Gevalle engele bewaak die mure van Dis. Vergilius kan hulle nie oorreed om hom en Dante binne te laat nie.

Kanto IX
Dante word gedreig deur die Eriniërs (wat bestaan uit Alekto, Megaera en Tisifone) en Medusa. 'n Engel wat uit die hemel gestuur word, verseker toegang vir die digters deur die poort met 'n staf oop te maak, en betig dié wat Dante teengegaan het. Allegories onthul dit die feit dat die gedig begin handel oor sondes wat die filosofie en humanisme nie heeltemal verstaan nie.

Die onderste hel, tussen die mure van Dis, deur Stradanus.

Sesde sirkel (kettery)

[wysig | wysig bron]

Kanto X
In die sesde sirkel is ketters soos Epikurus en sy volgelinge (wat sê "die siel sterf saam met die liggaam").[32] Hulle is vasgevang in brandende graftombes. Dante gesels met twee Epikuriese Florentyne in een van die tombes: Farinata degli Uberti, 'n beroemde Ghibellynse leier wat ná sy dood in 1283 skuldig bevind is aan kettery; en Cavalcante de' Cavalcanti, 'n Guelf wat die vader was van Dante se vriend en mededigter Guido Cavalcanti. Die twee mans se politieke bande lei tot 'n verdere bespreking van Florentynse politiek. In antwoord op Dante se vraag oor die "profesie" wat hy ontvang het, verduidelik Farinata dit wat die siele in die hel van die lewe op aarde weet, kom van in die toekoms insien, nie van huidige waarneming nie. Daarom, wanneer "die portaal van die toekoms gesluit is",[33] sal dit nie meer vir hulle moontlik wees om enigiets te weet nie. Farinata sê ook saam met hulle in die tombe is keiser Frederik II van die Heilige Romeinse Ryk, wat vermoedelik 'n Epikureër was, en Ottaviano degli Ubaldini, na wie Dante verwys as il Cardinale.

Kanto XI
Dante lees 'n inskripsie op een van die tombes wat aandui dit behoort aan pous Anastasius II – hoewel sommige moderne geleerdes meen Dante het 'n fout gemaak in die vers wat Anastasius noem ("Anastasio papa guardo, / lo qual trasse Fotin de la via dritta", reëls 8–9), en dat hy die pous verwar het met die Bisantynse keiser uit dié tyd, Anastasius I.[34][35]

Voordat die digters teen die steilte afbeweeg na die stinkende sewende sirkel, verduidelik Vergilius die geografie en logika van die onderste hel, waarin die sondes geweld en kwaadwilligheid) gestraf word. In sy verduideliking verwys Vergilius na Aristoteles se Nikomachiese Etiek en Fisika, met Middeleeuse verduidelikings. Vergilius sê daar is net twee wettige bronne van rykdom: natuurlike bronne ("Natuur") en menslike werk en aktiwiteit ("Kuns"). Woekery, wat in die volgende sirkel gestraf word, is dus 'n oortreding teen albei; dit is 'n soort godslastering, want dit is 'n geweldsmisdaad teen Kuns, wat die kind van Natuur is, en Natuur kom van God.[36]

Vergilius dui dan die tyd aan met 'n onverklaarde begrip van die sterre se posisies. Die Groot Beer lê nou in die noordooste oor Caurus (die noordwestewind). Die sterrebeeld Visse verskyn net aan die horison: Dit is die diereriemsterrebeeld voor die Ram. In Kanto I word gesê die son is in die Ram, en aangesien die 12 diereriembeelde twee uur uitmekaar opkom, moet dit nou sowat twee uur voor sonsopkoms wees: 04:00 op Heilige Saterdag, 9 April.[36][37]

Sewende sirkel (geweld)

[wysig | wysig bron]

Kanto XII

Mense wat soms "tot die wenkbroue" in kokende bloed gedompel is.[38]

Die sewende sirkel, wat in drie ringe verdeel is, huisves die geweldenaars. Dante en Vergilius loop met 'n klomp rotse af wat eens 'n krans gevorm het om van die sesde tot die sewende sirkel te kom. Op pad moet hulle die Minotourus (L'infamia di Creti, "die skandteken van Kreta", reël 12) systap. Toe hy hulle sien, knaag die Minotourus aan sy vleis. Vergilius verseker die monster dat Dante nie sy gehate vyand, Teseus, is nie. Hierop storm die Minotourus op hulle af terwyl Dante en Vergilius vinnig die sewende sirkel binnegaan. Vergilius verduidelik die rotse wat om hulle rondlê, kom van die groot aardbewing wat plaasgevind het die oomblik toe Jesus sterf (Matteus 27:51).

Ring 1: teen bure: In die eerste ring van die sewende sirkel word die moordenaars, oorlogmakers, plunderaars en tiranne gedompel in die Flegeton, 'n rivier van kokende bloed en vuur. Ciardi skryf: "Nes hulle tydens hulle lewe in bloed gerol het, so is hulle vir ewig in die kokende bloed gedompel, elk volgens die graad van sy skuld."[39] Die sentoure patrolleer die ring en skiet enige sondaar met 'n pyl as hy höer uit die bloed opkom as wat hy toegelaat word. Die sentour Nessus lei die digters met die Flegeton langs en wys Alexander die Grote (betwis) uit, asook "Dionysius" (I of II, albei bloeddorstige, ongewilde tiranne van Sisilië), Ezzelino III da Romano, 'n wrede Ghibellynse tiran, en ander.

Die rivier word vlakker totdat dit by 'n drif kom, en loop van daar weer na die dieper dele waar Dante en Virgilius eerste was; hier in die rivier gedompel is tiranne soos Attila, koning van die Hunne (flagello in terra, "scourge on earth", line 134), Sextus Pompeius en ander.

Harpye in die Woud van die Selfmoorde, Gustave Doré, 1861.

