Skots-Gaelies
Skots-Gaelies Gàidhlig | ||
---|---|---|
Uitspraak: | gaːlʲigʲ | |
Gepraat in: | Verenigde Koninkryk Kanada Verenigde State Australië Nieu-Seeland | |
Gebied: | Skotland Nova Scotia | |
Totale sprekers: | 58 552 in Skotland.[1]
92 400 mense ouer as 3 in Skotland kon tot 'n mate Gaelies praat in 2001[2] met 'n verdere 2000 in Nova Scotia.[3] 1 610 sprekers in die VSA in 2000.[4] 822 in Australië in 2001.[5] 669 in Nieu-Seeland in 2006.[6] | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Kelties Eiland-kelties Goideliese Skots-Gaelies | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet (Skotse variant) | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Skotland | |
Gereguleer deur: | Bòrd na Gàidhlig | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | gd | |
ISO 639-2: | gla | |
ISO 639-3: | gla | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Skots-Gaelies (Gàidhlig /ˈgaːlʲigʲ/; vroeër ook Ersies genoem) is die inheemse Keltiese taal van Skotland wat oorspronklik in die hele land gebesig is, insluitende die Skotse koningshof.[7] Dit is oor die eeue geleidelik verdring deur Skots en Engels en word vandag - ná twee eeue van dramatiese agteruitgang - nog deur klein taalgemeenskappe op die Hebride-eilande, in die westelike Skotse Hoogland en in Glasgow gepraat wat tot 'n belangrike kulturele en opvoedkundige sentrum vir Gaeliese taal en kultuur ontwikkel het. Baie mense praat egter nie Gaelies as hulle moeder- of eerste taal nie. Veral in Glasgow, waar 'n tiende van alle Gaeliessprekers saamgetrek is, word Skots-Gaelies oorwegend as 'n tweede taal gebesig. Gaeliessprekers is ook Engels magtig.
Skots-Gaelies maak deel uit van die Goideliese groep van Eilandkeltiese tale en is nou verwant met Iers en Manx. Die nou taalverwantskap met Iers is te danke aan die immigrasie van Ierse Skote sedert die 4de eeu.
Skots-Gaelies moenie verwar word met Skots nie, die Germaanse omgangstaal van Skotland, wat uit die Angel-Saksiese dialekte van Suid-Skotland ontwikkel het.
Die ou naam Ersies verwys na die feit dat Skots-Gaelies deur moedertaalsprekers tot by die 17de eeu as 'n soort Iers beskou is. Iers het destyds in Skotland selfs as skryftaal vir die Skots-Gaeliese dialekte gedien. Die naam Ersies (Engels: Erse) is afgelei van "Iers".
Geskiedenis
Gedurende die 4de eeu het Iers-Gaeliese setlaars veral uit die klein koninkryk Dál Riata in die noorde van Ierland hulle in die nabygeleë Skotland gevestig. Twee koninkryke met hierdie naam het eeue lank in Ierland en Skotland bestaan. Alhoewel die Ierse immigrante groot dele van Skotland verower het, het die Ierse of Skots-Gaeliese taalgebied nooit die hele Skotland beslaan nie.
Die eerste bronne, wat 'n selfstandige ontwikkeling van die Skots-Gaeliese taal aandui, is in die Book of Deer uit die 10de eeu bewaar. Sy inkonsekwente spelling bevat besonderhede van die afwykende Skotse uitspraak, alhoewel Skots-Gaelies in hierdie tydperk eerder as 'n Ierse dialek beskou moet word. Die eerste bron, wat as bewys vir die ontwikkeling van 'n selfstandige Skotse taal naas Iers-Gaelies kan dien, is die Book of the Dean of Lismore uit die vroeë 16de eeu. Die boek bevat Skots-Gaeliese tekste met 'n spelling, wat sterk op die destydse uitspraak van Skots steun. Hierdie besonderheid stel taalnavorsers in staat om die destydse uitspraak nader te ondersoek.
Daar word nou algemeen aanvaar dat Skots-Gaelies tussen die 10de en 12de eeu sy eie kenmerke ontwikkel het en vanaf die 14de of 15de eeu as 'n selfstandige taal begin ontwikkel het.
