Engeland

Die grootste en bevolkingsrykste van die vier nasies wat saam die Verenigde Koninkryk vorm
Hierdie artikel handel oor die huidige land binne die Verenigde Koninkryk. Vir die historiese koninkryk, sien Koninkryk van Engeland.

Engeland (Engels: England) is die grootste en bevolkingsrykste van die vier nasies wat saam die Verenigde Koninkryk vorm. Dit word in die noorde deur Skotland en in die weste deur Wallis begrens. Die Noordsee is oos, die Ierse See noordwes en die Keltiese See suidwes van Engeland geleë. Die Noordsee in die ooste en die Engelse Kanaal in die suide skei Engeland van die Europese vasteland.

Engeland
England (Engels)
Vlag van Engeland Wapen van Engeland
Vlag Wapen
Volkslied: verskeie
Hoofsaaklik: God Save the King
(Engels vir: "God beskerm die koning")
Ligging van Engeland
Hoofstad Londen

51°30′N 0°7′W / 51.500°N 0.117°W / 51.500; -0.117

Grootste stad Londen
Amptelike tale Engels
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Charles III
Keir Starmer
Onafhanklikheid
Vorming
• Vereniging deur Athelstan
• Normandiese verowering
Unie met Wallis
• Unie van die Krone
• Glorieryke rewolusie
Unie met Skotland


10de eeu (tradisioneel 927)
10661088
15351542
24 Maart 1603
11 Desember 1688
1 Mei 1707
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
130 310[1] km2  (1ste (VK))
50 310 myl2
Bevolking
 - 2022-skatting
 - 2021-sensus
 - Digtheid
 
57 106 398[2] (1ste (VK))
56 490 048[3]
438 / km2 (1ste (VK))
1 134,4 / myl2
BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2020-skatting

£2,162 biljoen[4] (1ste (VK))
£37 852 (1ste (VK))

Geldeenheid Pond sterling (£) (GBP)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
BST (UTC+1)
Internet-TLD .uk, .gb
Skakelkode +44
Beskermheilige: Sint Joris
Nasionale blom: Tudorroos
Nasa-satellietbeeld van Engeland, Wallis en die eiland Man
Die kranse van Dover

Engeland beslaan die sentrale en suidelike dele van die Noord-Atlantiese eiland Groot-Brittanje. Meer as 100 kleiner eilande maak daarnaas deel uit van Engeland, waaronder die Scilly-eilande en die Eiland Wight.

Menslike gemeenskappe het hulle al in die Jongsteentydperk in die gebied gevestig wat tans as Engeland bekend staan, maar dit was die Angele, een van die Germaanse stamme wat hulle in die 5de en 6de eeu op die eiland gevestig het, wat hul naam aan die land verleen het. In 927 is die verskillende klein koninkryke in 'n gemeenskaplike Engelse Ryk verenig.

Vanaf die groot ontdekkingstydperk in die 15de eeu het Engeland beduidende kulturele, regtelike, ekonomiese en uiteindelik ook taalkundige invloed op ander wêrelddele uitgeoefen. Die Engelse regstelsel is net soos die Anglikaanse Kerk en die Engelse taal in ander lande oorgeneem, terwyl die Engelse parlementêre regeringstelsel as voorbeeld vir staatkundige bedelings in ander lande gedien het. Engeland was in die 18de eeu ook die bakermat van die nywerheidsomwenteling wat van hier na ander Europese en uiteindelik ook oorsese lande uitgebrei het en van Engeland die eerste nywerheidsland ter wêreld gemaak het.

Leidende Engelse nywerheidstede soos Manchester, Birmingham en Liverpool het grondstowwe, wat uit alle hoeke van die wêreld na Engeland ingevoer is, tot goedere verwerk wat wêreldwyd bemark is, terwyl Londen as hoofstad en regeringsetel tot een van die wêreld se voorste metropole en die politieke, ekonomiese en kulturele spilpunt van die Britse Ryk ontwikkel het. Vandag beslaan die metropolitaanse gebied van Groter Londen groot dele van Suidoos-Engeland en speel steeds 'n eersterangse ekonomiese rol as die finansiële spilpunt van Europa en as die sentrum van innovasie op 'n verskeidenheid terreine – veral populêre kultuur.