Kanto XIII

Ring 2: teen die self: Die tweede ring van die sewende sirkel is die Woud van die Selfmoorde, waar mense wat weens selfmoord gesterf of byna gesterf het, verander word in knoetserige doringbome waaraan harpye eet; dié is aaklige voëls met kloue en die gesig van 'n vrou. Die bome mag net praat wanneer hulle gebreek is en bloei. Dante breek 'n tak van een van die bome af en hoor van die bloeiende stam die verhaal van Pietro della Vigna, 'n magtige minister van keiser Frederik II, totdat hy ongewild geraak het en hy in hegtenis geneem en sy oë uitgesteek is. Hy het daarna selfmoord gepleeg; sy teenwoordigheid hier, in plaas van in die negende sirkel, beteken Dante glo die beskuldigings teen hom was vals.[40]

Die harpye en die eienskappe van die bloeiende bome is geskoei op Boek 3 van die Eneïde. Volgens Dorothy L. Sayers stel Dante selfmoord voor as 'n "belediging vir die liggaam"; hier word die bome ontneem van selfs enige ooreenkoms met die menslike vorm. Omdat hulle die lewe van die hand gewys het, bly hulle vir ewig in 'n dooie en verwelkte steriliteit. Hulle is die beeld van die selfhaat wat die hele essensie van energie opsuig en alle lewe onvrugbaar maak."[40] Die bome kan ook vertolk word as die gemoedstoestand waarin selfmoord gepleeg word.[41]

Dante vind uit dié selfmoordgevalle sal nie ná die oordeelsdag opgewek word nie, want hulle het hulle liggame weggegooi. Hulle sal hulle boomvorm behou, met hulle eie liggame wat van die dorings af hang. Nadat Pietro della Vigna sy storie klaar vertel het, sien Dante twee bome (Lano da Siena en Jacopo Sant' Andrea) deur die woud hardloop terwyl hulle deur boosaardige tewe verskeur word – dit is die straf van gewelddadige verkwisters, "wat hulle besittings verspil het uit 'n blote wellustige behoefte om verwoesting en wanorde te saai".[40]

Brunetto Latini praat met Dante in Kanto XV, deur Gustave Doré.

Kanto XIV

Ring 3: teen God, Kuns en die Natuur: Die derde ring van die sewende sirkel is 'n groot Vlakte van Brandende Sand wat warm gehou word deur vlamme wat stadig uit die lug val, 'n beeld wat kom uit die lot van Sodom en Gomorra (Genesis 19:24). Die godslasteraars (geweldenaars teen God) lê op die naat van hulle rug, uitgestrek op die brandende sand; die sodomiete (geweldenaars teen die Natuur) hardloop in sirkels rond, terwyl die woekeraars (geweldenaars teen Kuns, wat die kleinkind van God is, soos in Kanto XI verduidelik) op 'n bondel gehurk sit en huil. Ciardi skryf: "Godslastering, sodomie en woekery is alles onnatuurlike en steriele dade; daarom is die onuithoudbare woestyn die ewige blyplek van dié sondaars. Dus kom die reën, wat in die natuur vrugbaar en koel behoort te wees, as vuur uit die lug."[42]

Dante vind Kapaneus uitgestrek op die sand; hy is daar weens godslastering teen Jove, hy is met 'n weerligstraal platgeslaan tydens die oorlog van die Sewe teen Thebe; hy vloek Jove steeds in die hiernamaals. Die oorloop van die Flegeton, die rivier van bloed van die eerste ring, vloei kokend deur die Woud van Selfmoorde (die tweede ring) en oor die Brandende Vlakte.

Kanto XV
Dante en Vergilius loop oor die brandende vlakte, want hulle word teen die kokende bloed beskerm. Hulle loop verby 'n swerwende groep sodomiete en Dante herken, tot sy verbasing, vir Brunetto Latini. Dante praat met diepe en droewige teerheid met Brunetto, "en betoon hom die hoogste hulde wat 'n mens aan enige sondaar in die Inferno kan betoon".[43] Daarmee ontken die digter enige bewerings dat hy net sy vyande in die hel geplaas het.[44] Dante het baie respek vir Brunetto en voel hy is spiritueel baie aan hom en sy werk verskuldig;[45] Brunetto voorspel Dante se slegte behandeling deur die Florentyne. Hy wys ook ander sodomiete uit.

Dante en Vergilius op die rug van Geruon, Kanto XVII (Bertel Thorvaldsen ).

Kanto XVI
Die digters begin die waterval hoor wat oor die Groot Krans tot in die agtste sirkel val toe drie siele hulle groet. Hulle is Iacopo Rusticucci, Guido Guerra en Tegghiaio Aldobrandi – almal Florentyne vir wie Dante baie respek het. Rusticucci blameer sy wreedaardige vrou vir sy folterings. Die sondaars vra uit oor nuus oor Florence, en Dante vertel vir hulle die huidige toestand van die stad.

In opdrag van Vergilius verwyder Dante 'n koord om sy middellyf aan die bopont van die waterval en Vergilius gooi dit oor die kant; asof in antwoord, swem 'n groot, verwronge vorm deur die vuil lug van die afgrond.

Kanto XVII
Die wese is Geruon, die Monster van Bedrog. Vergilius kondig aan hulle moet op die monster se rug van die krans af vlieg. Dante gaan eers alleen om die woekeraars te inspekteer. Hy herken hulle nie, maar elk het 'n wapen om sy nek wat aandui hulle is van vooraanstaande Florentynse families. Dante sluit daarna weer by Vergilius aan en op Geruon se rug begin hulle hulle afwaartse vlug van die krans na die agtste sirkel: die hel van die bedrieërs en kwaadwilliges.

Geruon, die gevlerkte monster wat Dante en Vergilius toelaat om af te vlieg na die agtste sirkel, is tradisioneel uitgebeeld as 'n reus met drie koppe en drie liggame wat versmelt.[46] Dante se Geruon is egter 'n beeld van bedrog,[47] wat mens, dier en reptiel kombineer: Hy is 'n "monster met die algemene vorm van 'n gevleuelde draak, maar het die stert van 'n skerpioen, harige arms, 'n reptiellyf en die gesig van 'n eerlike, regverdige man".[48] Die aangename gesig op die groteske lyf verteenwoordig die oneerlike bedrieër wie se bedoelings "agter die gesig" monsteragtig, koudbloedig en giftig is.

