Doeblet
'n Doeblet (ook dubbelvorm of tweelingwoorde genoem) in etimologie is die benaming vir 'n groep van twee of meer woorde in dieselfde taal met verskillende vorme en oor die algemeen ook subtiele verskillende betekenisse, maar met 'n gemeenskaplike oorsprong. Byvoorbeeld: tabak en twak.
Lede van 'n doeblet is dus altyd kognate (woorde met 'n gemene oorsprong). Die betekenis van die afsonderlike lede van 'n doeblet hou oor die algemeen met mekaar verband, en kan teruggevoer word na 'n gemeenskaplike etimologiese wortel.
Lede van 'n doeblet kan almal erfwoorde wees, maar hulle kan ook op ander maniere in die taal opgeneem word. So kan die een woord byvoorbeeld 'n regstreekse erfwoord wees, terwyl die ander 'n aanpassing van dieselfde grondwoord is waaruit die eerste ontstaan het, en daarmee in werklikheid 'n leenwoord is.
Voorbeelde
[wysig | wysig bron]- aartappel en ertappel
- daarom en darem
- hartelik en hartlik
- vroue en vrouens
- teenpraat en teëpraat
- twak en tabak
Verskille in gebruik
[wysig | wysig bron]Verskillende subtiele onderskeidings in gebruik van doeblette kan waargeneem word. Kyk byvoorbeeld na die volgende:[1]
Betekenisverskille
[wysig | wysig bron]- Jan is siek, daarom bly hy tuis.
- Jan is darem 'n gawe seun.
Plaaslike of groepsverskille
[wysig | wysig bron]- aartappel en ertappel.
- laagte of leegte.
- agt of ag.
- nege of neë.
Verskille van gevoelswaarde
[wysig | wysig bron]- vlees: Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. (In hierdie geval rym vlees met gees, en dit is bowendien ook 'n meer deftige woord).
- vleis: Die man koop 'n kilogram vleis.
Funksieverskille
[wysig | wysig bron]Byvoorbeeld die gebruik van daarom as 'n bindwoord teenoor darem as 'n bywoord.
Letterlike en figuurlike gebruik
[wysig | wysig bron]- grys: Sy dra 'n grys trui.
- gryse: Dit het in die gryse verlede gebeur.
- geslypte: Die geslypte mes is baie skerp.
- geslepe: Jan is 'n geslepe karnalie.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 A.S.V. Barnes, M.A M.ed (1945) Afrikaanse grammatika en taalkunde vir Afrikaanssprekende leerlinge, standerds VI-X., Nasionale Pers Beperk. . Die boek is beskikbaar in PDF formaat. Verwys na Hoofstuk 19.