Terwyl Skots-Gaelies in die suidelike en oostelike gebiede van Skotland dikwels reeds in die Middeleeue deur Engels verdring is, het die verengelsing van die westelike hoogland eers in die 18de of 19de eeu begin. Veral eksterne invloede soos die verval van die clan-stelsel ná 1745 en skoolplig, wat in 1872 ingevoer is en alle kinders uitsluitlik aan Engels as onderwystaal blootgestel het, word as die hoofredes vir die agteruitgang van Skots-Gaelies aangevoer. Kinders is dikwels selfs gestraf sodra hulle op skool Gaelies gepraat het.
Grammatika
Selfstandige naamwoorde
Die taal ken twee taalkundige geslagte mannelik en vroulik en vier naamvalle: nominatief, genitief, datief en vokatief. Die datief word nie sonder 'n voorsetsel gebruik nie. Die vokatief is veral by name van persone belangrik. As mens oor Donald praat, word Dòmhnall gesê, maar as hy aangespreek word, is dit A Dhòmhnaill wat die uitspraak baie verander.
Die verandering van D -> Dh in Dhòmhnaill is 'n voorbeeld van mutasie, wat ook in die grammatika van ander moderne Keltiese tale 'n belangrike rol speel. In Skots-Gaelies is mutasie vrywel beperk tot lenisie, maar die reëls vir sy gebruik is kompleks.
Daar is net 'n bepaalde lidwoord soos "die" in Afrikaans, nie 'n onbepaalde soos "'n" nie.
- Taigh - huis, 'n huis
- An taigh - die huis
Taigh is mannelik en kry die lidwoord an, maar vir vroulike woorde wat begin met b, f, m, p, c or g is die lidwoord a' gevolg deur lenisie.
- Caileag meisie, 'n meisie
- A' chaileag - die meisie
Lenisie van f tot fh laat die f-klank verdwyn. Fh is (meesal) stom en die lidwoord is an in dié geval.
- Fearg - an fhearg - woede, die woede
Werkwoorde
'n Eienaardigheid van die taal is dat daar nie woorde vir "ja" en "nee" bestaan nie. 'n Bevestigende antwoord word gegee deur die werkwoord van die vraag ontkennend of bevestigend te herhaal.
- An robh iad a' seinn? - Het hulle gesing?
- Cha robh! - (Hulle) het nie.
"Robh" is die verlede tyd van die werkwoord "bi" (wees), maar in die afhanklike vorm, wat in vraende en ontkennende sinne gebruik word. Die onafhanklike vorm is "bha" en dit word by bevestiging gebruik:
- An robh iad a' seinn? - Het hulle gesing?
- Bha! - (Hulle) het.
Naas die afhanklike en onafhanklike vorme het 'n werkwoord ook nog 'n betreklike vorm wat in 'n bysin gebruik word.
Verwysings
Wikimedia Commons bevat media in verband met Skots-Gaelies. |
Sien Skots-Gaelies in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
- ↑ CnaG ¦ Census 2001 Scotland: Gaelic speakers by council area
- ↑ "News Release - Scotland's Census 2001 - Gaelic Report" from General Registrar for Scotland website, 10 October 2005. Retrieved 27 December 2007
- ↑ "Oifis Iomairtean na Gaidhlig
- ↑ "Language by State - Scottish Gaelic" on Modern Language Association website. Retrieved 27 December 2007
- ↑ "Languages Spoken At Home" from Australian Government Office of Multicultural Interests website. Retrieved 27 December 2007
- ↑ Languages Spoken:Total Responses from Statistics New Zealand website. Retrieved 5 August 2008
- ↑ Glasgow City Council: Gaelic. Besoek op 7 Januarie 2018
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Kelties | ||
---|---|---|
Eiland-Keltiese tale | ||
Goidelies: | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies (Skotland • Kanada) | Manx-Gaelies | Galweegse-Gaelies † | |
Britonies: | Wallies | Kornies | Bretons | Cumbries † | Piekties † | |
Vasteland-Keltiese tale | ||
Vasteland-Keltiese tale: | Gallies †: | Leponties † | Galaties † Keltiberies † | |
Gemengde Tale | ||
Gemengde Tale: | Shelta | Bungee † | |
† Uitgestorwe |