Etimologie

Die naam "Engeland" is afgelei van die Ou Engelse naam Englaland wat "land van die Angele" beteken.[5] Die Angele was een van die Germaanse stamme wat hulle hulle tydens die vroeë Middeleeue op Groot-Brittanje gevestig het. Hulle was afkomstig uit die streek Angeln in die huidige Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein.[6] Die vroegste bekende geruik van die term as "Engla londe" was in die laat 9de-eeuse vertaling van Bede se Historia ecclesiastica gentis Anglorum in Ou Engels. Die term is destyds gebruik om na "die land wat deur Engelse bewoon is" te verwys en dit het Engelse ingesluit wat hulle gevestig het in die huidige suidooste van Skotland, destyds deel van die Engelse koninkryk Northumbria. Volgens die Angel-Saksiese Kroniek het die Domesday Book van 1086 die hele Engeland gedek, dus die Engelse Koninkryk, maar enkele jare later noem die Chronicle dat koning Malcolm III "uit Scotlande na Lothian in Englaland" gegaan en dus die meer antieke betekenis gebruik het.[7]

Die vroegste bekende verwysing na die Angele was in die 1ste-eeuse werk Germania deur Tacitus, waarin hy die Latynse woord Anglii gebruik het.[8] Die etimologie van die stamnaam self word deur geleerdes betwis; daar is voorgestel dat dit van die Angeln-skiereiland se vorm afkomstig is, 'n angular (hoekige) vorm.[9] Hoe en hoekom 'n term afgelei is van die naam van 'n stam wat minder betekenisvol was as ander, byvoorbeeld die Saksers, en hoe dit die naam van 'n hele land geword het, is onbekend, maar dit blyk dat dit verband hou met die gebruik om die Germaanse mense in Brittanje Angli Saxones of Engelse Saksers te noem om hulle te onderskei van die vastelandse Saksers (Eald-Seaxe) van Ou Sakse in Duitsland.[10] In Skots-Gaelies is die woord vir Engeland (Sasunn) afgelei van die Saksers;[11] op 'n soortgelyke manier het die Walliese naam vir die Engelse taal Saesneg ontstaan. 'n Romantiese naam vir Engeland is Loegria wat verwant is aan die Walliese woord vir Engeland, Lloegr, en bekendheid verwerf het deur die Arthurlegende. Albion is ook 'n poëtiese manier om na Engeland te verwys,[12] hoewel dit oorspronklik die hele eiland Groot-Brittanje bedoel het.

Sport

 
Koningin Elizabeth II oorhandig die Wêreldbekertrofee van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 aan die Engelse kaptein Bobby Moore
 
Die Engelse nasionale krieketspan word ná hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 2019 deur die destydse eerste minister Theresa May ontvang
 
Die Engelse nasionale rugbyspan nadat hulle die Rugbywêreldbeker 2003 gewen het

Engeland het 'n ryk sporterfenis en baie sportsoorte wat wêreldwyd beoefen word, het in die 19de-eeuse Engeland ontstaan, waaronder sokker, krieket, rugby, rugbyliga, tennis, boks, pluimbal, muurbal, hokkie, snoeker, biljart, veerpyltjies, tafeltennis, rolbal, netbal, perdewedren, windhondrenne en jakkalsjag. Die land het ook gehelp met die ontwikkeling van gholf, seil en Formule Eenrenne.

Sokker is die gewildste van hierdie sportsoorte in Engeland. Die Engelse nasionale sokkerspan, met sy tuiste op Wembley-stadion is, het in 1872 die eerste sokkerwedstryd ooit teen Skotland gespeel.[13] Die wedstryd het in Hamilton Crescent, Glasgow, die tuiste van die West of Scotland Cricket Club, plaasgevind. Engeland het as "tuiste van sokker" die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 aangebied en tydens die eindstryd Wes-Duitsland met 4–2 geklop.[14] Met 'n Britse televisie gehoorpiek van 32,30 miljoen is die eindstryd die mees gesiene televisie-gebeurtenis ooit in die Verenigde Koninkryk.[15] Tydens die UEFA Europa-beker 2020 het Engeland vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Italië met 3–2 ná strafskoppe verslaan. In 2024 het hulle weer na die eindstryd deurgedring, maar hulle het dié keer met 2–1 teen Spanje vasgeval. Engeland se hoogste sokkerliga is die Premier League, gevolg deur die Football League Championship.