Agtste sirkel (bedrog)

[wysig | wysig bron]

Kanto XVIII
Dante bevind hom nou in die agtste sirkel, wat Malebolge ("Bose slote") genoem word. Dit is die boonste deel van die hel vir die bedrieërs en kwaadwilliges. Die agtste sirkel is 'n groot tregter van steen in die vorm van 'n amfiteater, waarom 10 diep, nou, konsentriese slote loop wat bolge (enkelvoud: bolgia) genoem word. Binne dié slote word dié gestraf wat skuldig is aan eenvoudige bedrog. Van die voet van die Groot Krans tot by die Put (wat die nek van die tregter vorm) is groot stukke rots wat uitsteek, soos die speke van 'n wiel, wat dien as brûe oor die 10 slote. Dorothy L. Sayers skryf die Malebolge is "die beeld van die Stad in korrupsie: die progressiewe disintegrasie van elke sosiale verhouding, persoonlik en openbaar. Seksualiteit, kerk- en staatsdiens, taal, eienaarskap, raadgewing, outoriteit, fisieke invloed en materiële interafhanklikheid – al die media van die gemeenskap se wisselwerking – is pervers en vervals".[49]

Illustrasie deur Sandro Botticelli: Dante en Vergilis besoek die eerste twee bolge van die agtste sirkel.
  • Bolgia 1 – koppelaars en verleiers: Dié sondaars maak twee rye uit, een aan elke kant van die sloot, en loop vinnig in teenoorgestelde rigtings terwyl demone met horings hulle vir ewig met swepe slaan. Hulle wat "die passies van ander met opset uitgebuit en hulle gedwing het om hulle eie belang te dien, word nou self gedryf en gekasty".[49] In die groep koppelaars sien die digters Venedico Caccianemico, 'n Guelph van Bologna wat sy eie suster, Ghisola, aan die markies d'Este verkoop het. In die groep verleiers wys Dante vir Jason uit, die Griekse held wat die Argonoute gelei het om die Goue Vlies te gaan soek. Hy het die hulp van Medea ingeroep, haar verlei en met haar getrou, maar haar later vir Creusa gelos.[49] Jason het voorheen vir Hupsipule verlei toe die Argenoute op die eiland Lemnos geland het, maar haar gelos, alleen en swanger".[50]
  • Bolgia 2 – vleiers: Dié wat ander uitbuit deur die misbruik van taal om met hulle begeertes en vrese te dobbel. Hulle staan diep in ontlasting (wat hulle valse vleitaal op aarde verteenwoordig) terwyl hulle gil en met mekaar baklei. Alessio Interminei van Lucca en Thaïs word hier gesien.[49]

Kanto XIX

  • Bolgia 3 – simoniste: Dante veroordeel nou dié wat hulle skuldig gemaak het aan simonie (om wins te maak uit die koop en verkoop van geestelike voordele) en so geld gemaak het uit wat aan God behoort. Dié sondaars staan kop onderstebo in ronde, buisagtige gate in die rots ('n skimp op doopvonte), met vlamme wat die sole van hulle voete brand. Die hitte van die vuur is proposioneel met hulle sonde. Die vergelyking met doopvonte gee Dante 'n toevallige geleentheid om sy naam skoon te kry van 'n beskuldiging van kwaadwillige skade aan die vont van die Doopkapel van San Giovanni in Florence.[51] Simon Magus, wat Simon Petrus goud aangebied het in ruil vir heilige mag en na wie die sonde genoem is, word hier genoem (hoewel Dante hom nie raakloop nie). Een van die sondaars, pous Nicolaas III, moet in die helse doop deur vuur dien van sy dood in 1280 tot in 1303 – met die aankoms in die hel van pous Bonifatius VIII, wat sy voorganger se plek in die steenbuis sou oorneem tot in 1314, toe hy op sy beurt vervang is deur pous Clemens V, 'n marionet van koning Filip IV van Frankryk wat die Heilige Stoel na Avignon geskuif het en die Avignon-pousdom (1309-'77) ingelei het. Dante lewer 'n veroordeling van die simonistiese korrupsie van die Kerk.
Die straf van die towenaars en waarsêers in die vierde bolgia, Kanto XX, deur Stradanus.

Kanto XX

Bolgia 4 – towenaars: In die middel van die brug van die vierde bolgia kyk Dante af na die siele van die fortuinvertellers, waarsêers, astroloë en ander vals profete. Die straf van dié wat "God se prerogatief ingepalm het deur in die toekoms te snuffel"[52] is om hulle koppe agterstevoor gedraai te hê; in dié verwronge posisie is die sondaars verplig om vir ewig agteruit te loop, verblind deur hulle eie trane. John Ciardi skryf: "Dié wat probeer het om die toekoms te sien, kan dus nou nie eens meer voor hulle sien nie; hulle het probeer om vooruit in die toekoms in te beweeg; nou moet hulle vir ewig agteruit beweeg; en nes die kuns van towenary 'n verwringing van God se wet is, is hulle liggame verwring in die hel."[53] Terwyl hoofsaaklik verwys word na pogings om die toekoms op verbode maniere te sien, simboliseer dit ook die verwronge aard van magie in die algemeen.[52] Dante huil uit jammerte, en Vergilius betig hom.[54] Een van dié sondaars is koning Amfiaraus (een van die Sewe teen Thebe; hy het voorspel hy gaan in die oorlog sterf en het dit probeer vermy deur weg te kruip, maar hy is in 'n aardbewing dood terwyl hy probeer vlug het). Vergilius dui aan die maan sak nou oor die Pilare van Hercules in die weste: Die tyd is net ná 06:00, die dagbreek van Heilige Saterdag.

Dante se gids stoot Malacoda en sy vriende weg tussen Bolge V en VI, Kanto XXI.

