Gaan na inhoud

Wes-Yorkshire

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Wes-Yorkshire

Vlag

Wapen

Ligging in Engeland
Seremoniële graafskap Wes-Yorkshire
Oppervlakte 2029 km²
Bevolking 2 299 700 (2016)
Bevolkingsdigtheid 1 133 inw./km²
Distrikte en Unitêre owerhede
  1. Leeds
  2. Wakefield
  3. Kirklees
  4. Calderdale
  5. Bradford

Wes-Yorkshire (Engels: West Yorkshire) is 'n metropolitaanse graafskap in die noorde van Engeland (Verenigde Koninkryk) wat in 1974 volgens die Wet oor Plaaslike Regering (Local Government Act) van 1972 gevestig is. Die graafskap bestaan uit vyf metropolitaanse boroughs of distrikte (City of Bradford, Calderdale en Kirklees in die weste en City of Leeds en City of Wakefield in die ooste) en word begrens deur die graafskappe Derbyshire in die suide, Groter Manchester in die suidweste, Lancashire in die noordweste, Noord-Yorkshire in die noorde en ooste, en Suid-Yorkshire in die suide en suidooste. Teen die middel van 2016 is Wes-Yorkshire se bevolking op 2,3 miljoen beraam.

Die gebied se waterkragbronne en steenkoolvoorrade, wat stoomenjins van brandstof voorsien het, het in die 18de en 19de eeu die basis vir die industrialisering van Wes-Yorkshire gevorm. Nedersettings soos Huddersfield, Halifax en Bradford, almal geleë in die westelike heuwelland, het tot spilpunte van die Engelse tekstielbedryf ontwikkel. Vandag is Wakefield die enigste oorblywende dorp met noemenswaardige tekstielvervaardiging. Ook die steenkoolmynboubedryf het in die laat 20ste eeu dramatiese agteruitgang beleef. Net een enkele myn naby Pontefract is steeds in bedryf.

Tradisionele nywerhede is intussen deur masjienbou, papier- en verpakkingsvervaardiging en ander ligte nywerhede vervang. Leeds, die grootste stedelike nedersetting in Wes-Yorkshire, is tans die vernaamste handel- en nywerheidstad in die graafskap waar bedrywe soos voedselverwerking, elektronika, chemie, meubelvervaardiging, drukkerye en finansies gesetel is. Met twee universiteite is Leeds daarnaas 'n belangrike opvoedkundige en kulturele sentrum.

Eksterne skakels