Daar word algemeen aanvaar dat krieket in die vroeë Middeleeue as 'n wedstryd tussen die landbou- en metaalbewerkingsgemeenskappe van die Weald ontstaan het. Die Engelse nasionale krieketspan is 'n samestelling van Engelse en Walliese krieketspelers en een van die toetskrieketlande en volle lidland van die Internasionale Krieketraad. Een van dié sport se oudste en gewildste wedywering is Die As-reeks tussen Engeland en Australië wat sedert 1882 gespeel word. Engeland het al vyf krieketwêreldbekertoernooie (in 1975, 1979, 1983, 1999 en 2019) aangebied, meer as enige ander land. Engeland het die eindstryd tot dusver vier keer gehaal en die 2019-eindwedstryd teen Nieu-Seeland volgens aantal grenshoue in die beslissende Superboulbeurt gewen en sodoende hul eerste titel ingepalm.[16] Ná sokker in 1966 en rugby in 2003 is krieket in 2019 die derde wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het. Engeland het in 2009 die T20I-wêreldbeker aangebied en is ook tweemalige wenner van dié toernooi (in 2010 teen Australië en in 2022 teen Pakistan). Daarbenewens is drie Kampioentrofeë (in 2004, 2013 en 2017) in Engeland aangebied. Lord’s in Londen word dikwels Home of Cricket ("tuiste van krieket") genoem.[17] Saam met Ierland en Skotland sal Engeland die T20I-wêreldbeker 2030 aanbied.[18]

Rugby het in die 19de eeu by die Public School van Rugby, Warwickshire, ontstaan.[19] Die Engelse nasionale rugbyspan ding in die Sesnasies-toernooi met Frankryk, Ierland, Italië, Skotland en Wallis mee en neem gereeld aan die Rugbywêreldbeker deel. Engeland het die Rugbywêreldbeker 2003 teen die gasheer Australië gewen. Engeland was een van die gashere tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en die Rugbywêreldbeker 1999 en hulle het ook die Rugbywêreldbeker 2015 (saam met Wallis) gehuisves. Londen se Twickenham is die grootste rugbystadion wêreldwyd en tuisstadion van die Engelse nasionale rugbyspan.[20] Dit word as 'n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.[21]

Gholf is gewild in Engeland; deels te danke aan sy kulturele en geografiese bande met Skotland, die tuiste van gholf.[22] Engelse gholfspelers wat die Grand Slam gewen het, sluit in: Cyril Walker, Tony Jacklin, Nick Faldo en Justin Rose vir mans en Laura Davies, Alison Nicholas en Karen Stupples vir vroue. Die wêreld se oudste gholftoernooi is die Britse Ope en word in sowel Engeland as Skotland gespeel. Die tweejaarlikse gholftoernooi, die Ryderbeker, is na die Engelse sakeman Samuel Ryder genoem wat die geleentheid geborg en die trofee geskenk het.[23] Nick Faldo is die suksesvolste Ryderbeker-speler ooit wat die meeste punte (25) van enige speler van die Europese of Amerikaanse spanne behaal het.[24]

Tennis het in die laat 19de eeu in Birmingham ontwikkel en die Wimbledon-kampioenskap is die oudste en gewildste tennistoernooi wêreldwyd. Wimbledon is 'n toernooi wat 'n belangrike plek in die Britse kultuurkalender het. Fred Perry was die laaste Engelsman wat die Wimbledon-kampioenskap in 1936 gewen het. Hy was die eerste speler wat al vier Grand Slam-enkelspeletjies gewen het[25] en het die span van Groot-Brittanje tot vier Davisbeker-oorwinnings gelei. Engelse vroue wat Wimbledon gewen het, sluit in: Ann Haydon Jones in 1969 en Virginia Wade in 1977.

Die Britse Grand Prix van 1950 op die Silverstone-renbaan was die eerste van die nuutgeskepte Formule Een Wêreldkampioenskap.[26] Sedertdien behoort Engelse renjaers tot die suksesvolste in die Formule Een-geskiedenis, insluitende Stirling Moss, Nigel Mansell, Damon Hill, Lewis Hamilton en Jenson Button. Van die mees tegnies gevorderde renmotors word in Engeland vervaardig en baie van die hedendaagse wedrenmaatskappye kies Engeland as hul basis van bedrywighede weens die ingenieurswese se kennis en organisasie. McLaren Automotive, Williams Grand Prix Engineering, Team Lotus, Honda, Brawn GP, Benetton, Renault en Red Bull Racing is, of was, almal in die suide van Engeland gevestig.