Kanto XXI

  • Bolgia 5 – knoeiers: Korrupte politici, wat geld maak deur smousery in openbare ampte (die politieke analoog van die simoniste) is gedompel in 'n meer van kokende teer, wat hulle gretige vingers en die donker geheime van hulle korrupte onderhandelings verteenwoordig.[55] Hulle word bewaak deur demone wat die Malebranche ("Bose kloue") genoem word en wat die sondaars met hulle kloue verskeur as hulle hulle bo die oppervlak van die teer kry. Die digters sien hoe 'n demoon 'n senator van Lucca in die teer gooi, waar ander demone op hom toesak. Vergilius verseker veiligheid van die leier van die Malebranche met die naam Malacoda ("Bose stert"). Hy lig hulle in dat die brug oor die sesde bolgia inmekaargestort het (weens die aardbewing wat die hel geskud het met die dood van Christus in 34 n.C.), maar dat daar 'n ander pad verder aan is. Hy stuur 'n groep demone om hulle veilig te lei. Gebaseer op die besonderhede in dié kanto (en as Christus se dood presies om 12:00 plaasgevind het), is die tyd nou 07:00 op Heilige Saterdag.[56] Die demone verskaf 'n bietjie satiriese swart komedie – in die laaste reël van Kanto XXI word die teken vir hulle mars aangedui met 'n wind: "en hy het 'n trompet van sy gat gemaak".[57]

Kanto XXII
Een van die knoeiers (wie se naam nie genoem word nie) word deur die demone gegryp en Vergilius ondervra hom. Die sondaar praat van sy medeknoeiers, onder meer 'n korrupte monnik wat eindelik gehang is omdat hy omkoopgeld aanvaar het om gevangenes te laat ontsnap. Hy bied aan om van sy medelyers in die hande van die demone te lei, en toe sy plan aanvaar word, ontsnap hy terug in die teer. Twee demone, Alichino en Calcabrina, begin 'n geveg in die lug en val self in die teer, en 'n ander demoon, Barbariccia, organiseer 'n reddingsparty. Dante en Virgil maak van die geleentheid gebruik om weg te glip.

Kanto XXIII

  • Bolgia 6 – huigelaars: Die digters ontsnap van die Malebranche, wat hulle agtervolg, deur teen die helling van die volgende put af te gly. Hier tref hulle die huigelaars aan wat vir ewig onder die gewig van loodmantels lusteloos op 'n smal pad loop. Die mantels is in die vorm van monnikeklede en lyk pragtig van buite – hulle is agter geweldig swaar.[58] Dante praat met twee broers van Bologna van die Orde van die Geseënde Maagd Maria, wat 'n reputasie ontwikkel het dat hulle nie hulle geloftes nakom nie en deur die pous ontbind is.[59] Een van hulle noem Kajafas, die hoëpriester van Israel onder Pontius Pilatus wat by die Fariseërs aanbeveel het dat Jesus in openbare belang gekruisig word (Johannes 11:49-50). Hy is self met drie groot penne aan die vloer van die hel gekruisig, op so 'n manier dat elke verbygaande sondaar oor hom moet loop: Hy "moet op sy liggaam die gewig van die hele wêreld se huigelary voel".[58] Die monnikebroers verduidelik aan Vergilius hoe hy uit die put kan klim; Vergilius vind uit Malacoda het vir hom gejok oor die brûe oor die sesde bolgia.
Die diewe wat deur die slange gemartel word, deur Gustave Doré.
Die digters kyk na die bose raadgewers.

Kanto XXIV

  • Bolgia 7 – diewe: Dante en Vergilius verlaat die bolgia van die huigelaars deur oor die rotse te klim van die brug wat in die groot aardbewing vernietig is, en daarna loop hulle oor die brug van die sewende bolgia om die volgende afgrond te sien. Die put is gevul met monstergatige reptiele: Die siele van diewe word agtervolg en gebyt deur slange en akkedisse wat bo-oor die sondaars krul en hulle hande agter hulle rûe vasbind. Die volle afsku van die diewe se straf word geleidelik onthul: Nes hulle ander mense se besittings gesteel het, is hulle hele identiteit hier onderworpe aan diefstal.[60] Een sondaar, wat hom teensinnig identifiseer as Vanni Fucci, word aan sy keelaar deur 'n slang gebyt, bars in vlamme uit en word soos 'n feniks uit die as hervorm.

Kanto XXV
Vanni vloek God en die slange krul oor hom. Die sentour Kakus kom daar aan en straf hom; daar is 'n draak wat vuur blaas op sy skouers en slange bedek sy rug. (In die Romeinse mitologie word Kakus, die monsteragtige seun van Vulkanus, deur Hercules doodgemaak omdat hy die held se beeste gesteel het; in Eneïde VIII, 193-267, beskryf Vergilius hom nie as 'n sentour nie). Dante ontmoet daarna vyf edele diewe van Florence en neem hulle onderskeie transformasies waar. Agnello Brunelleschi, in menslike vorm, is versmelt met die sespotige slang Cianfa Donati. 'n Figuur met die naam Buoso verskyn eers as 'n man, maar ruil vorms uit met Francesco de' Cavalcanti, wat Buoso byt in die vorm van 'n vierpotige slang.

Kanto XXVI

  • Bolgia 8 – raadgewers van bedrog: In die volgende bolgia loop raadgewers van bedrog of bose raadgewers rond; hulle word deur individuele vlamme verberg. Dit is nie mense wat vals raad gegee het nie, maar mense wat hulle posisie misbruik het om ander aan te raai om bedrog te pleeg. Ulysses en Diomedes word saam gestraf binne 'n groot dubbele vlam; hulle word veroordeel vir die plan van die Trojaanse perd (wat gelei het tot die verwoesting van Troje), vir die oorreding van Achilles om na Troje te seil (en te veroorsaak dat Deidamia van hartseer sterf), en vir die diefstal van die heilige standbeeld van Pallas, die Palladium (waarvan die lot van Troje vermoedelik afgehang het). Ulysses, die figuur in die grootste horing van die vlam, vertel die verhaal van sy laaste reis en dood, 'n skepping van Dante wat die omvang van sy eie trots illustreer ondanks sy veroordeling van dié groot ondeug deur die hele Goddelike Komedie.[61]

Kanto XXVII
Dante word genader deur Guido da Montefeltro, hoof van die Ghibellyne van Romagna, en hy vra uit oor nuus oor sy land. Dante antwoord met 'n tragiese opsomming van die huidige toestand van die stede van Romagna. Guido vertel dan meer oor sy lewe: Hy het by pous Bonifatius VIII aanbeveel hy bied 'n vals amnestie aan die Colonna-familie wat hulleself in 1297 in die kasteel van Palestrina in die Lateraan met mure toegebou het. Toe die Colonnas die voorwaardes aanvaar en die kasteel verlaat, het die pous dit laat afbreek en hulle sonder 'n blyplek gelaat. Guido beskryf hoe sint Franciskus, die stigter van die Franciskaande Orde, gekom het om sy siel na die hemel te vat, maar 'n demoon het gesê hy het eerste aanspraak. Hoewel Boniface Guido vooruit vir sy bose advies absolusie gegee het, het die demoon hulle op die ongeldigheid daarvan gewys: Absolusie verg berou, en 'n man kan nie berou hê oor 'n sonde wat hy nog van plan is om te pleeg nie.[62]

Kanto XXVIII

  • Bolgia 9 – saaiers van onmin: In die negende bolgia word die saaiers van onmin vir ewig gekap en vermink deur 'n groot demoon met 'n bloedige swaard; hulle liggame word verdeel, net soos hulle sonde in die lewe was om dit te verdeel wat God bedoel het om verenig te wees.[63] Die siele moet hulle vernietigde liggame om die sloot voortsleep; hulle wonde genees terwyl hulle 'n rondte voltooi, en word dan opnuut deur die die demoon stukkend gekap. Dié siele word in drie groepe verdeel: (i) godsdienstige skisma en onmin, (ii) burgerlike tweedrag en politieke onmin en (iii) familie-onenigheid of onmin tussen verwante. Die belangrikste lid van die eerste groep is Mohammed, stigter van die Islam: Sy liggaam word van sy ken tot sy lies oopgeskeur, met sy ingewande wat uithang. Dante het Mohammed blykbaar beskou as iemand wat 'n skisma in die Christendom veroorsaak het toe hy en sy volgelinge wegskeur.[64][65] Dante veroordeel ook Mohammed se skoonseun Ali vir die skeuring tussen Soenni en Sjia: Sy gesig word van bo tot onder oopgekloof. In die tweede groep is Pier da Medicina (sy keel word oopgeskeur, sy neus tot by sy wenkbroue afgekap en daar is 'n wond waar een van sy ore eens was), die Romeinse volksverteenwoordiger Gaius Scribonius Curio (wat by Caesar aanbeveel het om die Rubicon oor te steek en só die burgeroorlog begin het; sy tong is afgekap), en Mosca dei Lamberti (wat die Amideifamilie aangehits het om Buondelmonte dei Buondelmonti te vermoor, wat gelei het tot konflik tussen die Guelfe en Ghibellyne; sy arms is afgekap). In die derde groep sien Dante die ridder Bertran de Born, wat sy afgekapte kop aan sy hare vashou terwyl dit soos 'n lantern heen en weer swaai. Bertran het na bewering 'n rusie veroorsaak tussen Hendrik II van Engeland en sy seun prins Hendrik die Jong Koning; sy straf in die hel is onthoofding, want om onmin tussen pa en seun te veroorsaak is soos om die kop van die liggaam af te kap.[64]

Kanto XXIX

  • Bolgia 10 – vervalsers: Die laaste bolgia van die agtste sirkel is die tuiste van die vervalsers. Hulle is 'n "siekte" in die gemeenskp en hulle straf is 'n verskeidenheid aandoenings:[66] vreeslike siektes, stank, dors, vuilheid, donkerte en gille. Sommige lê plat, ander hardloop belustig deur die put en skeur ander in stukke. Kort voor hulle aankoms in dié put dui Vergilius aan dit is omtrent 12:00 op Heilige Saterdag. Die eerste kategorie van vervalsers wat Dante raakloop, is die alchemiste (vervalsers van dinge). Hy praat met twee siele wat hulle melaatse rowe woes krap: Griffolino d'Arezzo ('n alchemis wat geld uit die dwaasagtige Alberto da Siena gemaak het deur te belowe om hom te leer vlieg) en Capocchio (wat in 1293 op die brandstapel tereggestel is vir die beoefening van alchemie).
Dante en Vergilius by William-Adolphe Bouguereau: Capocchio, 'n alchemis wat as 'n ketter verbrand is, word aangeval deur Gianni Schicchi, wat voorgegee het hy is wyle Buoso Donati sodat hy van dié kon erf, Kanto XXX.

Kanto XXX
Skielik hardloop twee siele – Gianni Schicchi de' Cavalcanti en Myrrha, wat albei as imposteurs (identiteitsrowers) gestraf is – rasend deur die put. Schicchi byt 'n alchemis, Capocchio, aan die nek en sleep hom weg soos prooi. Griffolino verduidelik hoe Myrrha haar vermom het om bloedskande met haar pa, koning Kiniras, te pleeg, terwyl Schicchi voorgegee het hy is wyle Buoso Donati om 'n testament op te stel waarin hy 'n begunstigde is. Dante loop daarna vir Adam van Brescia, 'n geldvervalser, raak: hy het Florentynse floryne vervaardig van 21 (in plaas van 24) karaat goud en is in 1281 op die brandstapel tereggestel. Hy word gestraf met 'n watersugagtige siekte wat sy maag laat opswel, wat keer dat hy kan beweeg, en 'n ewige, onhoudbare dors. Adam wys twee sondaars van die vierde klas uit: die eedbreukers (vervalsers van woorde). Hulle is Potifar se vrou, wat gestraf word vir haar vals beskuldiging van Josef (Genesis 39:7-19), en Sinon, die Achaïese spioen wat vir die Trojane gejok en hulle oorreed het om die Trojaanse perd in hulle stad in te neem (Eneïde II, 57-194); Sinon is hier eerder as in bolgia 8, want sy raad was vals én boos. Albei het 'n brandende koors. Adam en Sinon vloek mekaar en Dante kyk toe, totdat Vergilius hom betig. As gevolg van sy verleentheid en berou vergewe sy gids hom. Volgens Sayers begin die afdaling deur die Malebolge "met die verkoop van die seksuele verhouding, en gaan dit verder tot die verkoop van kerk en staat; nou is geld self vervals; elke verklaring is 'n eedbreuk en elke identiteit 'n leuen",[66] sodat elke aspek van sosiale interaksie progressief vernietig is.