Londen het die Olimpiese Somerspele reeds drie keer aangebied (1908, 1948 en 2012). Engeland ding in die Statebondspele mee, wat elke vier jaar aangebied word, waarvan die Interrykkampioenskappe 1911 in Londen, die Britse Rykspele 1934 in Londen, die Statebondspele 2002 in Manchester en die Statebondspele 2022 in Birmingham gehuisves is.[27]

Verwysings

  1. (en) "Standard Area Measurements for Administrative Areas (December 2023) in the UK". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 24 April 2024. Besoek op 5 Julie 2024.
  2. (en) "Estimates of the population for the UK, England, Wales, Scotland, and Northern Ireland". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 21 Desember 2022. Besoek op 5 Julie 2024.
  3. (en) "Population and household estimates, England and Wales: Census 2021, unrounded data". Kantoor vir Nasionale Statistieke. Besoek op 5 Julie 2024.
  4. (en) "Regional gross domestic product: all ITL regions". Kantoor vir Nasionale Statistieke. Besoek op 5 Julie 2024.
  5. (en) "England". Online Etymology Dictionary. URL besoek op 20 November 2024. 
  6. (en) Ripley 1869, p. 570.
  7. Molyneaux 2015, pp. 6–7.
  8. (en) "Germania". Tacitus. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 September 2008. Besoek op 16 September 2008.
  9. (en) "Angle". Oxford English Dictionary. URL besoek op 5 September 2009.  [dooie skakel]
  10. (en) Crystal 2004, pp. 26–27
  11. (en) John Forbes (1848). The Principles of Gaelic Grammar. Edinburg: Oliver, Boyd and Tweeddale.
  12. (en) Foster 1988, p. 9
  13. (en) Paul Mitchell. "The first international football match". BBC. Besoek op 5 Julie 2024.
  14. (en) "It is now' for England". FIFA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2019. Besoek op 22 Desember 2019.
  15. (en) "Tracking 30 years of TV's most watched programmes". BBC. 22 Januarie 2012. Besoek op 5 Julie 2024.
  16. (en) "Epic final tied, Super Over tied, England win World Cup on boundary count". ESPNcricinfo. 14 Julie 2019. Besoek op 5 Julie 2024.
  17. (en) "Lord's". ESPNcricinfo. Besoek op 5 Julie 2024.
  18. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 5 Julie 2024.
  19. (en) "Origins of Rugby – Codification "The innovation of running with the ball was introduced some time between 1820 and 1830."". Rugbyfootballhistory.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 April 2020. Besoek op 15 April 2020.
  20. (en) "The Home of England Rugby – Twickenham". Rugbyvoetbalunie. Besoek op 5 Julie 2024.
  21. (en) "British & Irish Lions". Britse en Ierse Leeus. Besoek op 5 Julie 2024.
  22. (en) "Scotland is the home of golf". PGA Tour official website. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Oktober 2012. Besoek op 3 Oktober 2012. Scotland is the home of golf …
  23. (en) Fry, Peter (Julie 2000). Samuel Ryder: The Man Behind the Ryder Cup. Wright Press.
  24. (en) "Sir Nick Faldo drives on in business world". BBC. 26 September 2012. Besoek op 5 Julie 2024.
  25. (en) Jackson, Peter (3 Julie 2009). "Who was Fred Perry?". BBC. Besoek op 5 Julie 2024.
  26. (en) "The History of British Motorsport and Motor Racing at Silverstone". Silverstone. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 April 2020. Besoek op 9 April 2020.
  27. (en) "Commonwealth Games: Birmingham announced as host of 2022 event". BBC. 21 Desember 2017. Besoek op 5 Julie 2024.

Bronnelys

Algemeen

Eksterne skakels

  Verenigde Koninkryk  
LandeEngelandSkotlandWallisNoord-Ierland
Oorsese gebiedeAnguillaBermudaBrits-Antarktiese GebiedBritse Indiese OseaangebiedBritse Maagde-eilandeFalkland-eilandeGibraltarKaaimanseilandeMontserratPitcairneilandeSint Helena, Ascension en Tristan da CunhaSuid-Georgië en die Suidelike SandwicheilandeTurks- en Caicoseilande
KroongebiedeEiland ManGuernseyJersey
Sowereine militêre basisseAkrotiri en Dhekelië