Titane en reuse, insluitende Efialtes links, in Doré's se illustrasies.

Sentrale Put van die Malebolge

[wysig | wysig bron]

Kanto XXXI
Dante en Vergilius nader die Sentrale Put, waaronder die negende en finale sirkel van die hel lê. Die gigante en Bybelse reuse – wat dalk die trots en ander spirituele gebreke simboliseer wat agter dade van verraad skuil[67] – staan ewigdurend wag in die put, met hulle bene veranker in die oewers van die negende sirkel en hulle bolywe wat van die Malebolge af bo die rand gesien kan word.[68] Dante verwar hulle aanvanklik met die groot torings van 'n stad. Onder die reuse herken Vergilius vir Nimrod (wat die Toring van Babel probeer bou het); Efialtes (wat saam met sy broer Otus die berg Olimpus probeer bestorm het tydens die Gigantestryd; sy arms is vasgeketting) en Briareus (wat volgens Dante die gode uitgetart het); en Tituos en Tufon, wat Jupiter beledig het. Ook hier is Antaios, wat nie aan die rebellie teen die Olimpiese gode deelgeneem het nie; hy is daarom nie vasgeketting nie. Op versoek van Vergilius neem Antaios die digters in sy groot palm en laat hulle versigtig neerdaal na die finale vlak van die hel.

Negende sirkel (verraad)

[wysig | wysig bron]
Dante praat met die verraaiers in die ys, Kanto XXXII

Kanto XXXII
Op die bodem van die put bevind Dante hom in 'n groot bevrore meer: Cocytus, die negende sirkel van die hel. Vasgevang in die ys, elkeen volgens sy skuld, is sondaars wat skuldig was aan verraad teen dié met wie hulle spesiale verhoudings gehad het. Die ysmeer is in vier verskillende konsentriese "rondtes" met verraaiers verdeel: in volgorde van erns teen familie, teen die gemeenskap, teen gaste en teen leenhere. Dit kontrasteer met die algemene idee van die hel as brandend; soos Ciardi skryf: "Die verraad van dié siele was die ontkenning van liefde (wat God is) en van alle menslike warmte. Net die onbarmhartige middel van die ys sal hulle aard kan uitbeeld. Omdat hulle God se liefde misken het, is hulle die verste verwyder van die lig en hitte van Sy Son. Omdat hulle alle menslike bande misken het, word hulle aan die meedoënlose ys gekluister."[69] Dié finale, diepste vlak van die hel is gereserveer vir verraaiers, versakers en eedbrekers (die beroemdste inwoner is Judas Iskariot).

  • Rondte 1 – Caina: Dié rondte is genoem na Kain, wat sy eie broer Abel vermoor het (Genesis 4:8). In dié streek is die verraaiers van hulle familie: Hulle kop en nek steek bo die ys uit en hulle kan hulle kop buig, en dit beskerm hulle effens teen die yskoue wind. Hier sien Dante die broers Alessandro en Napoleone degli Alberti, wat mekaar iewers tussen 1282 en 1286 oor hulle erfporsie vermoor het. Camiscion de' Pazzi, 'n Ghibellyn wat sy familielid Ubertino vermoor het, identifiseer verskeie ander sondaars: Mordred (die verraderlike seun van koning Arthur) en ander.
Ugolino en Sy Seuns, deur Jean-Baptiste Carpeaux beeld Ugolino della Gherardesca se storie uit van Kanto XXXIII. Hy is in die tronk gegooi vir verraad en sterf van honger. Sy kinders smeek hom om hulle liggame te eet voordat hulle sterf.
  • Rondte 2 – Antenora: Die tweede rondte is genoem na Antenor, 'n Trojaanse soldaat wat sy stad aan die Grieke verraai het. Hier lê die verraaiers van hulle land; hulle kop steek bo die ys uit, maar hulle kan nie hulle nek buig nie. Dante skop per ongeluk die kop van Bocca degli Abati, 'n verraderlike Guelf van Florence, en behandel hom dan wreedaardiger as enige sondaar wat hy tot dusver teengekom het. Ook op dié vlak is Buoso da Duera (die Ghibellynse leier wat deur die Franse omgekoop is om Manfred, koning van Napels te verraai) en talle ander verraaiers. Dan sien die digters twee koppe wat in een gat gevries is, met die een wat aan die ander een se nek kou.

Kanto XXXIII
Die sondaar wat kou, vertel sy storie: Hy is graaf Ugolino en die een aan wie se nek hy kou, is aartsbiskop Ruggieri. In "die patetiesste en dramatiesste paragraaf van die Inferno"[70] beskryf Ugolino hoe hy in 1288 met Ruggieri saamgesweer het om sy nefie, Nino Visconti, omver te werp en beheer oor die Guelfe van Pisa oor te neem. Net toe Nino weg was, het die aartsbiskop besef die Guelfe se posisie verswak, en hy het Ugolino saam met sy seuns en kleinseuns laat in hegtenis neem en opsluit. In Maart 1289 het die aartsbiskop hulle veroordeel tot die dood deur verhongering.

  • Rondte 3 – Ptolomaea: Die derde streek van Cocytus is genoem na Ptolemeus, wat sy skoonpa, Simon Makkabees, en sy seuns na 'n banket genooi en hulle vermoor het (1 Makkabeërs 16).[71] Die verraaiers van hulle gaste lê agteroor in die ys terwyl hulle trane in hulle oogkaste vries. Dante gaan weg sonder om 'n belofte na te kom om die ys uit een sy oë te haal.

Kanto XXXIV

  • Rondte 4 – Judecca: Die vierde streek van die Cocytus is genoem na Judas Iskariot. Hier word die verraaiers van hulle leenhere en weldoeners gestraf. Judecca is heeltemal stil: Al die sondaars is ten volle in die ys vasgevang, verwring in elke moontlike posisie. Dit is onmoontlik om met enigeen van hulle te praat, en Dante en Vergilius beweeg vinnig aan na die middel van die hel.

Middel van die hel

[wysig | wysig bron]

Reg in die middel van die hel, waar hy gestraf word vir die heel grootste sonde (persoonlike verraad teen God), is die duiwel, wat deur Vergilius "Dis" genoem word (die Romeinse god van die onderwêreld; die naam "Dis" is in die oudheid dikwels gebruik vir Pluto, soos in Vergilius se Eneïde). Die aartsverraaier, Lucifer, is eens deur God as die beste engel beskou, totdat sy trots daartoe gelei het dat hy teen God gerebelleer het. Hy is daarna uit die hemel gewerp. Lucifer is 'n reusagtige, vreesaanjaende dierasie wat tot in sy middellyf in die ys vasgevang is. Hy het drie gesigte, elk 'n ander kleur: een rooi (middel), een dofgeel (regs) en een swart (links):

Satan eet in die Inferno vir Brutus, Gaius en Judas, Kanto XXXIV (Henry John Stock).

Volgens Dorothy L. Sayers dink sommige Satan se drie gesigte stel sy beheer oor die drie menslike rasse voor: rooi vir die Europeërs (van Jafet), geel vir die Asiate (van Sem) en swart vir die Afrikane (van Gam).[72] Alle vertolkings erken dat die drie gesigte 'n basiese perversie van die Drie-eenheid verteenwoordig: Satan is magteloos, onkundig en hatig, in teenstelling met die almagtige, alleswetende en liefdevolle aard van God.[72] Lucifer het steeds sy ses vlerke (hy was oorspronklik een van die serafs, wat in Jesaja 6:2 beskryf word), maar hulle is nou donker, vlermuisagtig en nutteloos: Die ysige wind wat ontstaan uit die geklap van Lucifer se vlerke vererger net sy gevangenskap in die bevrore meer. Hy huil met sy ses oë en sy trane meng met bloedige skuim en etter wat oor sy drie kenne loop. Elke gesig het 'n mond wat vir ewig aan 'n vooraanstaande verraaier eet. Marcus Junius Brutus en Gaius Cassius Longinus hang met hulle voete uit die monde links en regs vir hulle betrokkenheid by die sluipmoord op Julius Caesar (15 Maart 44 v.C.) – 'n daad wat, volgens Dante, die vernietiging van 'n verenigde Italië verteenwoordig, asook die moord op 'n man wat goddelik aangewys is om die wêreld te regeer.[72] In die middelste, wreedste mond is Judas Iskariot, die apostel wat Christus verraai het. Judas word die wreedste behandel: Sy kop word in Lucifer se mond gekou terwyl sy rug vir ewig deur Lucifer as kloue geslaan en verskeur word. Volgens Dorothy L. Sayers verteenwoordig Judas verraad teen God, en Brutus en Cassius verraad teen die sekulêre regering van die wêreld.[72]

Teen omstreeks 18:00 op Saterdag begin Vergilius en Dante hulle ontsnapping uit die hel deur voete eerste teen Satan se hare af te klim. Toe hulle by Satan se geslagsdele kom, beweeg die digters deur die middel van die heelal en van swaartekrag, van die Noordelike Halfrond van grond tot die Suidelike Halfrond van water. Vergilius dui aan die tyd is halfpad tussen die eerste uur (06:00) en terts (09:00), dus 07:30 op dieselfde Heilige Saterdag wat net aan die eindig is. Dante is verward oor die feit dat dit oggend is nadat hulle sowat 'n uur en 'n half geklim het, en Vergilius verduidelik dit is omdat hulle deur die aarde se middelpunt beweeg het tot in die Suidelike Halfrond, wat twaalf uur voor Jerusalem, die sentrale stad van die Noordelike Hafrond, is (waar dit blykbaar nou 19:30 is).

Vergilius verduidelik verder dat die Suidelike Halfrond eens met grond bedek was, maar dat die grond in afgryse na die noorde teruggediens het toe Lucifer uit die hemel val, en dié grond is met water vervang. Intussen het die binneste rots wat Lucifer verplaas het toe hy na die middel van die aarde val, hom na die oppervlak van die Suidelike Halfrond gehaas om kontak met Lucifer te vermy, en dit het die Berg van die Vaevuur gevorm. Dié berg, die enigste stuk land in die Suidelike Halfrond, styg bo die oppervlak uit reg oorkant Jerusalem. Die digters beweeg daarna verder en kom net voor dagbreek van Paassondag (10 April 1300) uit onder die lug wat met sterre besaai is.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. John Ciardi, The Divine Comedy, Inleiding deur Archibald T. MacAllister, p. 14
  2. Dorothy L. Sayers, Hell, notas, p. 19.
  3. Hollander, Robert (2000). Note on Inferno I.11. In Robert and Jean Hollander, trans., The Inferno by Dante. New York: Random House. p. 14. ISBN 0-385-49698-2
  4. Allen Mandelbaum, Inferno, aantekeninge oor Kanto I, p. 345
  5. Allaire, Gloria (7 Augustus 1997). "New evidence towards identifying Dante's enigmatic lonza". Electronic Bulletin of the Dante Society of America. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp) – defines lonza as the result of an unnatural pairing between a leopard and a lioness in Andrea da Barberino Guerrino meschino.
  6. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto I, p. 21
  7. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto I.
  8. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto III, p. 36
  9. Dorothly L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto III
  10. 10,0 10,1 John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XI, p. 94
  11. D. Sayers, Hell (Penguin 1975) p. 314 en p. 139
  12. D. Sayers, Hell (Penguin 1975) p. 136 (XI.80-82)
  13. D. Sayers, Hell (Penguin 1975) p. 139
  14. 14,0 14,1 14,2 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XI, p. 139
  15. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto IV
  16. Inferno, Canto IV, line 103, Ciardi translation.
  17. Senior, Matthew (1994). In the Grip of Minos: Confessional Discourse in Dante, Corneille, and Racine. Columbus: Ohio State University Press. p. 52. OCLC 625327952.
  18. Senior, Matthew (1994). In the Grip of Minos: Confessional Discourse in Dante, Corneille, and Racine. Columbus: Ohio State University Press. pp. 48–49. OCLC 625327952.
  19. i peccator carnali (Inferno, Canto V, line 38, Longfellow translation.)
  20. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto V, p. 101–102
  21. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto V, p. 51
  22. Lansing, Richard. The Dante Encyclopedia. pp. 577–578.
  23. John Ciardi, Inferno, Canto VI, p. 54
  24. 24,0 24,1 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto VI.
  25. John Ciardi, Inferno, Introduction, p. xi.
  26. Inferno, Canto VII, line 47, Mandelbaum translation.
  27. 27,0 27,1 27,2 27,3 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto VII, p. 114
  28. Inferno, Canto VII, lines 79–80, Mandelbaum translation.
  29. Inferno, Canto VII, lines 54, Mandelbaum translation.
  30. Dante, Alighieri; Durling, Robert M.; Martinez, Ronald L. (1997). The Divine Comedy of Dante Alighieri. New York: Oxford University Press. ISBN 978-0195087444.
  31. Allen Mandelbaum, Inferno, aantekeninge oor Kanto VIII, p. 358
  32. Inferno, Canto X, line 15, Mandelbaum translation.
  33. Inferno, Canto X, lines 103–108, Mandelbaum translation.
  34. Richard P. McBrien Lives of the Popes: The Pontiffs from St. Peter to John Paul II. HarperCollins 1997 ISBN 978-0-06-065304-0. Besoek op 8 Maart 2013.
  35. Hudson-Williams, T. (1951). "Dante and the Classics". Greece & Rome. 20 (58): 38–42. doi:10.1017/s0017383500011128. JSTOR 641391. S2CID 162510309. Dante is not free from error in his allocation of sinners; he consigned Pope Anastasius II to the burning cauldrons of the Heretics because he mistook him for the emperor of the same name
  36. 36,0 36,1 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XI.
  37. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XI, p. 95
  38. Inferno, Canto XII, lines 101–103, Longfellow translation
  39. John Ciardi, Inferno, Canto XII, p. 96
  40. 40,0 40,1 40,2 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XIII.
  41. Wallace Fowlie, A Reading of Dante's Inferno, University of Chicago Press, 1981, p. 224.
  42. John Ciardi, Inferno, Canto XIV, p. 112
  43. John Ciardi, Inferno, Canto XV, p. 119
  44. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XV.
  45. Inferno, Canto XV, lines 85–87, Mandelbaum translation.
  46. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XVII.
  47. Wallace Fowlie, A Reading of Dante's Inferno, University of Chicago Press, 1981, p. 117
  48. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XVII, p. 138
  49. 49,0 49,1 49,2 49,3 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XVIII.
  50. Inferno, Canto XVIII, line 94, Mandelbaum translation.
  51. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XIX.
  52. 52,0 52,1 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XX.
  53. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XX, p. 157
  54. Inferno, Canto XX, lines 28–30, Mandelbaum translation.
  55. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXI.
  56. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XXI, p. 171
  57. Patterson, Victoria (15 November 2011). "Great Farts in Literature". The Nervous Breakdown. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Maart 2012. Besoek op 7 Maart 2012.
  58. 58,0 58,1 John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XXIII, p. 180
  59. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXIII
  60. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXIV.
  61. Mazzotta, Giuseppe (1999). "Canto XXVI, Ulysses: Persuasion versus Prophecy". In Mandelbaum, Allen; Oldcorn, Anthony; Ross, Charles (reds.). Lectura Dantis: Inferno. Berkeley: University of California Press. pp. 348–356. ISBN 978-0-520-21249-7.
  62. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXVII.
  63. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XXVIII, p. 217
  64. 64,0 64,1 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXVIII.
  65. Wallace Fowlie, A Reading of Dante's Inferno, University of Chicago Press, 1981, p. 178.
  66. 66,0 66,1 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXIX.
  67. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXXI.
  68. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXXII.
  69. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XXXII, p. 248
  70. John Ciardi, Inferno, aantekeninge oor Kanto XXXIII, p. 256
  71. Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXXIII.
  72. 72,0 72,1 72,2 72,3 Dorothy L. Sayers, Hell, aantekeninge oor Kanto XXXIV.

Skakels

[wysig | wysig bron]
  • Dante Dartmouth-projek: Die volle teks van meer as 70 Italiaanse, Latynse en Engelse kommentare op die Goddelike Komedie, wat wissel van 1322 tot die 2000's
  • "World of Dante" Multimediawebtuiste met 'n Italiaanse weergawe van Goddelike Komedie, Allen Mandelbaum se vertaling, galery, interaktiewe kaarte, tydlyn, musiekopnames en deursoekbare databasis vir studente en onderwysers deur Deborah Parker en IATH (Institute for Advanced Technologies in the Humanities) van die Universiteit van Virginië
  • Dante se Goddelike Komedie: Teks in moderne Engels deur die Skotse skrywer en kunstenaar Alasdair Gray

Sekondêre materiaal

[wysig | wysig bron]

Ander

[wysig | wysig bron]